BULLS SKIELIK SONDER SY HUB

Apr 24 • General News • 1545 Views • Comments Off on BULLS SKIELIK SONDER SY HUB

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Simon Riekert

’n Jaar later en die Bulls sit weer sonder ’n Hoof Uitvoerende Beampte.

Meyer verlaat die Bulkraal aan die einde van Mei 2020, blykbaar weens “persoonlike redes.”

Sy kontrak by die unie sou eers teen die einde van 2020 verstryk het.

In ’n kort bewoorde mediaverklaring is daar Vrydag aangekondig dat Meyer bedank.

Die Blou Bulle Maatskappy se Raadsvoorsitter Pieter Uys het die unie se dank vir Meyer se diens uitgespreek; “ Ons wil Alfons graag bedank vir die goeie bydrae wat hy aan die maatskappy gelewer het. Hy was die afgelope jaar instrumenteel in die her-strukturering van die Blou Bulle Maatskappy en laat ’n sterk fondasie na waarop die maatskappy kan voortbou. Sy bydrae het gemaak dat die span weer die wêreldklas span geword het van weleer. Ons respekteer Alfons se besluit om te bedank en ons wens hom sterkte toe met sy planne vorentoe.”

Die President van die Unie, Willem Strauss het kort en kragtig reageer by die aankondiging; “Namens die Blou Bulle Rugbyunie wens ons vir Alfons als van die beste toe vir sy toekoms.”

Strauss was baie beïndruk by Meyer se aanstelling sowat ’n jaar gelede,

“ Ons is buitengewoon opgewonde oor die aanstelling van Meyer en ons glo vas dat hy die man is om die Bulls se handelsnaam uit te brei.”

Meyer het gesê dat hy sy tyd by die Bulls deeglik geniet het en dat dit die hoogtepunt was van sy professionele loopbaan.

“2019 was ’n uitsonderlike jaar om deel te kon wees van die Vodacom Bulls se SuperRugby- aanslag en om ’n leidende rol te speel om Mnr. Pratice Motsepe as deel van die #BullsFamily en as belegger in te trek. Dit was ’n voorreg. Ek wens die personeel en spelers alles van die beste toe, veral in hierdie uitsonderlike tye, ek bly ’n lojale ondersteuner vir altyd!”

Meyer se kort loopbaan by die Bulls het begin toe die trotse unie gestoei het om finansieel te oorleef.
Hy het Barend van Graan vervang, wie na 35 jaar afgetree het.

Meyer het geen formele ondervinding in sportbestuur gehad toe hy aangestel is nie. Dit was ‘n belangrike kwalifikasievereiste toe die pos geadverteer is, maar die raad van direkteure het hom verkies weens sy uitstekende finansiële agtergrond.

Voordat Meyer die HUB-pos by die Bulls aanvaar het, was hy besturende vennoot by PWC Consulting Services en ook besturende direkteur by IBM Business Consulting Services.

ALFONS MEYER het bedank as HUB van die Blou Bulle Maatskappy. Foto: verskaf/15.co.za

Related Posts

« »