HEYNEKE MEYER SE DAE IS GETEL #PaleToe

Aug 7 • General News, International, Pale Toe, Springboks • 2529 Views • Comments Off on HEYNEKE MEYER SE DAE IS GETEL #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Pale Toe

 Heyneke Meyer moet volgens die organiseerders se reëls sy Springbok Wêreldbeker-groep bekendmaak teen 31 Augustus 2015. Meyer het dus na Saterdag ʼn bietjie meer as drie weke oor om te besin oor sy groep. Dit is dus krities belangrik dat hy na Saterdag se wedstryd ʼn goeie idee het oor die groep wat saamgaan Engeland toe.

Die Castle Rugbykampioenskap van 2015 is na hierdie naweek iets van die verlede. Die kompetisie is hierdie jaar verkort tot een rondte elk tussen die vier spanne met die Wêreldbeker in gedagte. Teen Saterdag middag, na afloop van die wedstryd tussen die Springbokke en die Argentynse Poemas sal daar 41 dae oor wees voor die rugby skouspel aanbreek.

Die 2015-kampioen van die Castle Rugbykampioenskap sal reeds teen daardie tyd bekend wees. Alles dui daarop dat dit die All Blacks sal wees, wie in dieselfde asem die wenners van die Bledisloe-trofee sal wees as hulle die Aussies wen.

Heyneke Meyer moet volgens die organiseerders se reëls sy Springbok Wêreldbeker-groep bekendmaak teen 31 Augustus 2015. Meyer het dus na Saterdag ʼn bietjie meer as drie weke oor om te besin oor sy groep. Dit is dus krities belangrik dat hy na Saterdag se wedstryd ʼn goeie idee het oor die groep wat saamgaan Engeland toe.

Oud spelers en kaptein Corné Krige meen dat Meyer se span begin vorm aanneem met die terugkeer van Jean de Villiers op senter en die meng van ou en jong bloed. Volgens Meyer het Jean reeds160 minute se rugby agter die rug en reageer goed op broodnodige kondisionering. Die jurie is nog verdeeld oor of sy volgehoue keuse van oud en jonk gaan werk. Naas Botha meen dat de Villiers, hoe graag hy ook al sal wil vergoed vir vorige teleurstellings na beserings, besef dat iemand soos Jesse Kriel in sy nek blaas.

Sou de Villiers self besluit hy is nie fiks genoeg om Engeland toe te gaan nie, sit Meyer met ʼn tameletjie. Hy sou weliswaar die jonge Kriel kon inspan, maar verloor dan sy staatmaker kaptein. Met Victor Matfield se chroniese hampees besering, is Meyer ook nie seker van hom in sy groep as nommer 5- slot en kaptein nie. Dit maak dan die deur vir Lood de Jager wa-wyd oop, maar los nog nie die hoofpyn oor kapteinskap op nie.

Dalk Adriaan Strauss? Meyer verkies beslis dat Bismarck du Plessis op haker begin en met goeie reg. Du Plessis is beslis ʼn ekstra losvoorspeler op die veld, maar sou nie oorweeg word as Springbok kaptein in ʼn beginspan nie. Waar laat dit hom dan met Strauss? ʼn Moontlike kaptein, ja maar nie eerste keuse haker nie.

Dalk Schalk Burger as kaptein indien de Villiers en Matfield moet tuisbly weens beserings?

Burger se terugkeer na internasionale rugby is merkwaardig, maar hy het nie die charisma en rustigheid wat verwag word van ʼn Springbok kaptein nie. Daardie toets het hy nog nie geslaag nie en allermins teen die All Blacks twee weke gelede.

Meyer sal Saterdag vrae soos of Jesse Kriel op buitesenter sal slaag en of sy vlymskerp lynlopies en die oop spasies wat hy aanval sal gebeur; of Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit na bykans twee jaar se internasionale droogte op vorm is; of Marcell Coetzee die spel van Francois Louw kan oorskadu op flank en of Vincent Koch die nuwe Jannie du Plessis is.

Spelers soos Cobus Reinach en Pat Lambie sal ook wil bewys dat hulle Meyer se beginspan moet haal, terwyl Ruan Pienaar weet dat Fourie du Preez teen volgende week se vriendskaplike wedstryd teen die Poemas in Buenos Aires, terug sal wees.

Toegegee, Meyer se grootste hoofpyn is om sy spelers reg te bestuur, of eerder sy spelers se beserings reg te bestuur.

Daar is baie min tyd oor vir klaar kies en terwyl daar stemme opgaan oor die All Blacks se verminderde kanse om die Wêreldbeker in 2015 te wen, sal elke speler in Meyer se groep weet dat drie weke kleingeld is teen die groot prentjie van ʼn Wêreldbeker.

Hoe dit ook al sy, teen Saterdag-aand sal Heyneke Meyer een stappie nader wees aan sy ideale Bokspan en hy sal aanstaande naweek kan gebruik om ʼn finale kleedrepetisie te hê.

Meyer se Bokke het teen die Aussies en Kiwis gewys dat hulle so naby aan kliek is soos “demmit” aan ʼn vloekwoord.

Mag daardie kliek vinnig naderkom.

Related Posts

« »