Coetzee verras alweer vir die verkeerde redes

Nov 12 • Analysis, General News, Springbok News, Springboks • 2361 Views • Comments Off on Coetzee verras alweer vir die verkeerde redes

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Kom ons wees nou maar eerlik, die einde van die jaar Toetse is veral vanjaar nie dit waarna ons uitsien nie en dis so asof ʼn mens heimlik hoop op die feit dat die rugbyseisoen genadig moet afsluit.

Maar Saterdag wag daar ʼn verassing op een van die twee spanne wat op Twickenham in Londen uitdraf. Waarskynlik nie die tipe verassing wat die Amerikaners vandeesweek oor hul President gekry het nie. Maar ʼn mens moet vra, kan die Bokke verras en die hoog aangeskrewe Engelse verras in hul eie agterplaas?

Die kennersmenings is dat dit broekskeur sal gaan, eintlik onmoontlik, maar dan is daar ander oud-Bokke wat die span altyd ʼn kans sal gee, mits daar sekere planne in plek val.

Net vyf spelers van die groep wat gelykop teen die Barbarians gespeel het, is in die amptelike Toetsspan teen Eddie Jones se Engelse; Beast Mtawarira (stut), Pieter-Steph du Toit (flank), Rudy Paige (skrumskakel), Pat Lambie (losskakel) en Francois Venter (buitesenter).

Soos wat Allister Coetzee al teen hierdie tyd gewys het, is daar keuses wat die wenkbroue laat rys, soos om ʼn baie, baie gemiddelde agterlyn teen die Engelse in te span.

Wat Damien de Allende in die nommer 12-trui soek, is ʼn misterie. ʼn Mens wil amper vir Coetzee vra of hy nie die Barbarian wedstryd gekyk het nie, want waar is Rohan Janse van Rensburg? Hy en Francois Venter het verlede Saterdag gewys dat hulle die Springbok senterpaar van die toekoms kan wees, mits hulle saam gekies word. Coetzee het juis voor die vertrek Europa-toe gesê dat hy na spelers en kombinasies gaan kyk, iets wat hy beslis nie gedoen het vir Saterdag se wedstryd nie.

Rudy Paige, Pat Lambie (wat nog sukkel met harsingskudding), JP Pietersen en Willie le Roux (wat hy sedert die Ierse Toetsreeks nie weer deel van die Bokgroep gemaak het nie), de Allende (verdien nie kommentaar nie) en Ruan Combrink (wat na ʼn ernstige beenbesering terugkom) gekombineer met Francois Venter, die enigste speler op meriete in die agterlyn. Dit skep nou nie juis onuithoudbare vrees vir ʼn span soos die Engelse nie.

Voorlangs speel die voormalige speler van die jaar en die huidige een saam; Lood de Jager en Pieter-Steph du Toit. Du Toit is op no.7-flank gekies en Toks van der Linde som dit mooi op, “wie is die baljagter, want met Pieter-Steph, Willem Alberts en Warren Whitely as die lostrio, is daar nie ʼn bekende fetcher nie.”

Vincent Koch, Adriaan Strauss en Beast Mtwarira vorm die voorste linie en daar word verwag dat die Bokke die vaste fasette sal probeer domineer.
“Speel dit wat jy sien”, is die voormalige Blou Bul-, Bulls- en Springbok spanbestuurder Wynie Strydom se raad.

Wynie meen dat die span se enigste kans op sukses lê in skoppe (strafskoppe, skepskoppe en taktiese skopwerk) en dat die voorspelers sal moet domineer om die agterlyn kans te gee om enigsins in die Engelse se gebied te kom.

Vir Piet Strydom, voormalige administratiewe bestuurder van die Sharks lê die kans op Saterdag se sukses by ʼn speler soos Pieter-Steph du Toit en sy vermoë om sy werkstempo nóg hoër te lig.

“Hy of Alberts sal die los balle moet jag en as dit nat en sag is op die veld, sal hierdie werk al hoe belangriker word.”

Dis egter die feit dat Coetzee nie die kans aangegryp het om sy volgende Springbokkaptein aan te wys en speelkans te gee nie, wat die meeste verras.

“Ons weet mos Adriaan het kennis gegee en dis nou die tyd om jou opvolger aan te wys en die pad met hom te begin loop, ter wille van die spelers en die kontinuïteit wat ontbreek”, sê Piet Strydom.

Dan is die Eddie-faktor nog daar. Uitgeslape en ewe uitgesproke, en met reg só want wie is daar beter wat weet hoe die Springbokke se koppe werk.

Die man wat kortkom in die Springbok afrigterskorps, Jake White het die einste Jones met groot sukses in 2007 ingespan.
Wysheid, waagmoed en hoop, bly oor.

Maar veral hoop.

Die span lyk só:

1

2

Simon Riekert www.rugbyfifteen #paletoe

Related Posts

« »