DIE SPRINGBOKKE KAN NIE DRUK VERWERK NIE

Sep 19 • Analysis, General News, International, Pale Toe, Rugby Championship News, South Africa, Springbok News, Springboks, Super Rugby, The Rugby Championship • 5671 Views • Comments Off on DIE SPRINGBOKKE KAN NIE DRUK VERWERK NIE

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
17092017   RUGBY - SPRINGBOKS ARRIVAL AFTER RECORD DEFEAT - OR TAMBO - JOHANNESBURG - SOUTH AFRICA   Photo: Gordon Arons

SPRINGBOKAFRIGTER ALLISTER COETZEE
Foto: Gordon Arons

Simon Riekert-Johannesburg

Daar word altyd gesê dat rugbyspelers en veral ondersteuners so ʼn paar dae tyd nodig het om oor die skok of euforie van ʼn wedstryd te kom.
Wel, dis Dinsdag en die nuusstroompie uit SARU raak dunner, maar die skok is helaas nog nie verby nie.
Einste SARU het vandag laat weet dat daar sewe Springbokke is wat kan terugkom na hul unies en daar mag Curriebeker-rugby speel.
Die sewe sluit in Handré Pollard en Rudy Paige (Blou Bulle), Dillin Leyds en Wilco Louw (WP), Chiliboy Ralepelle en Dan du Preez (Sharks).
Die waarskynlikheid dat al sewe speeltyd gaan kry die naweek, is goed en dis goed dat hulle nou by die unies onder druk geplaas gaan word om te presteer.

Maar die Bokke se skoknederlaag die naweek teen die All Blacks is nog vars in die ondersteuners se geheue, soveel so dat van die toeskouers wat reeds kaartjies het vir die Bokke se volgende wedstryd in Bloemfontein teen die Australiërs op 30 September, dit probeer smous.
Die 57-0 nederlaag teen die All Blacks, die ergste in die geskiedenis van Springbokrugby, kom nadat die afrigtingspan en spelers vol selfvertroue was voor hul laaste oorsese wedstryd in vanjaar se Kampioenskapsreeks.
Nou word indringende vrae gevra oor die hulpafrigters se vermoë om die span waardige kompeteerders vir ʼn wêreldtitel te maak.
“Spanne is in ʼn oorgangsfase,” het John Mitchell verlede week oor die Kampioenskapsreeks gesê, “maar dit beteken nie dat standaarde van sekere spanne gaan daal nie.”
En daar het hy die spyker op die All Black-kop geslaan.
As die Springbokke in ʼn oorgangsfase is, is loesings soos Saterdag s’n een stap vorentoe en tien stappe terug.
Sy “oorgangsfase” met die span het volgens sy eie erkenning aan die einde van 2016 verstryk, sy jaar van grootskaalse droogmaak.
Coetzee se onvermoë om dinge te sien vir wat dit is, of miskien is dit blote halstarrigheid, kos hom alweer geloofwaardigheid.
Na die “seisoen van trane”, waaroor selfs die mediakoor van SARU nie wil praat nie, reken Coetzee “dat ons ongelooflike sukses met ons vaste fasette gehad het, maar ons was onder geweldige druk geplaas.”
“Dit is iets waarna ons sal moet kyk.”
Werner Swanepoel, oud-Bokskrumskakel het al grafies verwys na die gaping wat bestaan tussen SuperRugby en Springbokrugby.
“Daar is ʼn wêreldse verskil en ek weet nie of ons die regte spelers daarvoor het nie,” het hy voor die SuperRugby- seisoen vanjaar aan Rugbyfifteen gesê.
Dit blyk dat Coetzee nog in dieselfde vakuum rondsweef as in 2016, toe alle hel losbars rondom sy span se onvermoë om die druk op die veld te verwerk.
Ditto in 2017 met die All Blacks.
Hoe goed die Springbokke ookal presteer het tot voor Saterdag-aand en hoe goed Coetzee en sy hulpafrigters meen hulle geword het, die ware toets van druk verwerking het eers gebeur teen die All Blacks, en ons moet nie verras wees oor die uitslag nie.
Als vooraf was sub-standaard, en as Coetzee en sy hulpafrigters meen dis waaraan die Bokke gemeet moet word, dan het ons die antwoord; ons Springbokspan sal altyd sub-standaard wees.
Die Bokkaptein, Eben Etzebeth se kommentaar na die wedstryd, het ongelukkig die grootste skok bevestig, naamlik dat daar geen groep spelers is wat met leierskap kan help nie; “ ek het gesê dat ons die koppe moet lig en baie beter wees in die volgende twee wedstryde, dit gaan baie moeilik wees, maar ek vertrou die manne.”
Geen plan hoe ons dit gaan doen nie, geen speler geïdentifiseer wat gaan help met die optel proses nie, geen idee hoe om dit te doen nie, “maar ons gaan beter wees die volgende twee wedstryde.”
Die manne kort leierskap want leierskap was wat die Bokke nodig gehad het na tien minute op die veld, toe alle tekens wys dat die All Blacks met die Bokke speel soos ʼn kat met ʼn dooie muis.
Nick Mallet, voormalige Springbok en Springbokafrigter se boodskap na die wedstryd was dat die jongspan in Groen en Goud nie “soos klein robbe doodgeslaan moet word nie.”
Miskien nie doodslaan nie, nie nou al nie, want die afrigtingspan moet ook eers in die ry staan.
Springbokrugby se nagmerrie is terug, die soete slaap van lala-land is verby.
Hoe nou meneer Toetie?

#paletoe

Related Posts

« »