KAN JY DIE STATISTIEK GLO?

Oct 8 • General News • 1204 Views • Comments Off on KAN JY DIE STATISTIEK GLO?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Simon Riekert: Pretoria

Statistiek is ’n vreemde ding; jy kan dit so manipuleer dat jou argument sin maak, of jy kan ’n punt bewys, of dalk nie.
Kyk jy na die verskeie Suid-Afrikaanse rugbyderbies die afgelope paar jaar, is daar ’n duidelike patroon te volg al lê die skade wat Covid-19 se inperking aangerig het, wyd verstrooi op die rugbyveld.

SA Rugby het gepoog om in die stuiptrek-maande van die jaar wat oor is, lewe in die plaaslike spanne te blaas deur die Super Rugby Unlocked-reeks aan te bied, na afloop van die suksesvolle reekse in Australië en Nieu Seeland vroeër vanjaar.
Sewe van die land se spanne sal dit om rugby se plaaslike ereplek van 2020 uitspook.
Die Bulls, Lions, Sharks en Stormers wag vir die terugkerende Cheetahs en die nuwelinge, die Pumas en Griekwas. Wedstryde begin op Vrydag 9 Oktober.
Dan pak die Sharks en die Lions mekaar in die eerste van die sewe rondes in die kompetisie.

Die Stormers is die land se heel beste span as dit by derbies kom.
Hulle was suksesvol met 70 van hul 118 plaaslike wedstryde (59%).
Die Bulls is tweede beste, met 58%.
As jy die Cats en Kings weglaat uit die vergelyking, lê die Cheetahs heel onder met 32% en met slegs 25 oorwinnings in die laaste 77 wedstryde teen plaaslike spanne.
Die afgelope paar jaar was daar nie plek vir die Vrystaters in die Superreeks nie, maar sedert 2016 het hulle slegs driekeer teen plaaslike spanne gewen en dit bring hulle totaal op 21% te staan.

Voor grendeltyd was die Lions die plaaslike span met die meeste sukses in die Superreeks.
Sedert 2016 het hulle drie uit vier plaaslike derbies gewen. Dit maak dat die Gautengers met ’n 75% wenrekord spog. Net die Stormers met 55% het meer as die helfte van hul plaaslike derbies gewen in die vyf laaste seisoene.

Geen wonder dus dat hul Springbok losskakel, Elton Jantjies 273 punte in die vyf laaste seisoene opgestapel het nie.
Handré Pollard van die Bulls is in die tweede plek en al was hy lank beseer, het hy die prestasie reggekry met die helfte minder wedstryde gespeel as Jantjiese.

Jesse Kriel wat nou in Europa rugby speel, is die mees suksesvolste driedrukker ( 11 drieë in die vyf jaar van derbies). Die Lions se Ruan Combrinck het tien drieë gedruk en is naasbeste.

Intussen het die Bulls ’n nuwe breier gekry en die Lions sukkel om die pas te handhaaf van vroeër.
Die Sharks sal wil bewys dat hulle vêr van afgeskryf is en die Stormers sal wil voortbou op hul statistiese sukses.
Die Cheetahs, Pumas en Griekwas sal beslis een of tweekeer ’n paar van die grotes skrikmaak en sodoende bewys dat hul fut ver van uit af is.
Dit sal dus vir die manne wat die Groen-en-Goue baadjies uitdeel, loon om ag te slaan op die plaaslike derbies en dit wat die nuwe generasie rugbyspelers en spel na Covid-19 wil bewys.

www.supersort.com

Related Posts

« »