DIS DAWID TEEN GOLIAT IN DURBAN

Oct 18 • General News, National, Pale Toe, South Africa, South Africa • 4591 Views • Comments Off on DIS DAWID TEEN GOLIAT IN DURBAN

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
09082017    RUGBY - CURRIE CUP - VODACOM BULLS VS CELL C SHARKS PROVINCE - LOFTUS VERSVELD - PRETORIA - SOUTH AFRICA   Photo: Gordon Arons

CURRIE CUP 2017 – VODACOM BULLS VS CELL C SHARKS
©Gordon Arons

Simon Riekert- Loftus Versveld

Dawid pak Saterdag vir Goliat in Durban om die eer van ʼn plek in die 2017-Curriebeker eindwedstryd.
Dis ʼn Dawid wat eens op ʼn tyd ook ʼn Goliat was en geleidelik sy aptyt vir oorlogmaak verloor het deur die jare, hoofsaaklik omdat daar generaals was wat maar min van moderne oorlogvoering af wou weet.
23 keer aan die wenkant in die Curriebeker-kompetisie, maar die laaste keer slegs in 2009, lees die Bulle se geskiedenis.
Toe kom die Kiwi en verander die koers van hierdie groot skip; spelpatroon, fiksheid en kondisionering, dissipline, selfvertroue…
Wat die afgelope paar weke in Blou Bul land gebeur het, is kortom merkwaardig.

John Mitchell is op 25 Mei 2017 aangestel as Hoofafrigter by die Bulls met die bedoeling dat hy die Superrugby span sou afrig in 2018. Op ʼn buitengewone vergadering, gehou op 20 Augustus 2017 is daar egter besluit dat Mitchell onmiddellik die Curriebekerspan se breiwerk ook oorneem.
Sedertdien het Mitchell gereeld laat weet dat dinge aan’t verander is by die Bulle “en dat dit tyd vat, want dis ʼn proses.”

Hierdie week verskyn SA Rugby se rugbystatistieke vir die 2107-Curriebeker rondomtalierondtes en die einste Bulle verskyn ʼn paar keer aan die bopunt van die statistieke se leer.
Die Bulle is die beste op aanval (baldra, meters gemaak en lynbreke) van al die spanne, maar hulle is die swakste daaraan toe wat strategiese skoppe en voltooide laagvatte aan betref.
Hul lynstaanwerk is ook nie goed genoeg nie: Pote Fourie se span kry hier sesde laaste plek (uit sewe) vir lynstaanwenne en balle afneem op die opposisie se ingooi.
Die Bulle loop voor as die span wat die meeste drieë druk (64) en klits die bal die tweede meeste deur die latte (77%), naas Griekwas.
Hoogs kontroversieël, maar wel verdiend op die punteverskil tabel lê hulle derde naas die Sharks (123), WP (102) en 15 wat hulle deurdra na die halfeindstryd toe.

Kyk ʼn mens na die Sharks se vertoning vanjaar, was hul aanslag baie meer pragmaties.
Hulle het aansienlik minder punte as die Bulle aangeteken (352) teenoor die Bulle se 457 in die ligafase, maar hulle het 10 wenne teenoor die Bulle se 5, net mooi die helfte minder.
Hul lynstaanwerk is tweede beste en so ook by die afbreekpunte. Hul strategiese skoppe het ook beter gewerk as enige ander span s’n.
Maar…hul werkswyse was anders as die van die Bulle s’n om tot hier te vorder.

Volgens SA Rugby Magazine vergelyk hulle die Bulle se vroeëre verliese (28-20 in Pretoria en 18-5 in Durban) met die opkomende halfeindstryd.
Die skrywer beklemtoon die Sharks se algemeen nuttige spel en die Bulle se opsie om die bal in die hande te hou.
Verder beklemtoon die skrywer die Bulle se onwilligheid en onvermoë om ʼn platform vir hul agterlyn te lê.
Die Bulle se spelpatroon het wesenlik verander sedert hul in Augustus en September teen ʼn gedugte Sharks span verloor het. Die afbreekpunte is nog ʼn sonde, maar as die bal eers by die agterlyn is, is daar gewoonlik punte, of baie vinnig daarna.

Sedert Mitchell sy filosofie om aanval na ʼn nuwe vlak te neem met hierdie span, druk die span drieë en teken hul baie punte aan.
Kyk maar na die span se bonuspuntotaal wat gesorg het dat hulle in die vierde plek op die punteleer inskuif.

Net so goed as wat die Sharks se verdediging is, so swak is die Bulle s’n, en dis ʼn aspek van die spel wat saam met die vaste fasette aandag sal moet kry.

Ivan van Zyl, skrumskakel van die Bulle meen dat die Bulle se verandering in speelstyl hulle goed te pas gekom het tot dusver en dat dit ʼn groot slaankrag gaan wees teen die Sharks, “ek sal sorg dat daar vinnig skoongemaak word en dat kwaliteit balbesit sal gebeur.”
“Die Sharks het ʼn gedugte pak voorspelers en ons besef dit, maar ons is voorbereid om selfs die kleinste bietjie balbesit wat ons kan kry, om te skakel in aanval.
“Dis tipiese halfeindstryd-rugby en dit sal vir my ʼn eer wees om teen ʼn veteraan soos Michael Claassens te speel.
“Ons sal ons taktiese skopwerk verbeter en hard werk om die bal te hersirkuleer, die Bulle se speelpatroon het verander van skop-en-jaag na hou-en-hardloop, dit werk vir ons, ons druk drieë en dit maak die span gelukkig en suksesvol.”

Sedert Augustus 2017 het daar baie water in die see geloop vir die Bulle en die Sharks.
Daar sal na afloop van die Curriebeker-eindstryd ʼn nuwe kampioen wees omdat die huidige een, die Vrystaat se eksperiment met sy Pro14-span nie geslaag het nie.
Wie ookal die beker omhoog hou, sal besef dat daar ʼn klipharde Curriebeker seisoen verby is en dat die winde van verandering stewig uit die noorde waai.

“Die Curriebeker is nie vanjaar ons einddoel nie, ons mik verder,” was John Mitchell se onheilspellende woorde vroeër vandeesweek aan ons.
Dit voorspel dat wat Nollis Marais begin het en Mitchell versnel het, die ondersteuners van die Blou Bulle gelukkig sal maak.
Saterdag-middag 14:30 lê die Haaie oorgehaal en wag.
Die derduisende ondersteuners van die twee uithaler spanne kan solank uitsien na rugby uit die boonste rakke wanneer Dawid vir Goliat die stryd aansê.
Wie gaan geskiedenis maak?

Related Posts

« »