Die Leeus : Die Span wat weet van opstaan en terugveg!

Aug 5 • General News, Pale Toe, South Africa, Super Rugby, Super Rugby News • 2938 Views • Comments Off on Die Leeus : Die Span wat weet van opstaan en terugveg!

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #Pale toe skryf hier op die vooraand van die Superrugby-eindstryd:

Hoe lank is ʼn jaar in sport? Hoe lank is drie jaar? Wel, drie jaar gelede moes die huidige Superrugby-finaliste ʼn paar vriendskaplike wedstryde reël om voor te berei vir die promosie-relegasie wedstryd teen die Southern Kings en sleutelspelers soos Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Howard Mnisi en Faf de Klerk was onbenutte talent wat by die Blou Bulle en Pumas rondgehang het.

In 2013 het Rohan Jansen van Rensburg nog vir die Bulle se Vodacom span gespeel, maar is uitgelaat toe Frans Ludeke, destydse Blou Bul afrigter besluit het om Handre Pollard op nommer 12 in te sluit na Burger Odendaal beseer is in die Curriebeker-semifinaal van daardie jaar. Jesse en Daniel Kriel is toe geoormerk as van Rensburg se bedreiging op sukses.

Ruan Combrinck was nie goed genoeg vir WP nie, Warren Whiteley was by die Sharks en Franco Mostert was na sy motorongeluk aan die einde van 2013, verlig om van die Bulle af gekontrakteer te word deur die Lions.

Die Bulle moet heimlik met rooi gesigte toekyk hoe hierdie span homself her-ontwerp het in ʼn omgewing waar spelers en afrigters mekaar waardeer en aanmoedig. Dit was die era waarin hul bure gesweet het oor die resultate van afrigters soos Frans Ludeke, Pine Pienaar, Victor Matfield en Derek Hougaard, terwyl Johan Ackermann, Swys de bruin en JP Ferreira stil-stil besig was om ʼn nalatenskap te vestig.

“Ek kon leer by iemand soos Laurie Mains, hy het omstandighede geskep waar die spelers tuis gevoel het, dit was so toe ek daar (vir die Cats) gespeel het,” het Ackermann aan ons gesê.

Ackermann erken dat die tydperk gedurende 2011-12 een van sy moeilikste was.

“Ons het pas verneem dat ons teen die Kings moet uitspeel vir ʼn plek in die Superrugby-toernooi en John Mitchell was toe die afrigter. Ek het by hom oorgeneem en ons was terug in Superrugby in 2014.”

Die Lions was platgevee en kon maklik vir Mitchell met ʼn ander internasionale afrigter vervang het, nadat Mitchell met suur druiwe by die Lions weg is.

“Oregan Hoskins en Kevin de Klerk (President van die GLRU) het ʼn persoonlike vendetta teen my gevolg en my kennis word nie erken nie”, het Mitchell destyds aan Radio Sport in Nieu Seeland gesê, op die vooraand van sy vertrek na die VSA waar hy vir dier volgende vier jaar die hoofafrigter van die USA Eagles sal wees.

Maar die GLRU se besluit om Ackermann, wie toe voorspeler afrigter was tydens Mitchell se tyd, aan te stel as hoofafrigter, het vrugte afgewerp.

Die Lions het in vanjaar met vier van die vyf Nieu Seelandse spanne afgereken, maar in die proses ook met die voormalige Super-wenners, die Bulls. Die Stormers, Crusaders, Highlanders en Sharks is ook op hul kerfstok en hul vermoë om drieë te druk het verseker dat hulle meer as 40 punte teen die Blues, Crusaders en Highlanders kon aanteken en meer as 50 teen die Bulls, Jaguares en Kings kon opstapel.

Die Johannesburgse span wat die tuisspan, die Hurricanes in vanjaar se Superrugby-eindstryd in Wellington, Nieu Seeland ontmoet, het die meeste drieë in die toernooi aangeteken.

Geen wonder dat ʼn oud-All Black speler soos Ian Jones meen dat daar bitter min is in die Lions se mondering wat hulle kwesbaar kan maak.

“Die Lions is ʼn tipiese volledige Superrugby-span, hulle het baie van ons (Nieu Seelandse) rugby in hul mondering en hul meng dit goed met hul eie, hulle voorspelers is hard en maak graag kontak en hul agterlyn is een van die gevaarlikste in die spel.

“Die enigste probleem wat hulle kan hê met die Hurricanes, is die weer en die Canes se vermoë om hul agterlynspel uit te rek en dan te slaan”, het Jones op Sky-TV gesê.

Dit sal allermins maklik wees vir Ackermann se manne, maar niks was die laaste paar jaar maklik vir hierdie span nie. Hierdie feniks van ʼn span herrys elke keer weer, net sodra die as om hulle saampak.

Wie onder ons gaan teen hulle wed om Saterdag nog een keer, en teen alle verwagting in, vir oulaas in 2016 uit die as te verrys?

Related Posts

« »