“FLOWER OF SCOTLAND” WAG OP DIE SPRINGBOKKE

Nov 14 • Europe, General News, International, National, Pale Toe, Six Nations, South Africa, South Africa, Springbok News, Springboks • 426 Views • No Comments on “FLOWER OF SCOTLAND” WAG OP DIE SPRINGBOKKE

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
Gaan Malcolm Marx in die beginspan wees teen die Skotte, Saterdag? Foto: SARU/R15

Gaan Malcolm Marx in die beginspan wees teen die Skotte, Saterdag? Foto: SARU/Rugby15

Simon Riekert: Pretoria

Verby is die dae toe Skotse rugby so grof en onverfynd soos die landskap anderkant Edinburgh is.

Verby is die dae toe reuse Skotse voorspelers al wat ʼn geleentheid aangegryp het om ʼn naelskraapse oorwinning voorlangs uit te maal.

Skotse rugby het verfynd geraak, deur ʼn evolusie gegaan en grootliks verbeter as internasionale span danksy afrigters soos Scott Johnson en Vern Cotter, beide oud-Kiwi’s wie die span afgerig het vanaf 2012 tot 2014 en toe weer vanaf 2014 tot in Junie verlede jaar.

In daardie tyd, het Skotland, draers van die blou dissel as embleem, soos die aard van die kruid in sy natuurlike omgewing, net so stekelrig en krapperig geword op die rugbyveld.

Cotter is daar weg met ʼn wenpersentasie van 53%, wat oorwinnings teen Argentinië, Kanada, Georgië, Japan, Samoa, Tonga en die VSA ingesluit het, met 19 uit 36 oorwinnings op Toetsvlak.
Wat Skotland so gevaarlik gemaak het, is sy net-net verloor teen hul Sesnasies teëstanders Frankryk (22-16), nadat hulle in 2017 al drie hul tuiswedstryde teen Ierland (27-22), Wallis (29-13) en Italië (29-0) gewen het. Dit het aan hulle die algehele vierde plek besorg, die hoogste posisie ooit vir die Skotte sedert hul deelname aan die toernooi.

Kyk jy egter krities na waar Springbokrugby hom tans bevind, buite die internasionale Toetsvenster en met die voormalige houtlepel-span wat in die loopgrawe lê en wag, lyk die prentjie effens anders as ʼn paar jaar gelede.
Toegegee, die Springbokke is ver vandaan van die finale afrondingsproduk wat Rassie Erasmus oor slegs 10 maande die veld in sal stoot as kompeteerders vir rugby se wêreldkroon.
Die afgelope toer na die noorde het gemengde resultate gebring; een net-net verloor en een net-net wen, teen die einste Sesnasies-teëstanders wie die Skotte so besig gehou het. Beide die twee wedstryde was tradisionele kom-wat-wil voorlangse aanslae, met gemengde resultate.

“Bokrugby is still the brawn of the modern rugby-playing world”, skryf een Engelsman na afloop van die slag van Twickenham.
En ja, hy’s reg, dit is waar die span se sterkte lê en grootliks vir die bewese sukses verantwoordelik is.

Dit is ook waar dat Rassie en sy hulpafrigters hard aan die werk is om die nodige flair, vernuf, uitgeslape aanval en suksesvolle skopwerk in die Bokresep inwerk. Ons het die spelers om enige wêreldspan met vryvloei-rugby aan te vat. Al wat kort is die resep en die plan-van-hoe.

Uit verskeie oorde is daar al sedert die afgelope naweek se mini-Franse rewolusie in Parys, gevra of Rassie dieselfde voorhamer-speelstyl vir die Skotte gaan inspan, of is dit nou die tyd om te werk aan die flair en vernuf agterlangs?
Beide Engeland en Frankryk het die voorsmakie van reuse soos Duane Vermeulen en Malcolm Marx ervaar, maar wat sal Rassie se plan wees as die Skotte nie die groot manne laat aantree nie?

Die Skotte het in vanjaar se Sesnasies-toernooi gewys dat hulle drieë kan druk. Hulle kan oop spasies skep en aanval, die voordeellyn suksesvol oorsteek en seker maak van balbesit in kontak, overgesetsynde, hulle kan dit moeilik maak vir die Springbokke as laasgenoemde vashaak by die vaste fasette.

Dit sal beteken dat die kortskoppies wat in die laaste twee wedstryde geen doel gedien het nie, in ʼn nagmerrie gaan ontaard teen die Skotte.

Kortom, dit sal Rassie-hulle loon om indringend na hul wedstrydplanne te kyk en seker te maak van die besluite wat op die veld geneem word.

Saterdag, onder die fluitjie van Romaine Poite, die kontroversiële skeidsregter wie vir Bismarck du Plessis afgejaag het na ʼn plettervat op Dan Carter (wie sal die insident ooit vergeet?), moet die Springbokke met ʼn ander arsenaal van planne kom.

Die Wêreldbeker in Japan is 10 maande ver, en hierdie is een van die laaste wedstryde waarin Rassie kan eksperimenteer met sy spelers se vermoë om die gapings te slaan, die bal in spasies te plaas en drieë te druk.

Miskien lê die grootste simboliek daarin dat die nasionale blom, die dissel, soos in tye van ouds die Skotte se redding is. Dit word vertel dat in die tye van die Vikings, hierdie blom menigmaal tot redding in die veldslae van die Skotte gekom het as daar met ʼn kaal voet daarop getrap is.

Die Latynse spreuk “nemo me impune lacessit” (niemand kom skotvry daarvan af as hy my aanval nie) is ʼn eeu-oue leuse van die konings van Skotland.
Saterdag, nadat die laaste note van die pragtige “Flower of Scotland” weg-eggo, sal die Springbokke weet dat hierdie span, woonagtig in die land van die kilt, iets het om te bewys en te beskerm.

Al die druk, dink ek, is vierkantig op die Springbokke.

Die spanne:

Skotland

Stuart Hogg, Tommy Seymour, Huw Jones, Pete Horne, Sean Maitland, Finn Russell, Greig Laidlaw (kaptein), Ryan Wilson, Hamish Watson, Sam Skinner, Jonny Gray, Ben Toolis, WP Nel, Stuart McInally, Gordon Reid.

Plaasvervangers: Fraser Brown, Allan Dell, Simon Berghan, Josh Strauss, Jamie Ritchie, Ali Price, Adam Hastings, Chris Harris.

 

Suid Afrika

Word Donderdag aangekondig.

 

Related Posts