DIE TYD LOOP UIT: NOG GEEN HOOFAFRIGTER VIR DIE BULLS NIE

Dec 8 • General News, Pale Toe, South Africa, Super Rugby, Super Rugby Fixtures, Super Rugby News • 618 Views • No Comments on DIE TYD LOOP UIT: NOG GEEN HOOFAFRIGTER VIR DIE BULLS NIE

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
Is Victor Matfield verlore om aangestel te word as hoofafrigter van die Bulls? Foto: Johann Meintjes/PaleToe

Is Victor Matfield verlore om aangestel te word as hoofafrigter van die Bulls? Foto: Johann Meintjes/PaleToe

 

 

 

 

 

 

 

 

Simon Riekert- Pretoria

Die bestuur van die Blou Bulle het by navraag, verlede Vrydag of daar enige vordering is met die aanstelling van ʼn nuwe afrigter vir die unie, eenvoudig, koud en klinies berig: “jammer mense, daar is nog geen terugvoer (van die mense wat die aanstelling moet doen) nie, die proses (om die afrigter aan te stel) is steeds onderweg en ons sal terugvoer gee so gou as wat ons gereed is daarvoor.”
Oor en uit, daar’s geen hoofafrigter wie se geborgde Volkswagen in die parkeerplek voor die hoofingang van Kirknesstraat se geliefde Blou Bul stadion staan nie.

Altans, nog nie.

Daar is tewens geen lig in die tonnel dat enige afrigter binnekort aangestel gaan word nie, selfs nadat die sogenaamde ingeligtes in die media reeds ʼn week vroeër die kroon op Victor Matfield se kop geplaas het. Matfield was klaarblyklik op sy beurt nog besig met kontrak onderhandelings by die betaalkanaal, Super Sport.

Nou spekuleer nog ʼn sogenaamde ingeligte publikasie dat daar toestemming gevra word by die Westelike Provinsie om hul Curriebeker afrigters te nader met die oog op aanstelling in die pos, met John Dobson as teiken in die hoofafrigterspos, Danie Snyman as aanvalsafrigter en Normal Laker as verdedigingsafrigter.
Dieselfde spekulasie gaan voort dat Alan Zondagh, ook ʼn voormalige WP afrigter, nie meer in ʼn voltydse hoedanigheid by Loftus sal aanmeld nie, maar eerder op ʼn konsultasiebasis daar sal werk.
Vroeër vanjaar was die name van Dobson genoem tesame met die van Jimmy Stonehouse om die pos te vul van die voormalige All Black afrigter, John Mitchell, wie vroeër vertrek het uit Pretoria as wat hy wou.

Dobson was onomwonde en beslis daaroor, vroeër vanjaar met sy span se besoek aan Loftus Versveld tydens die stuiptrekkings van die Curriebeker seisoen; “ek werk lekker by die WP en ek het geen intensie om na Pretoria toe te kom as afrigter nie.
“Ek het stelsels in plek gestel om die WP se Curriebeker rugby verder te ontwikkel en ek en my afrigtingspan is stewig daarmee besig.”

Stonehouse het egter gemeen dat hy sy naam in die Blou Bulle se hoed vir ‘n trekking wou gooi; “ek stel belang en ek meen dat hierdie een van my laaste kanse is om op hierdie hoë vlak in Suid-Afrika af te rig.”

Stonehouse het toe kort daarna onttrek.

Sedertdien was die standaard antwoord op vrae, “indien nie hulle nie, wie?”, dat die Blou Bulle Maatskappy besig is om met mense te onderhandel wie nog stewig in kontrakte verbind is.
Daar het intussen meer as twee maande verloop sedert hierdie kennis openbaar gemaak is, spekulasie al hoe dringender geword het en die “ingeligtes”, Victor Matfield met die pos verbind het.

Nou, etlike weke later, is daar nie ʼn snars verder gevorder met ʼn hoofafrigter se aanstelling nie, en bly die sogenaamde onthullings, net ʼn verdere bespiegeling.

Dis niks meer en niks minder as bespiegelings nie.

Maar hierdie tendens slaan veel dieper in as net ʼn “nee” uit Fort Loftus se bestuur.
Dit bevestig die dieper nood in Suid-Afrikaanse rugby om nie net spelers van kwaliteit en potensiaal hier te hou nie, maar afrigters ook.

Aan die einde van 2017 was daar reeds agt eersterangse afrigters wat oorsese spanne help afrig het, manne wie die rug op SARU gekeer het.

Die nood was duidelik sigbaar by die Blou Bulle, toe John Mitchell instap en Nollis Marais en Pote Fourie moes plek maak vir hom. Daar was ʼn indringende omdraaiveldtog wat die unie aangekondig het en wel vrugte afgewerp het, maar almal weet dat Mitchell nie gehou het nie.

Daar is na dese gepraat van ʼn wedersydse skikking gebaseer op ʼn goeie trou ooreenkoms, en so het Mitchell sy vertrek na Engeland geneem.

Intussen het die ingeligtes nie net van Matfield gepraat nie, maar is die naam van Deon Davids ook in die gesprekke rondom die Bulls se nuwe hoofafrigter genoem.

Davids is die hoofafrigter van die Isuzu Southern Kings, maar toe die einste spekulante se berigte die Oos Kaap tref, was die gort gaar: “ Davids bly gekontrakteer deur die Isuzu Southern Kings tot aan die einde van Junie 2020 en hy het sy toewyding aan die franchise bevestig, selfs tydens die onderhandelingsproses met die Blou Bulle Maatskappy (BBM).
“Indien die BBM ʼn formele aanbod vir die dienste van die hoofafrigter wil maak, moet die voorlegging aan die bestuur van die Kings gemaak word alvorens daar enige besluit gemaak word,” is daar ʼn maand of wat gelede uit die streek berig deur die Kings se hoof operasionele bestuurder, Charl Crous.

Net daar en dan is die kommunikasiekanaal ook gesluit: “die Isuzu Southern Kings sal nie verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie, totdat daar nie verdere kommunikasie tussen die partye is nie en amptelike samesprekings ʼn aanvang neem nie.”

Mitchell, of jy nou van hom hou of nie, se afwesigheid laat ʼn leemte. Die Bulle soek dringend na ʼn hoofafrigter wie die droom van die unie, naamlik om die trots van die unie te herstel, die span weer op ʼn wenpad te plaas en om die stoele op Loftus Versveld se blou pawiljoen weer te vul.

Johan Ackermann wie saam met Mitchell afgerig het by die Emirates Lions dink ons het ʼn fout begaan om Mitchell vroeg te laat loop. Suid-Afrikaanse rugby kon baie meer by sy afrigting gebaat het, nie net die omdraaislag van die flou Bulle se spelpatroon nie.

Die Bulle soek weer na iemand soos Mitchell wie wil afrig met die doel om op elite vlak te presteer en wie uitnemendheid nastreef.

“Hy gaan ʼn groot bydrae maak tot Engeland se rugby want hy is ʼn tegniese, wêreldklas afrigter,” het Ackermann vroeër vanjaar gesê, “iemand wat ʼn bydrae tot ons rugby kon maak.”

Mitchell weet dat sy kort kuier by die Bulls nie die gewenste uitwerking gehad het nie, veral nie met die eise van moderne SuperRugby nie. Dit sou altyd ʼn langsamerhand proses wees om die groot Blou skip om te draai, spelers gereed te maak vir die vlak van prestasie waarop hy aangedring het en om dit volhoubaar te doen met die ondersteuning van die administrasie.

Dit het nie gebeur nie, en steeds soek die Bulle na iemand wie trotse unie kan red van middelmatigheid.

Miskien, terwyl die belangrike mense by die Bulle besig is om na iemand te soek wat bereid sal wees om in te koop in die unie se drome, is dit gepas om eerder te filosofeer as te spekuleer.

Dus haal ek ʼn kollega se onlangse uitspraak oor die netelige kwessie hier aan: “I dream of a day where we don’t need a John Mitchell or an Eddie Jones (when he joined the Boks) to come to this country and inject life into our teams. I dream of the day we can do that all by ourselves and have a system in place that ensures all our top-level coaches are equipped to do so.”

Indien daar nie binnekort ‘n aankondiging oor die Bulle se hoofafrigter kom nie, gaan die span die eerste fase van voorbereiding vir die 2019-SuperRugby toernooi met ‘n agterstand tegemoet.
Daar sal noodgedwonge staatgemaak moet word op huidige afrigters se vernuf wat nie voldoen aan die elitevlak se vereistes nie. ʼn Noodoproep na Rassie Erasmus en sy Springbok afrigtingspan is nie uitgesluit of vergesog nie.

Dit kan ʼn duur ronde word vir die Bulle, ‘n proses wat begin het met die vertrek van Frans Ludeke ʼn paar jaar gelede.

Related Posts