BOELIE-BULLS VERNIEL DIE SHARKS

Mar 11 • General News • 1189 Views • Comments Off on BOELIE-BULLS VERNIEL DIE SHARKS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

“Ons is verniel”.

Dit was die woorde van die Sharks se hoofafrigter en voormalige BlouBul, Robert du Preez, Saterdag nadat die Bulls op Loftus Versveld sy span met 37-14 geklop het.

Die Bulls het drie drieë teenoor die Sharks se twee gedruk.

Die Pretorianers is stert in die lug nadat hulle die afgelope vier weke met drie plaaslike franchises afgereken het. Die Sharks, daarenteen het hul laaste twee derbies verloor.
Beide spanne gaan in ʼn loslootjie-week in en du Preez en sy span sal versigtig gaan ontleed wat verkeerd gegaan het sedert sy span die Sunwolves weg en die Blues tuis, gelooi het. Sedertdien het die Stormers en die Bulls gesorg vir ʼn nagmerrie twee weke vir die Durbaniete.

“Die derbies is ongelooflik fisies. Die span wat die meeste aggressie en fisieke spel toon, kom bo uit en ons was in daardie gevalle tweekeer namekaar aan die ontvangkant. Om hier in ʼn derby te kom speel is soos om in ʼn Toetswedstryd te speel.”

Sigbaar ontsteld oor sy span se vertoning, was du Preez egter vol lof vir die Bulls. “dit was ʼn kliniese vertoning, hulle het ons stuk-vir-stuk afgebreek, veral in die eerste 20 minute…ons kon nie aan die gang kom nie en ons het foute gemaak, strafskoppe afgestaan.”

Du Preez was veral beïndruk met Schalk Brits en Duane Vermeulen se spel, “jy kan sien Handre beheer die spel vanuit die agterlyn, so ek dink hulle is in ʼn goeie plek met goeie ondersteunende spelers en doen regtig goed.”
Die probleme het volgens hom voorlangs begin, “as jy nie momentum voorlangs kry nie, gaan jy altyd opvang-rugby speel.”

Die Stormers, Lions en Sharks was tot dusver almal aan die ontvangkant van ʼn Bulls span wie se wen-boublokke verlede jaar deur John Mitchell gelê is.

Vir du Preez en sy afrigtingspan sal dit noodsaaklik wees om nuwe, wenplanne te maak, voordat die Bulls op 30 Maart na Durban reis om dit twee-uit-twee te probeer maak.

Na die loslootjie-week, speel die Bulls tuis, op 23 Maart teen die Waikato Chiefs, wie op ʼn verrassende wyse, voos geslaan is deur vier nederlae tot dusver in vanjaar se toernooi.

Die Sharks sal op hul tuisveld, die Australiese Rebels inwag (23 Maart) en sal hoop om ʼn ommekeer in hul aanslag om vanjaar se SuperRugby-kroon te maak.

-Simon Riekert (Johannesburg)

@Nader_pale_toe

BOELIE-BUL: Jesse Kriel maak gereed om ‘Sbu Nkosi af te stamp, terwyl Rosko Speckman hulp verleen. Foto: Jorina Raath/speedshots/15.co.za

Related Posts

« »