Allister Coetzee Springbok Coach

Allister Coetzee is nie die swak Bok-skakel nie

Sep 16 • Analysis, General News, Pale Toe, Springbok News, Springboks • 972 Views • No Comments on Allister Coetzee is nie die swak Bok-skakel nie

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #paletoe het gaan krap waar dit jeuk; by SARU en sy raadslede wat verantwoording oor Springbok rugby moet doen.

Die laaste paar weke was seker van die mees emosionele ooit in die geskiedenis van die Springbok.

Net die nuus oor Kamp Staaldraad en Rudolph Straeuli se manewales met die Springbokke in 2003, het meer openbare reaksie oor die Springbokke uitgelok as nou.

Daar is kenners wat meen dat als wat verkeerd loop by die Bokke , aan transformasie toegeskryf moet word. Dan is daar ʼn ander groep wat Allister Coetzee se kop eis vir voor-die- hand- liggende redes oor die Springbokke se vertoning.

Intussen word daar niks gerep vanuit die paleis van SA Rugby in Tygerberg, Kaapstad nie. Oregan Hoskins, wat in 10 jaar se tyd nie aanvaarbare transformasie van rugby kon bewerkstellig nie, is weg. Jurie Roux wat beheer het oor SARU se Uitvoerende Komitee het, regeer eintlik SARU se doen en late.

SARU het een van die mees argaïese en chaotiese bestuurstelsels. Die Uitvoerende Komitee slaan die kitaar terwyl die Presidentsraad, bestaande uit die provinsiale unies se presidente die “aandeelhouers” is. Jurie Roux bepaal watter unies kry Toetse wat op sy beurt weer die groot inkomstes verseker. Intussen is die wolk rondom Roux en die beweerde geldskandaal by die Universiteit van Stellenbosch nog vêr van afgehandel en duur die Valke se kriminele ondersoek voort.

Te midde hiervan het Fikile Mbalula al hoe meer druk op SARU geplaas om ʼn transformerende hoofafrigter aan te stel. Heyneke Meyer het hierdie lont lank reeds sien brand en laat spaander, net vir Hoskins om vir Coetzee op sy velkleur te laat aanstel as die volgende hoofafrigter van die Springbokke.

Coetzee was Jake White se agterlynafrigter in 2007 en het op ʼn stadium so gesukkel dat dit nodig was vir White om Eddie Jones in te kry om te kom help.

Eintlik behoort ʼn mens vir Coetzee jammer te voel, want Hoskins het hom gebruik om die regering tevrede te stel met ‘transformasiebeloftes’, terwyl Coetzee myle uit sy diepte as hoofafrigter is.

Só graag wou Coetzee die Bokafrigetrspos gehad het, dat hy Roux en Hoskins toegelaat het om Maties se hoofafrigter, Chean Roux en Mzwandile Stick aan te stel. Stick is die Bokke se agterlynafrigter wat geen Superrugby ervaring het nie en op 31-jarige ouderdom eerder handtekeninge by spelers soos Bryan Habana moet gaan vra as om te poog om hulle af te rig.

Nou huil Suid Afrika se Bokondersteuners lang trane en SARU voel ʼn veer.

Een van die beste rugbybreine in die moderne era, het week na week sukses met sy “Bokspan” in Frankryk.

Ek het met Jake White as afrigter van een van die mees suksesvolle Springbokspanne in 2009 te doen gekry en later as afrigter van die Brumbies. White is ʼn tipiese Hollander; luid en selfversekerd. Daar word nou nog gewonder oor sy vermoë om statistiek uit die lug te gryp en dit nonchalant te meld in sy breedvoerige manier van antwoord.

White was baie dinge en baie dinge nié; hy was een van die meeste gehate afrigters van die moderne Springbok-era omdat hy die SARU-raad direk aangevat het oor hul bestuurstyl. White was vir hulle ʼn openbare verleentheid en allermins hul marionet. Na White ontslaan is, skaars ʼn week na die Bokke se internasionale rugbysukses, het alle rugbydeure vir hom toegeklap; hy kon geen professionele afrigtingspos in SA kry nie, selfs al was hy vir die tweede keer die IRB se afrigter van die jaar.

Maar White was die man wie die Brumbies in twee jaar kon transformeer na Superrugby-finaliste, die Sharks as konferensiewenners kon afrig in 2014 na slegs een seisoen terug in die land en ʼn span wat op enige gegewe tyd tussen ses en nege swart spelers ingehad het.

White het Tonga in 2014 getransformeer na ʼn span wat op een wedstryd na, skoonskip kon maak op hul Europese toer en tans is White een van die beste internasionale afrigters met ʼn pedigree so lank soos die doellyn.

Sy intelligensie as afrigter is welbekend en hy het ʼn rêrige belang om weer die Springbokke af te rig en aan die land se kwota kodes te voldoen teen 2019.
White is op die oomblik die regte afrigter vir die Bokke. Hy het reeds in 2005 voldoen aan die kwota verwagting en beide die Wallabies en die Kiwi’s hier op eie bodem met ʼn span van tussen agt en nege swart spelers geklop.

Een van die mees tragiese feite is dat Oregan Hoskins nie in staat was om sy persoonlike belange en selfsugtige eiegeregtigheid oor die Springbokke te laat vaar nie, wat gelei het na persoonlike vetes met afrigters.

In sy boek “Politically Incorrect” vertel Peter de Villiers hoe Oregan Hoskins alle deure vir Coetzee wou toemaak nadat Coetzee sonder Hoskins se medewete met die pers oor SARU gepraat het.

“Hy sal, vir solank as wat ek in beheer is, nooit afrig in Suid Afrika nie”, het Hoskins blykbaar aan de Villiers gesê.

Intussen was Coetzee die konigmaker vir Hoskins en Mbalula met Jurie Roux en Louis von Zeuner, voormalige assistent Hoof uitvoerende beampte van ABSA en SARU uitvoerende raadslid, belangstellende toesighouers in die gange met die diep pool matte in Tygerberg.

Beide Hoskins en Roux het in stroopsoet taal vroeër vanjaar toe Coetzee as Bokbreier aangekondig is, aan my vertel dat SARU se teikens oor kwotas haalbaar is “en nie noodwendig op die rugbyveld uitgestal word nie.”

Hoskins en veral Roux het ʼn arrogante manier om joernaliste wat ongemaklike vrae vra, op perskonferensies te probeer verkleineer.

Hoskins en sy trawante het in 10 jaar se tyd stelselmatig afgebreek aan die vooruitgang wat rugby op alle gebiede moes maak, veral ten opsigte van die ontwikkeling van briljante swart spelers.
Eie belang het die Springbokdroom gekelder en Coetzee is SARU se marionet.

Saterdag draf daar 23 nasionale helde uit op die stadion in Christchurch en al word hulle afgerig deur ʼn afrigter wat ten beste sy Superrugby span konferensiewenners kon maak, sal die spelers die oomblik aangryp.

Die feit dat die wedstryd in koue, nat weer gespeel gaan word, maak dit makliker vir die spelers om die All Black masjien in toom te hou. Reën is altyd ʼn gelykmaker en dit is wat die Springbokke nodig het Saterdag- ʼn gelykmaker sodat die vernedering gespaar word wat sy oorsaak het in die raadsale van die magtige SARU.

Soos na die Straeuli tydperk in 2003 sal die Bokke weer verrys.

Dit mag dalk nodig wees om boomskraap te wees en dis nooit lekker om vandaar te verrys nie.

Dis egter belangrik om te besef dat ons swak speel omdat ʼn eersugtige president sy eie, selfsugtige belang gedien het vir 10 jaar en rondom hom ʼn alliansie van lojales opgerig het. Suiwer politiek was vir hom goed genoeg, eerder as om werklike transformasie te inisieer.

Dis tyd om daardie hoofstuk te sluit en als wat nodig is te doen om die Bokke in die res van Kampioenskapsreeks te ondersteun.

Enersyds poog hierdie artikel om die gesprek na buite te voer met die hoop dat eerbare leiers sal opstaan en ter wille van die Springbok en die draers van die Groen-en-Goud op te tree om ons weer die gerespekteerde rugbynasie van vroeër te maak.

Andersyds probeer die artikel enersdenkende joernaliste wat nie na His Masters’ Voice dans nie, te ondersteun om ʼn dringende verandering in ons geliefde Bokspan te bewerkstellig, want die Springbokke is ons s’n.

Related Posts