CURRIEBEKER EINDSTRYD VIR MIDDAGETE #PaleToe

Oct 23 • General News, Pale Toe • 2198 Views • Comments Off on CURRIEBEKER EINDSTRYD VIR MIDDAGETE #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

TussenVierLyne is #Pale Toe! se kristalbal vir plaaslike rugby. Simon Riekert skryf vandeesweek oor die komende Curriebeker eindstryd wat gaan verseker dat ondersteuners van dié edele spel, hout sal begin brand van vroeg tot laat Saterdag.

Wanneer laas het jy ʼn Curriebeker eindstryd teen middagete se tyd op die Hoëveld in 36-grade sonskyn bygewoon?

Wanneer laas was daar soveel verwagting dat ʼn span wie reg deur die jaar die kompetisie gedomineer het, as wenners gekroon sal word?

Wanneer laas was dié span die Rooibontes?

Niemand kan kla dat daar nie genoeg rugby opwinding by hierdie naweek ingeklits is nie. ʼn Bokspan wat die allekragtige All Blacks aanvat om ʼn plek in die eindstryd is net die regte medisyne om die koors deur die dak te lig.

Saterdag-middag is daar vir seker kerrie in die befaamde beker.

Die trotse kompetisie het sy oorsprong in 1892 gehad toe WP die eerste wenners was.

Sedertdien is dit die rugby slypskole van menige Springbok en selfs in die moderne era is daar Springbokke wat nog nooit die voorreg gehad het om die beker omhoog te hou nie.

Maar terug by die twee spanne wat dit om eer moet uitspook in 2015.

Die Goue Leeus se voorgangers het as “Transvaal” bekendgestaan en hulle en die WP was in 1939 die eerste keer slaags om die titel en die trofee. Toe was Transvaal aan die wenkant (17-6) op die WP se tuisveld.

Behalwe vir 1971, toe die Noord Transvalers (Blou Bulle) die trofee met hulle gedeel het op Ellispark, was die Rooibontes 10 keer aan die wenkant. Die laaste wenjaar vir hulle was in 2011 toe hulle die Sharks met 42-16 tuis gewen het.

WP se Curriebeker geskiedenis lyk rooskleurig: 33 keer aan die wenkant en vierkeer ʼn deler (1932 en 1934 teen Grens en in 1979 en 1989 teen Noord Transvaal).

WP is ook die verdedigende kampioene nadat hulle die einste Lions verlede jaar op Nuweland met 19-16 geklop het.

Die twee spanne se jong afrigters Johan Ackermann (Lions) en John Dobson (WP) weet dat daar geen genade gevra en gegee gaan word Saterdag nie.

Die Lions se doel sal wees om hul onoorwonne rekord in vanjaar se kompetisie met die kroon af te sluit, ʼn veldtog wat so byna skipbreuk gelei het verlede naweek teen die Vrystaat.

Daarenteen sal die WP hul trotse eindwedstryd tradisie wil voortsit en die beker behou.

Daar is twee sleutelspelers om dop te hou aan beide kante: Lions losskakel Marnitz Boshoff met ʼn kanonvoet en die WP se kookwater heelagter Cheslin Kolbe.

Boshoff skop nie net goed nie, maar is ʼn goeie baldraer en –verspreider. Die Leeus se spelpatroon was vanjaar gebaseer op ʼn hoë speltempo, akkurate verspreiding, uitstekende losspel en soliede skrum- en lynstaanwerk.

WP het verlede naweek teen ʼn jong Blou Bul span gewys hoe gevaarlik en onvoorspelbaar sy agterlyn is. Die vonk in hul kruitvat is die einste Kolbe, ʼn Springbok Sewes speler wat die “X-faktor” vervolmaak het. WP se voorspelerspel is net so akkuraat en kragtig.

John Dobson het nie gaan karring aan sy wenspan wat die Bulle op Loftus Versveld met 23-18 gewen het nie. Die buitesenter Johnny Kotze se knie het sodanig herstel dat hy kan speel. Juan de Jongh is die kaptein.

Johan Ackermann het drie veranderings aan sy begin vyftiental gemaak, Robbie Coetzee begin as haker en Malcolm Marx skuif na die bank. Kwagga Smit vervang vir Stephan de Witt, wie na die bank skuif en Rohan Janse van Rensburg begin op buitesenter en Stokkies Hanekom skuif bank toe.

Rasta Rasivhenge blaas sy eerste Curriebeker eindstryd, wat om 13:45 afskop.

Kry maar vroeg die limonades en tjoppies gereed, want hierdie een gaan ʼn voorloper van liplekker-rugby wees.

Foto: Anton Geyser

Related Posts

« »