CURRIEBEKER EINDSTRYD: RUGBY IS WEER LEKKER!

Oct 21 • Analysis, General News, National, Pale Toe • 1809 Views • Comments Off on CURRIEBEKER EINDSTRYD: RUGBY IS WEER LEKKER!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

“Elke eindstryd het sy momente, sy helde en sy oomblikke en dit gaan Saterdag weer so wees”- Naas Botha

Die Curriebeker kompetisie van 2016 se eindstryd is hier, en te midde van ʼn groot dragsel negatiwiteit oor Springbokrugby, is Bloemfontein en Pretoria se mense opgewonde oor hul Curriebeker spanne se prestasie om die eindstryd te haal.

Beide spanne se afrigters is jong manne wat met ewe jong spelers waag en dit dra ʼn nuwe, vars bries na vore in ʼn rugby omgewing wat wil-wil vrot van negatiwiteit.

Franco Smith se Vrystaat-manne is onoorwonne tot dusvêr hierdie seisoen en Nollis Marais se jong Bulle beskou hulself as ‘bevoorreg’ om Bloemfontein toe te gaan vir die eindstryd.

Vir albei spanne se spelers is dit ʼn nuwe ervaring-van die manne was nog op skool toe die Bulle en Vrystaat in 2009 in die eindstryd gespeel het wat die Blou Bulle met 36-14 gewen het. Nou is dit hulle beurt om geskiedenis te maak, want geskiedenis gaan gemaak word omdat die Goue Leeus verlede naweek as Curriebeker wenners van 2015, deur die einste Cheetahs uitgeskakel is.

“Die Leeus het laasjaar met sy Superrugby-span Curriebeker sukses behaal, Jaco Kriel, Warren Whiteley en Franco Mostert was daar”, sê die afrigter van die Goue Leeus, Johan Ackerman.

Naas Botha beaam dit, “die Leeus het gou agtergekom daar is ʼn groot verskil tussen jou begin en bank-15.”

Wynie Strydom reken dat ʼn Curriebeker-eindstryd so ʼn trappie hoër is as die uitspeelwedstryde, “dit lê die basis vir spelers se begin na internasionale rugby, want van hier af is hulle in die Superrugby-span.”

“Die standaard van die semi-finale vanjaar was 100 keer beter as verlede jaar, dit vertel die storie dat die jong manne ernstig is om te bewys hulle is reg vir internasionale rugby en ons kan dieselfde hoë standaard verwag van hulle in die eindstryd”, meen Naas Botha.

“Dit gaan oor een kans wat jy op die dag kry, jou dissipline en jou keuses op die veld, as jy dit regkry en jy speel buite jou vermoë, kan jy wen.”

“Die spanne het nuwe afrigters en hulle sê mos, ʼn nuwe besem vee skoon”, sê Gary Botha, skrumkonsultant van die Bulle.

 

Gary meen ook dat die vaste fasette een van die mees kritiese gaan wees in die wedstryd, “dit en dissipline, want jy kan goed skrum, maar nog steeds foute maak by die afbreekpunte, en dit is wat gaan tel, dit en hoe die spanne die bal gaan dra en beskerm.”

Naas meen die Cheetahs het sukses behaal vanjaar deur hulself aan hoër standaarde te verbind.

“Dis bemoedigend om die jong manne en afrigters te sien deurkom, en die ouens weet dat Saterdag vir hom ʼn geleentheid gaan skep om ʼn Curriebeker wenner te wees en om sy pad na die Springbokspan makliker te maak.”

Die Cheetahs se afrigter, Franco Smith onderstreep die belangrikheid van spankontak, “ek het vroeër vanjaar toe ons sleg speel teen die Boland vir hulle gesê dat dit lyk of hulle nie omgee nie, en hierdie woord ‘omgee’ het ons motto vir die jaar geword.

“Die spelers gee om vir mekaar en ek vir hulle en dit is die resep vir sukses by ons, ons is ʼn eenheid.”

Hy het na verlede jaar se groot verloor teen die Bulle (58 punte) vir die spelers gesê om na die toeskouers te kyk wat teleurgesteld die stadion verlaat, en hulle moet besluit of dit weer gaan gebeur.

Nollis Marais se kernwoord was ‘verantwoordelikheid’. Hy sê dat hy aan die einde van verlede jaar se Superrugby-toernooi, toevallig teen die Cheetahs, op die pawiljoen, tussen die mense gaan sit het.

“Ek kon die teleurstelling in die mense se gesigte sien, teleurgesteld oor hul span vir wie hulle so lief is en ek het hierdie boodskap aan die spelers oorgedra.

“Ja, ons het met ʼn nuwe speelstyl begin en goed gevorder verlede jaar, tot by die semi’s, toe raak ons onseker oor ons speelstyl en verloor teen die WP.

“Hierdie jaar het die manne meer selfvertroue en vertroue in mekaar se speelstyl, en ons kon, wanneer dit rof gaan, vasbyt en die wedstryd deurtrek.”

Marais meen ook dat hulle nie Bloemfontein toe gaan om die beker aan die Cheetahs oor te gee nie,” ek het respek vir Franco-hulle, maar as hulle die beker wil wen, moet hulle die beste span op die veld wees.”

“Vrystaat is beslis die gunstelinge, maar elke finaal bring sy eie helde en verassings, hierdie een gaan nie verskil van die voriges nie”, meen Johan Ackermann.

Beide afrigters meen dat dit ʼn misleiding is om te dink dat die Curriebeker afgewater is; “jy kan nie sê dat die kompetisie afgewater is nie, kyk na verlede naweek se semi’s in Bloemfontein en in Pretoria, mense was daar om hul spanne te ondersteun en het passievol geraak oor hul spanne se kanse”, sê Nollis Marais.

Tussen 42 000-45 000 kaartjies is verkoop vir die Bloemfonteinse eindstryd en Franco meen ook dat dit die gewildheid van hierdie Suid Afrikaanse tradisie onderstreep.

 

Die spanne, kop-aan-kop

Beide spanne het 9 keer teen mekaar gespeel, in ʼn eindstryd:1973,1975,1977,1978,1981,2004,2005,2006 en 2009.

Die Blou Bulle was 6 keer aan die wenkant, het die beker in 2006 gedeel (28-elk) en Vrystaat was 2keer Curriebeker kampioen (2005 en 1975).

Die Bulle se kookwater 21-jarige slot, RG Snyman word vervang deur Jason Jenkins en Ulrich Beyers is gereed om te speel nadat hy las van ʼn skouer gehad het na die WP-wedstryd.

Die Vrystaat se Nico Lee en uitblinker voorryman Ox Ntché is ook fiks vir Saterdag.

Sou die telling gelykop wees na 80 minute, sal die beker nie gedeel word nie. Volgens die uitspeelreëls word daar ekstra tyd toegevoeg totdat daar ʼn wenner is.

Die spanne lyk só:

Vrystaat Cheetahs: Clayton Blommetjies, Sergeal Petersen, Francois Venter (kaptein), Nico Lee, Raymond Rhule, Neil Marais, Shaun Venter, Neill Jordaan, Uzair Cassiem, Paul Schoeman, Reniel Hugo, Justin Bassonn, Johan Coetzee, Torsten van Jaarsveld, Charles Marais. Bank: Jacques du Toit, Ox Nché, Armandt Koster, Henco Venter, Tian Meyer, Fred Zeilinga, Rayno Benjamin, Conraad Human.

Blou Bulle: Ulrich Beyers, Travis Ismael, Dries Swanepoel, Burger Odendaal, Jamba Ulengo, Tian Schoeman, Rudy Paige, Arno Botha (kaptein), Jannes Kirsten, Roelof Smit, Marvin Orie, Jason Jenkins, Jacobie Adriaanse, Jaco Visagie, Lizo Gcoboka. Bank: Bandise Maku, Martin Dreyer, Pierre Schoeman, Nic de Jager, Hanro Liebenberg, Ivan van Zyl, Joshua Stander, Bjorn Basson.

Skeidsregter: Jaco Peyper (sy tweede Curriebeker eindstryd)

Assistant skeidsregters: Jaco van Heerden, Cwengile Jadezweni

TMO: Marius Jonker

Afskop: 16:00

Simon Riekert #paletoe Rugby15

Related Posts

« »