DANKIE SPRINGBOKKE!

Jun 26 • General News • 261 Views • No Comments on DANKIE SPRINGBOKKE!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert-Centurion

Vandeesweek se Woensdag was dit presies 25 jaar gelede waarop Suid-Afrika in die annale van wêreldrugby ingeskryf is, toe die Springbokke van Francois Pienaar die William Webb-Ellis trofee op plaaslike bodem gewen het.

Teen alle verwagtings in, selfs die van die skeidsregter van die dag, die Engelsman Ed Morrison het die Bokke die All Blacks gewen.
Dit was die eerste van die Springbokke se drie wêreldkrone en die eerste jaar van die land se jong demokrasie, 1995.

Nelson Mandela se invloed op die Springbokke se oorwinning is wyd en syd erken, tot vandag toe, maar ten spyte van die hoop wat die oorwinning gebring het vir ’n week of maand of wat, was daar weer emigrasie, huishoudelike-, etniese- en stamgeweld en natuurlik die voortdurende swart-op-wit-op-swart vooroordeel.

In ’n land wat voor die 24ste Junie 1995 wette gehad het om mense uitmekaar te hou, het dieselfde mense daardie aand in die strate gedans van blydskap, wit en swart, saam.

Daar was geen versekering dat die Springbokke die behemotte, die All Blacks sou kan aanvat en ’n sukses daarvan maak nie, maar die hoop het nie beskaam na die openingswedstryd teen die Australiërs op Nuweland nie. Die Aussies was tewens die 1991 kampioene.

Nelson Mandela het die span ’n kans gegun om die land te verenig en te verewig, ten spyte van die verdeeldheid en agterdog wat daar in die land geheers het.

Daardie dag was daar vreugde wat vrees in hoop laat verander het.

Gewone mense het met ontsag van Chester Williams gepraat as jy petrol ingooi, ’n koerant koop en oor rugby begin praat.
Williams se naam was tussen Andre Joubert, James Small en Os du Randt s’n genoem en ’n week vooraf sou die einste Williams volgens die mense kans sien om die ontembare Jonah Lomu in toom te hou.

Die Amabokoboko sou die slagters van reuse word; hulle kón eenvoudig nie verloor nie.

Op daardie koue winters-Saterdagmiddag in Junie sou dit die beste beskikbare span wees wat Kitch Christie die veld kon instuur, ’n span wat teen alle verwagtings in, vriend en vyand verras het om tot hier te kom in ’n Wêreldbekertoernooi.

Selfs Ed Morrison, die skeidsregter was so senuagtig en geïntimideer dat hy homself in afsondering gaan toesluit het op die Woensdag voor die eindstryd.

Die Bokke was helde vir meer as een rede, want mense wat nog nooit of selde rugby gekyk het, het geweet van Francois Pienaar en sy span. Ruben Kruger, Mark Andrews, Joost van der Westhuizen, Japie Mulder, Andre Joubert…die lys was lank, maar die gewone mense van Suid-Afrika het gehoop dat Mandela se droom bewaarheid sou word, dat die onmoontlike gebeur, dat die Springbokke sou wen en die nasie één sou word.

Toe Laurie Kay die Boeing 747 laag oor Ellispark laat duik het en elkeen die woorde “GO BOKKE” kon lees, was die visier gestel vir grootwild op die rugbyveld.

Toe beide spanne na 100-minute soos twee swaargewig boksers in die tiende rondte sleepvoet, stukkend en op reserwekrag elke skrum, lynstaan en agterlynbeweging uitmergel, toe James Small homself soos ’n invalide op die kantlyn moes uitsleep omdat sy bene net eenvoudig nie meer kon nie, toe Os du Rand en Olo Brown vir mekaar sê hulle kompeteer nie meer in die skrums nie, toe die 100 ste minuut aanbreek en Joel Stransky die mees belangrikste drie punte in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis aanteken, was die verwagting verby.

Niks wat die paar weke en maande voorafgegaan het, kon hierdie oomblik oorskadu nie: geen politiek, rasseverhouding, ekonomiese verskille velkleur of oriëntasie het naby aan hierdie wonderwerk gekom nie.
Suid-Afrika was vir een oomblik, een dag, een week en ’n paar maande in die jaar 1995, een.

Soos een skrywer sê, ongelukkig het sport sedertdien die kruk geword waarop die regering leun om die land wat kort-kort wil uitrafel, só, dalk kunsmatig aan die gang te hou.

Vir 25 jaar na die Springbokke se wonderwerk was daar flitsende oomblikke van hoop; die 1996 Africa Cup of Nations oorwinning deur Bafana-Bafana, 2007 se Springbokke wat die resep herhaal het, die 2010 Fifa Wêreldbeker sokkertoernooi, atlete wat medaljes kry by wêreldkampioenskappe en die Olimpiese Spele en die sukses wat Rassie Erasmus en Siya Kolisi in Japan gesmaak het om die derde keer die rugby wêreldkroon te dra (die meeste deur enige ander land sedert 1995).

Sport en veral rugby moes die terminale siek Suid-Afrika wat telkemale soos ’n skisofreen op sy doodsbed gaan lê, kom red.

Dan is die ekonomie, rassehaat, geweld teen vroue en kinders, bedrog, werkloosheid en misdaad vir ’n kort rukkie op die agtergrond.

Die Madiba-magic het helaas net vir ’n kort rukkie geduur.

Thabo Mbeki en Cyril Ramaphosa het hard probeer om in die harte van die rugbypubliek in te klim, maar op die ou end, soos Naas Botha sal sê, weet ons goed dat ons self en geen politikus nie, die sleutel tot die samesyn van 1995 in ons hande dra.

Sport en politiek is soos petrol en water, dit meng nie, nie in 1995 nie en ook nie nou nie.

Ons het daardie goue sleutel wat Mandela nagelaat het, weggee.

Dis tyd dat ons, terwyl ons weer ’n glasie kan klink op die 1995 helde, daardie sleutel terugneem.

Rus in vrede Nelson Mandela, Joost van der Westhuizen, Jonah Lomu, James Small, Chester Williams, Ruben Kruger, Kitch Christie, Sir Ewart Bell, Louis Luyt, Boeing 747-loods-Laurie Kay, Brian Lochore.

Dankie, Springbokke.

FRANCOIS PIENAAR HOU DIE GESOGTE WILLIAM WEBB-ELLIS TROFEE OMHOOG TERWYL PRESIDENT NELSON MANDELA JUIGEND BYSTAAN. 
FOTO- CHRISTIAAN KOTZE

Related Posts