DIE RUGBY-STROP TREK NOU OM DIE SPRINGBOK NEK #PaleToe

Oct 16 • General News, International, Pale Toe, Rugby World Cup, RWC 2015, Springboks • 1875 Views • Comments Off on DIE RUGBY-STROP TREK NOU OM DIE SPRINGBOK NEK #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #PaleToe! skryf dat die uitkloprondtes een ding beteken vir die oorblywende agt spanne: gaan groot of gaan huistoe.

 

Dit het uiteindelik tyd geword vir die laaste dramas om af te speel in die 2015 rugby Wêreldbeker-toernooi, vir die hoopvolles om nog meer in hoop te groei, vir die gelukkiges om meer geluk te soek en vir die verloorders om tasse te pak. Daar heers ʼn ongemaklike opgewondenheid oor die Springbokke se kanse in vanjaar se toernooi en sprake van ʼn suidelike halfrond oorheersing in die uiklopfases, word al hoe meer genoem.

Kom ons wees eerlik, hierdie is die jaar van die kleintjies. Die sogenaamde “minnow” spanne het bewys dat die gaping tussen groot en klein, verminder. Japan, die VSA en Georgië het gewys dat hul rugby lank reeds nie meer net ʼn sosiale grap is nie.

Daarteenoor het die val van een van die helde en gasheer, Engeland bewys dat dit geen uitgemaakte saak is dat reputasie, prestasie vooruitgaan nie. Dis Wêreldbeker rugby: alles of niks, gaan groot of gaan huistoe. Uitklop rugby.

Ons kan praat en redeneer tot ons blou is oor die agt spanne se kanse in die kwarteindstryde, maar feit is dat hulle gehalveer sal wees op pad na die halfeindstryd, volgende naweek.

Heyneke Meyer het Donderdag-aand gespanne geklink oor sy span se kanse teen Wallis.

Tipies sou hy en sy afrigtingspan nie ʼn mening waag oor die ander drie kwart eindwedstryde nie: “ons fokus op wat ons nou moet doen” is die standaard antwoord. Tog weet hulle dat, sou die Bokke soos dit te wagte is met Wallis afreken, wag Nieu Seeland, Argentinië en die Aussies.

Tot voor verlede naweek was daar maar min gesê oor die Australiërs se spelpatroon, maar nadat hulle Wallis voos geduik en stukkend geskrum het, word hulle ook potensiële toernooiwenners, en dis iets wat in die Bok bestuur se agterkop vassteek.

Elders is daar baie geskryf en bespiegel dat die Bok breintrust so ampertjies hul Moses teëgekom het met hul aanslag op die beker. Ons was té oorgerus en arrogant toe ons in Engeland aangekom het, en in enige sport voorspel dit ondergang.

Die druk wat nou week na week verwerk moet word, kom nie net van die verwagting om goeie teenstand te kry nie, maar ook omdat die spelers op die veld en in hul gemoed die heeltyd moet opvang. Dit word ʼn sielkundige stryd en slegs die regte bestuur daarvan, kan die balans tussen oud en jonk in die span handhaaf.

Aanvaar dit, Victor Matfield se dyspier besering is ʼn tweeledige seën: Lood bly verdienstelik die beginspan se no-5 slot en Fourie bly die Springbok kaptein.

Japan se rugby-stem het gebreek en die VSA en Georgië is nie meer die sosiale media se grapjasse nie. Ewe skielik is Bryan Habana en Fourie du Preez uitgestres nadat die Bokke drie weke se inhaal-rugby moes speel.

Sou dit na volgende naweek dui daarop dat die lot van die beker in die suidelike halfrond lê, beteken dit dat Frankryk, Wallis, Ierland en Skotland die beste is wat die Europeërs kan bied en dit plaas die Sesnasies kampioenskap mooi in perspektief en in kontras hoe sterk suidelike halfrond se rugby werklik is.

As daar aanvaar word dat die All Blacks die Franse sal klop, die Bokke wen vir Wallis en die Wallabies is te sterk vir die Skotte, bly net Argentinië oor. Hulle moet teen Ierland wen en om dit reg te kry, moet hul beter verdedig.

Die Iere is vanjaar die mees suksesvolste span wat na skoon lynbreke, punte aanteken. Die Argentyne se skrums bly hul gevaarlikste wapen, maar omdat die Iere nie sommer aanslaan nie, sal daar minder skrums wees. As Argentinië se laaste fasespel na skoon breekslae beter word, kan hulle die Iere klop.

Die Skotte se spelpatroon kan hul ondergang teen die Wallabies beteken. Hulle maak weliswaar ʼn groot getal duikslae, maar te veel is onsuksesvol. Teen ʼn Wallabie span wat vanaf die afbreekpunte punte aanteken, beteken dit moeilikheid.

Nieu Seeland en Frankryk se wedstryd is een van daardie wat die hoogste kykersgetalle sal hê. Hoe lank die mense gaan bly kyk sal afhang van die vermoë van die Franse om die All Blacks te laat omdraai, in hul gesigte te speel en om vinnige en akkurate balbesit te kry. As dit nie gebeur nie, gaan die tweede helfte net te lank word vir die Parysenaars.

Die geskiedenis bewys dat die Springbokke nie goeie teenstanders is vir die Walliesers nie. 27 uit 30 keer was die Bokke aan die wenkant. Wallis, ten spyte van hul robuuste spel, a-la-die Springbokke, skep wel goeie balbesit by die afbreekpunte, maar hul afronding laat hulle in die steek. En ja, hulle het die Bokke op die Millennium stadion in Cardiff met 12-6 gewen verlede November, maar sou dit werklik die Bokke so geskud het?

Ten beste sal Wallis die Bokke frustreer met negatiewe spel, die Bokke laat omdraai met lugskoppe en poog om Handré Pollard te ontsenu. Andersins is hierdie ʼn wedstryd wat eerder verloor sou word deur ʼn onvoorbereide Springbokspan as ʼn verdiende oorwinning deur Wallis.

Sonder om verwaand te klink, sal dit die Bok breintrust dus goed doen om met die een oog op die Twickenham- wedstryd, ʼn ander oog te hou op die All Blacks.

Dit kan dalk volgende week die voorgereg van die hoofmaal van vanjaar se toernooi word.

FOTO: Anton Geyser

Related Posts

« »