JUKSKEI-DERBY RUGBY: LIONS WAG OP DIE BULLS

Mar 1 • General News • 32382 Views • Comments Off on JUKSKEI-DERBY RUGBY: LIONS WAG OP DIE BULLS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

 

Johannesburg

Die Vodacom Bulls se afrigter, Pote Human het nog ʼn voormalige Blitsbok ingesluit in die span wie Saterdagmiddag die magtige Jukskeirivier oorsteek om die Emirates Lions op hul tuisveld te gaan troef.

Of eerder, dis die hoop van die ondersteuners van die Blou span, te midde van voorspooksels van die 2018-seisoen se geskiedenis.
Die Bulls het verlede jaar tuis, vriend en vyand verras deur die Hurricanes 21-17 op Fort Loftus te klop, net om deur die einste Lions die week daarna met 35-49 afgestof te word.

Op die einste Fort Loftus.

Dylan Sage sal deeglik getoets word op binnesenter in die plek van die beseerde Burger Odendaal.

Die ander verandering wat noodgedwonge gemaak moes word, is die slot Eli Snyman, wie in die plek van Lood de Jager speel.

De Jager het sy skouer teen die Jaguares in Buenos Aires, verlede naweek beseer.
“Eli is soos ʼn seun vir my, hy het baie goeie vordering getoon en ek wil hom vir sy harde werk beloon,” het Human vroeër vandeesweek aan die media gesê.
“Ons gaan Burger se fisiese spel mis, maar Dylan het goed gespeel in die opwarmingswedstryde en hy is ʼn werkesel. Eli sal die lynstaan tekens roep,” het Human gesê.

Op die bank moes Human ook noodgedwonge aanpassings maak: Jannes Kirsten sal in die tweede ry van die Bulls-pak inskuif, indien hy speelkans kry. Divan Rossouw sal Sage se plek op die bank inneem.
Tim Agaba, Olimpiese Blitsbok vervang vir Thembelani Bholi in ʼn rotasieskuif.

Handre Pollard sal die kapteinskap oorneem by de Jager en Duane Vermeulen is die vise kaptein.

Human en die plaasvervangers-kaptein Pollard was dit eens dat die omstandighede in Suid-Amerika die Bulls uitgevang het, “die manne is baie teleurgesteld, veral na die goeie begin teen die Stormers en ons het die leiers in die groep om reg te gaan maak,” was Human se vertroosting vir die Bulls ondersteuners.

Intussen wag die Lions op die Bulls en maak geen geheim daarvan dat hulle die Pretorianers voorlangs gaan vasvat nie, “dis altyd ʼn grote as die Lions en die Bulls mekaar die stryd aansê. ʼn Klomp manne wil ʼn punt bewys: daar is die wie wil hand opsteek vir ʼn plek in die Bokspan en die wat wil wys dat hulle weer verkiesbaar moet wees in die posisie waarin hy speel.

“Ons voorspelers se spel sal van kritiese belang wees vandeesweek, soos gewoonlik. Dit begin voorlangs en dit is ons plan om die Bulls te skrum, losgemale te skep en wys van watter stoffasie hulle gemaak is.

“As ons dit doen, kan die agterspelers hulle self uitleef. Daar is geen geheim wat ons wil doen nie, ons wil hulle aan die gang hou en hul energie tap, “ het voorspelerafrigter Philip Lemmer aan die media gesê.

Die Lions het verlede jaar die dienste van staatmakers soos Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Franco Mostert, Andries Ferreira en Jaco Kriel verloor. Almal speel oorsee en boonop het Warren Whiteley ‘’n besering wat hom vir ten minste ses weke sal uithou.

“Ons sit nou met meer beweeglike spelers en ouens soos die nuwe vaskop Carlu Sadie, slot Rhyno Herbst, losvoorspelers Hacjivah Dayimani, Smith en Marnus Schoeman en die haker Pieter Jansen, bring ‘’n nuwe dinamika na die spel.”
Saterdagmiddag is dit ’n voortsetting van die Jukskei-derby, waar twee gewonde spanne na verlede naweek se nederlae, mekaar die stryd aansê.
Vir punte op die log, ja, maar ook vir die eer van ’n oorwinning teen ’n gedugte teenstander en buurman.

Spanne:

Lions: Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani, Kwagga Smith, Marnus Schoeman, Stephan Lewies, Rhyno Herbst, Carlu Sadie, Malcolm Marx (K), Dylan Smith. Bank: Pieter Jansen, Sti Sithole, Frans van Wyk, Robert Kruger, Vince Tshituka, Ross Cronjé, Franco Naude, Courtnall Skosan.

Bulls: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Jesse Kriel, Dylan Sage, Rosko Specman, Handre Pollard (K) , Embrose Papier, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Ruan Steenkamp, Eli Snyman, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. Bank: Corniel Els, Simphiwe Matanzima, Dayan van der Westhuizen, Jannes Kirsten, Tim Agaba, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Simon Riekert

@Nader_pale_toe

Malcolm Marx draf voorlangs uit vir die Emirates Lions as hulle Saterdag teen die Vodacom Bulls op Emirates Airline Park in Johannesburg kragte meet.
Foto: 15.co.za

Related Posts

« »