DIE SPRINGBOKKE: KAMPIOENE OP ALLE TERREINE

Nov 4 • General News • 893 Views • No Comments on DIE SPRINGBOKKE: KAMPIOENE OP ALLE TERREINE

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert- Modimolle/Nylstroom

Die Springbokke se beker loop steeds oor nadat hulle Saterdag vriend en vyand verras het om Eddie Jones se veelgeroemde span met 20 punte te verslaan (32-12) en in die proses twee skitterdrieë aan te teken.
Engeland, is soos ’n oom van die Waterberge gesê het waar ek gaan rugby kyk het, dikbek gespeel.
Rassie en sy span is op pad terug en sal welverdiend in die volgende paar dae met die William Webb-Ellis trofee in die land se strate spog.
Maar wat het hierdie span, wie die afgelope sewe weke in Japan ’n ondeurdringbare broederskap gevestig het, maak tiek?
Hier is ’n paar idees om aan te kou:

1. Die vaste fasette

Kobus Wiese-hulle praat graag van die vaste vyf, maar die vaste vyf het die vaste agt geword soos die toernooi verloop het.
Die Springbokke het ’n 99% positiewe lynstaanrekord op eie ingooie en het met hul skrums nie net die opposisie telkemale verwoes en tot oorgawe gedwing nie, maar ’n sekere, vaste basis geskep vir die agterlyn om op die voorvoet te kom, te slaan en punte aan te teken.
Dis tewens ook hier waar Suid-Afrika die Engelse tot oorgawe gedryf het en in die proses vyf strafskoppe afgedwing het, wat bygedra het tot die 32-Bokpunte.
Toegegee, as Kyle Sinckler homself nie te pletter geloop het teen die hoogaangeskrewe Maro Itoje nie, mag hy dalk, ek sê dalk, net ’n bietjie meer vastigheid in hul skrums gebring het.
Maar as is verbrande hout.

2. Slimpraatjies

Eddie Jones was maar nog altyd ’n bekkige kêreltjie. Toe hy vir Jake White in 2007 kom help het met die Springbokspan, was hy maar al te gretig om menings uit te deel op media geleenthede. Hy het dieselfde met die Wallis wedstryd gedoen in die rondomtalie rondes, maar was tjoepstil in die week wat die eindwedstryd voorafgegaan het.
Eddie en John Mitchell het die Springbokke se wedstryd teen Wallis dopgehou met ’n potlood in die hand, maar was stil na die tyd.
Die waarskynlikheid dat hulle in die Bokke se opsommings kolom “dieselfde strategie” geskryf het, is groot.
Maar toe kom Rassie en sy span se “sirkustoertjies”, soos die spelers daarna verwys, in die eindwedstryd, krap die Engelse se verdedigingspatrone heeltemal deurmekaar en laat Eddie Jones na ’n gewone internasionale afrigter lyk, eerder as die demi-god wat die Engelse pers hom gemaak het.
Die balans tussen die bal hou en skop, was perfek saamgestel en het vir ’n geskarrel op die Engelse se voordeellyn gesorg.

3. Keer is die beste geweer

Jacques Nienaber en Rassie is al lank vriende en met so ’n verdedigingsafrigter in jou bestuurspan, weet jy dat die opponente na nóg raad moes gaan soek vir deurkomkans.
In Augustus vanjaar is daar aangekondig dat Felix Jones, voormalige Munster afrigter hom by Rassie-hulle gaan aansluit.
Dit het gekom nadat Swys de Bruin uitgetree het as aanval spesialis en die spelers self gevra het vir ’n ander benadering; eerder ’n verdedigings konsultant as iemand wat op die span se aanval tegnieke moet kom raadgee.
Tussen Jones (dis nou ons Jones!) en Nienaber, het die Springbokke geleer om ’n ondeurdringbare muur op verdediging te vorm.
Engeland het hard probeer om die kalklyn oor te steek hier om-en-by die 30-ste minuut, maar die Bokke se verdediging was rotsvas en het gesorg dat die Engelse nie ’n enkele drie in die wedstryd kon aanteken nie.

4. ’n Groot ratkas

Niemand kan stry nie, die Springbokke het in die toernooi gewys dat hulle gemaak is vir die groot oomblikke en dan na ’n laer rat oorskakel, kop laat sak, die opposisie doodwurg en as oorwinnaars uit die stryd tree.
Die Springbokke se Wêreldbeker-glorie bewys dit; drie-uit-driekeer in ’n eindronde en elke maal die wenners.
Daar is nog ’n paar trotse eerstes, soos dat die Bokke die wêreld media se monde gesnoer het met die feit dat hulle die eerste span geword het wat ’n rondomtalie wedstryd verloor en dan aangaan om die toernooi te wen.

Dan is hulle ook die eerste Suidelike Halfrond span ooit wat die Rugby kampioenskap (voorheen die Drie Nasies-toernooi) en die wêreldbeker in dieselfde jaar kon wen.

Inderdaad ’n DSG-ratkas se moses!

5. Drieë-droogte gebreek

Vir die eerste keer in die Bokke se Wêreldbeker-eindwedstryd geskiedenis, kon die span nie net een keer agter die doellyn gaan kuier nie, maar tweekeer.
Makazole Mapimpi het die tweede meeste drieë in die toernooi gedruk, vyf. Net Josh Adams van Wallis het meer gekuier agter die pale, naamlik sewe keer.
In die eindwedstryd het Suid-Afrika met 54% balbesit 369 meter vêr gevorder met die bal. Engeland kon met 56% balbesit slegs 201 meter vorder. Die Engelse kon net tweekeer skoon breekslae maak, terwyl die Springbokke 11 keer die bal skoon in gapings kon inneem. Só steek jy nie die voordeellyn oor nie en druk jy nie drieë nie.
Só wen jy nie die Wêreldbeker nie.

6. Trots v 3.0

Die land was trots op sy nasionale span in 1995 onder die hand van Kitch Christie. Toe kom Jake White in 2007 en doen dieselfde. Nou, nog twaalf jaar later kom Rassie Erasmus, speler in die 1999-toernooi en doen dit weer.
Ons weet hoe om te wen as ons die kans gegun is.
Engeland daarenteen kry keer op keer kouekoors in eindwedstryde. Neem nou maar hul sokker, krieket en rugbyspanne wat telkemale soos hase in soekligte rondkyk as dit eindwedstryd tyd is. Hulle kan maar eenvoudig nie met druk op die skouers speel nie.
Suid-Afrika se groot stede sal volgende twee weke die Bokke met die William Webb-Ellis trofee kan sien pronk, wanneer hulle ’n draai maak in Pretoria, Johannesburg en Soweto (7 Nov), Durban (8 Nov), Oos Londen (9 Nov), Port Elizabeth ( 10 Nov) en die Wes-Kaap, Kaapstad op 11 November.
Soos Siya en Rassie dit uitgedruk het, “ ons wil weer die trots terugbring.”
Miskien is die volgende aanhaling uit ’n oud- Suid-Afrikaner in Israel die voorbeeld van hoe trots ons almal voel:

“On November 2 2019, South Africans around the world were South African.
And that’s the point.
Expats were South African – proudly South African. Lovingly South African.
Unapologetically South African.
That’s the point.
So, thank you to the Boks, thank you to England, thank you to the newly-engraved trophy,
for reawakening that South African-flavoured flame.
That feeling of being purely, proudly South African.
Even if just for one week.

Zoë Cohen, South African in Israel”

Die Springbokke het Saterdag die gesogte William Webb-Ellis trofee vir die derde keer as wêreldkampioene gewen.
Foto: SARU/15.co.za

Related Posts