Breier groet met ‘n swaar hart

Jan 16 • General News • 4743 Views • Comments Off on Breier groet met ‘n swaar hart

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

IMG_7829-0.JPG

Skrywer: Carli Koch – Rugby 15
Foto: Hennie Homann

Suid-Afrika neem eersdaags afskeid van een van die land se mees gerekende afrigters nadat die Steval Pumas se Jimmy Stonehouse bedank het.

“Ek het nie my doelwit met die Pumas bereik nie. Inteendeel, ek wou die eindstryd van die Vodacom-beker gewen het en ek wou die halfeindstryd van die Curriebeker-premierdivisie gehaal het. Dié geleenthede het my net-net ontwyk en dit is vir my die swaarste.”

Die Pumas se eerste wedstryd teen die Blou Bulle sedert hulle in 2013 Mbombela hul tuiste gemaak het, is Stonehouse se kosbaarste herinnering wat hy saam met hom vat.
“Ek sal ook nooit die promosie-relegasiewedstryd aan die einde van 2013 teen die Griekwas vergeet nie.”

Die 50-jarige sal môre vir die laaste keer as hoofafrigter by die Pumas Indaba voor die span verskyn waarna hy op Saterdag 4 April na die Toshiba Brave Lupus in Fuchu vir ‘n twee jaar lange kontrak vertrek. MJ Mentz, voormalige hulpafrigter en die kondisioneringsafrigter, Corné Steenkamp sal voorlopig die leisels oorneem. “Die gemeenskap moet agter hulle staan. Die bal is nou in hulle hande en ek glo in hulle.”

Verlede week het Stonehouse sy bedanking by die Mpumalanga Rugby-unie ingedien.

Sosiale media het van kommentaar gegons en vrae soos ‘hoekom het hy nooit die geleentheid gekry om die Bulle af te rig nie?’ en selfs ‘wanneer hy terugkom, kan hy die Bokke afrig?’ is deur aanhangers gevra. “Ek gebruik nie sosiale media nie. My seun vertel vir my wat gesê word en 99 persent van die kommentaar was positief. Ek vat dit wat die publiek vir my sê saam met my en dit is waaraan ek myself meet. Jy vra jouself dan ook af: Is ek goed genoeg? Maar ek het ‘n droom om die Bulle af te rig, maar die geleentheid het nog nie oor my pad gekom nie.”

Tydens ‘n onderhoud met Laevelder, het hy gesê dat hy nie voel asof Suid-Afrikaanse rugby hom nie ‘n kans gegee het nie. “Ek sal ewig dankbaar wees vir SA rugby. Ek was deel van die Tbilisi-toernooi, ek het die SA Barbarians wat teen Engeland gespeel het afgerig en die Royal Bafokeng-span wat teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het. Ek was ook by die Springbok Vroue Sewesspan betrokke wat die Afrika-toernooi gewen het. Ek sê vir die president van die unie, Hein Mentz baie dankie dat hy my sewe jaar terug die kans gegee het om by provinsiale rugby betrokke te raak. Dit bly tog ‘n hartseer hoofstuk dat ek nie by ‘n Superrugby-franchise betrokke was nie, nie eers as hulpafrigter nie. Daarom is ek genoë om die besluit te neem.”

Watter twee spelers sal jy kies wat tydens jou tyd as afrigter jou die meeste beïndruk het? “Beslis Corné (Steenkamp) en Renaldo (Bothma). Corné is ‘n ongelooflike eerlike, opregte, lojale en hardwerkende persoon met baie integriteit. Renaldo is ook baie lojaal met baie talent en hardwerkend.”

Alhoewel Stonehouse vir eers sommer met ‘n fiets die strate van Fuchu gaan invaar, sien hy ook uit om die wêreld te gaan verken. “Ek moet die skuif maak om my raklewe te verleng en weens die feit dat helfte van die spelers Engels is, gaan dit maklik vir my wees om aan te pas.

“Daar is ‘n hele paar groot name soos Frans Steyn, Richard Kahui (Nieu-Seeland) en Cooper Vuna (Melbourne Rebels) wat vir Toshiba speel en ek sien uit om by hulle te leer.”

Dit lyk darem of daar lig aan die einde van die tonnel is. Stonehouse sal beslis terugkom Suid-Afrika toe, maar sodra sy tyd in Japan op is, wil hy ‘n Superrugby-franchise afrig, maak nie saak waar nie.

Related Posts

« »