GAAN JOHAN ACKERMANN DIE AFRIGTERS SE UITTOG LEI?

Mar 17 • General News, Springboks, Super Rugby, Super Rugby News • 5547 Views • Comments Off on GAAN JOHAN ACKERMANN DIE AFRIGTERS SE UITTOG LEI?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Johan Ackermann #paletoe

 

Johannesburg.
Suid Afrikaners en veral Lions ondersteuners sal dalk binnekort sonder die afrigters talent van Johan Ackermann sit.
Hy het Donderdag tydens die Lions se span aankondiging vir die wedstryd teen die Reds detail gegee oor die moontlikheid om in Engeland te gaan afrig.
“ Ek is in gesprek met die bestuur van die Engelse klub Gloucester om die pos van hoofafrigter te neem.”
Die geleentheid het gekom nadat Laurie Fisher op 7 Maart vanjaar bedank het. Fisher was ook voorheen betrokke as hulpafrigter en toe as hoofafrigter van die Australiese SuperRugby span, die Brumbies.
“Ek kyk tans na die voor-en nadele van so ʼn besluit. Ek sal die besluit eerder vroeër as later maak omdat ek nie wil ha die span moet deur my uitstel ontwrig word nie. Ons het ʼn toernooi waarin ons wil presteer.”
Ackermann was vroeër ook in die teiken van twee Japannese klubs om as hoofafrigter diens te gaan doen.
Hy wou nie veel sê oor die moontlikheid of hy die pos gaan aanvaar nie, “daar is ʼn aanbod op die tafel en dit is waarmee ek volstaan.”
Indien Ackermann die pos aanvaar voor die middel van vanjaar, mag nie net die Lions later sonder ʼn gesoute Curriebeker afrigter sit nie, maar ook moontlik sonder Swys de Bruin, hulpafrigter by die Lions en een van Ackermann se lojaalste adjudante.
Ackermann se moontlike vertrek hou ernstige gevolge vir die Suid Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in aangesien hy as die Suid Afrikaanse “A” span se afrigter aangestel is in Mei 2016. Die span speel juis ʼn reeks in Junie.
As hy die pos aanvaar, sal hy as een van die ‘nuwe generasie’ afrigters met die meeste SuperRugby-ervaring, vir die afsienbare tyd verlore wees vir Suid Afrikaners.
Die ander ‘nuwe generasie’ afrigter wat reeds in die internasionale visiere is , Franco Smith is onlangs aangestel as Springbok-hulpafrigter, terwyl hy ook as hoofafrigter by die Cheetahs diens doen.
Ackermann se span het in 2016 in die SuperRugby-reeks se eindrondte teen die Hurricanes gespeel en alhoewel hulle verloor het, het hulle voortgebou op hul 2015 sukses as Curriebeker kampioene. Hy beklee die posisie van hoofafrigter sedert 2013 as die Lions as SuperRugby en Curriebeker afrigter.
Ackermann wat 13 keer vir die Springbokke op slot uitgedraf het mag dalk in die voetspore van ʼn ewe suksesvolle Suid Afrikaanse afrigter volg.
Dawie Theron was afrigter van die junior springbokke vir ses jaar en het in 2016 ʼn afrigterspos in Japan by die Docomo Red Hurricanes aanvaar.
Piet Strydom, rugby administrateur en voormalige speler by die Sharks meen dat dit ʼn kwessie van tyd is voordat jong afrigters die pad sal vat.
“Daar is geen vooruitsig dat daar plek vir jong afrigters met potensiaal in hierdie land is nie. Franco (Smith) mag dalk die uitsondering wees, maar Saru se beheptheid met rasse kwotas, maak dit nie maklik vir afrigters en spelers om in die land te bly nie.”
Saru het nog nie gereageer op Ackermann se aankondiging nie.

Related Posts

« »