JAKE WHITE LIG DIE BULLE SE RUGBYSLUIER

Aug 6 • General News • 1457 Views • Comments Off on JAKE WHITE LIG DIE BULLE SE RUGBYSLUIER

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert-Pretoria

“Alles behalwe ’n normale voorseisoen, alles behalwe enigiets wat ons ooit voorheen ervaar het, “ so sê die Direkteur van Rugby by die Blou Bulle, Jake White oor die verwagting om binnekort na rugby toe terug te keer.

“Die voordeel daarvan is dat niemand sukkel met lastige beserings nie. Daar is manne wat uit die noordelike halfrond teruggekeer het en wie beslis voordeel sou trek uit hierdie onderbreking wat Covid-19 op almal gehad het. Neem nou maar vir Duane Vermeulen wie vanaf 19-jarige ouderdom professionele rugby speel, ons het hom gedurende die grendeltyd weggestuur om knie rehabilitasie te ondergaan, dit help om hom weer wedstrydfiks te kry.”

White is egter bekommerd daaroor dat daar geen voorbereiding vir kompetisie is nie, aangesien daar geen vriendskaplike wedstryde gespeel sal word nie, “jy moet onmiddellik kan speel op die hoogste vlak, bykans Toetsrugby speel as jy van SuperRugby praat, dit gaan baie moeilik wees.”

Die groep is volgens hom gereed om kontakoefening te doen, alhoewel die verwagte aankondiging oor veiligheid, nog in die toekoms gedoen moet word.
“Die groep is begeesterd en lus om kontakrugby te speel, hulle het vir weke fiksheid-en kondisionering gedoen, maar dis soos ’n groep kinders wat speel en waarvoor jy moet sê ‘oppas!’; die afwagting is daar, jy kan hulle nie keer om nie teen mekaar vas te hardloop nie, hulle is jong manne wat graag wil rugby speel.”

Sy afrigtingskorps is ook slaggereed, “ ek het regoor die wêreld afgerig en ek het baie nuwe idees, dit is hoog tyd dat die Bulle se rugbypatroon weer van vooraf moet begin en ek het die nuwe idees op ’n vergadering met hulle gedeel, die meeste van hulle het reeds SuperRugby afgerig of was hoofafrigters elders en dit maak dit makliker vir my en hulle om ons werk te doen.”

White het ook verwys na Daan Human wat as skrumafrigter by die Bulle aanbly.

Die idee om sy gewig by SARU in te gooi was altyd onderhewig daaraan dat hy by die Bulle sou bly, “Daan reis nou natuurlik weens die inperking nie saam met die Springbokke en die Bulls nie en dit maak hom meer beskikbaar en vir die volgende jaar wat sy kontrak aan betref, kom daar al hoe meer kontinuïteit om hom te vestig by ons en dit is iets wat ons baie waardeer.”

Hy het ook genoem dat daar ’n moontlikheid is dat daar twee ‘bio-borrels’ sal wees waar die spanne in isolasie, sonder toeskouers sal speel en die twee borrels sal waarskynlik bestaan uit die Curriebeker, Pro 14 en SuperRugby.
Die een idee is dat spanne in streke in die bio-borrel sal bly. In Gauteng sal die Bulle op Loftus kan bly om in Johannesburg teen die Lions kan speel.
Die ander idee is dat die borrel in die Kaap is en weens sentiment, die spanne straks steeds op Nuweland laat speel. Dit sal beteken dat al die spanne of in Durban of in Kaapstad in hierdie bio-borrel sal moet isoleer en speel.

Volgens White is dit ook moontlik en goedkoper om die beginspanne op ’n Woensdag te toets vir Covid voor die Saterdag se wedstryde, eerder as om die O-21’s, die senior span en die beamptes in ’n hotel te isoleer voor ’n wedstryd.

Wanner die Springbokke weer begin speel, sal die SuperRugby-spanne se kompetisie op ‘n krag-teen-krag basis gemeet word. White-hulle het daaraan gedink met die koop van spelers om, indien Duane Vermeulen, Liso Quoboka en Simpiwe Matanzima (nou beseer) opgeroep word vir die nasionale span, daardie gapings gevul sal word deur opkomende spelers.

’n Ander faktor wat White ingereken het by sy keuse van ’n mengsel van ou en jong bloed, is dat die spelers mekaar beter sal moet leer ken. Om dit te bewerkstellig, het hy met die hulp van die sportsielkundige, Henning Gericke, ’n stelsel geïmplementeer waar name in ’n hoed gegooi word en ’n senior speler, ’n junior se naam trek. Die twee moet dan sorg dat hulle mekaar beter leer ken op ’n sosiale vlak.
Hy meen ook dat daar tussen die Curriebeker- en SuperRugby-wedstryde wat oor 14 weke gespeel sal word, beslis kohesie in die span gekweek sal wees.
Dit sal beslis ook help as die leierskap in die span daarmee help, het White gesê.
Die Bulls sal hieroor ’n aankondiging maak volgende week.

“Ons wil wedstryde wen en as daar ’n eindwedstryd in Desember is, wil ons een van die spanne in die finaal wees.”

Volgens White is daar druk van die Bulle se borge af dat daar voor die einde van die seisoen, wel SuperRugby gespeel word: “daar is baie geld geïnvesteer in SuperRugby en die borge in sal een of ander formaat wil sien dat daar rugby gespeel word. Dit is ook een van die redes waarom die Australiërs en die Nieu-Seelanders nou ’n huishoudelike reeks speel, die borge wil blootstelling sien.”

“Ons wil uiteindelik krag-teen-krag in die Super-Rugbyreeks sien en dan in twee rondes, die Curriebekerspanne dit sien uitspook.”

*White het Donderdag eksklusief met ‘n groep joernaliste via Zoom gepraat.

Jake White, die nuwe Direkteur van Rugby by die Bulls, lig die rugbysluier so êffe oor die 2020-seisoen.
Foto: herald.ie

Related Posts

« »