BOKBREIER KRY DIE TREKPAS

Feb 2 • General News, National, Pale Toe, South Africa, South Africa, Springbok News, Springboks • 3719 Views • Comments Off on BOKBREIER KRY DIE TREKPAS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
ALLISTER COETZEE, GEWESE SPRINGBOKAFRIGTER Photo: Gordon Arons

ALLISTER COETZEE, AFGEDANKTE SPRINGBOKAFRIGTER
Foto: Gordon Arons/Freelance Media Images

SA Rugby het in ‘n buitengewone aankondiging vanoggend bekendgemaak dat hulle ‘n ooreenkoms met Allister Coetzee, die beleërde Bokbreier aangegaan het waarvolgens hy met onmiddellike effek van die pos onthef is.

Volgens Saru se media vrystelling sal sy Rugbydepartement die verantwoordelikheid van die Bokbreier oorneem tot tyd en wyl die afrigting- en bestuursgroep vir 2018 later vandeesmaand aankondig word.

Coetzee was die afgelope tyd onder skoot na sy span se swak vertoning in 2017 en 2016 (11 uit 25 Toetse gewen met ‘n 44% suksesrekord).  Coetzee het ook verlede week bekendgemaak dat hy en die hoofuitvoerende beampte van Saru, Jurie Roux samesprekings oor sy toekoms gehad het en dat Roux gemeld het dat indien hy (Coetzee) sou aanbly by Saru, hy slegs ‘n seremoniële Bokafrigter sou wees. Coetzee het by wyse van sy verteenwoordigers, Sport Employees Unite aan Saru geskryf dat hy ontevrede is oor die behandeling wat hy kry. Volgens Coetzee is hy tydens die vergadering meegedeel dat sy kontrak beëindig sal word en dat Rassie Erasmus, Direkteur van Rugby by Saru, die Springbokke in 2018 sal afrig.

Coetzee het ook blykbaar gemeld dat sy prestasiebeoordeling, wat deel uitmaak van sy kontrak, nog nie plaasgevind het nie en dat hy deur Saru se toedoen, gedoem is vir ondergang.

Vroeër verlede jaar het die oud-Bokafrigter Jake White aan die media gesê dat dit onregverdig sou wees om slegs vir Coetzee aanspreeklik te hou vir die Springbokke se swak vertonings en dat die prestasiebeoordeling uitgebrei moet word om die hele Saru in te sluit.

Coetzee het in sy gesamentlike verklaring met Saru gesê dat hy Springbokrugby nog altyd na aan sy hart gekoester het, maar dat die tyd aangebreek het vir hom en die span om nuwe weë te vind. “Ek wens Springbokrugby alle sukses toe vir die toekoms-soos ek nog altyd gedoen het.”

 

-Simon Riekert #paletoe

Related Posts

« »