Koue aande en warm rugby van nou af

Mar 3 • General News, Super Rugby • 2552 Views • Comments Off on Koue aande en warm rugby van nou af

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Johannesburg- Simon Riekert #paletoe

So stil-stil het herfs ingetrek in die suidelike halfrond en só die begin van koue aande op nog kouer rugbypawiljoene aangekondig.

Jare gelede-dit voel soos die tyd toe dinosourusse nog rugby gespeel het- was rugby ʼn wintersport. Nou nie meer nie. Jy kan rugby dwarsdeur die jaar kyk, amper soos wat jy avokado’s tot in die lente kan kry.

Só sorg die studente dat ons op ʼn Maandag-aand die jong, opkomende talent op ons kampusse kan dophou en hoop dat dié talent binne ons grense bly.

Die Shimlas het Maandag die tweede plek op die punteleer behou nadat hulle die huidige kampioenspan, die NWU-Pukke in Bloemfontein met 35-23 afgeransel het.

Na vyf rondtes lyk die puntetabel so:

Span Gespeel Wenne Gelykop Verloor Punte
Maties 5 4 0 1 19
Shimlas 5 4 0 1 19
UP-Tuks 4 3 0 1 14
NWU-Pukke 5 3 0 2 13
UJ 4 2 0 2 11
UCT-Ikeys 5 2 0 3 9
Wits 4 1 0 3 6
NMMU-Madibaz 4 1 0 3 5
CUT-Ixias 4 0 0 4 0

Die top drie spanne het elk een wedstryd verloor, alhoewel Tuks een minder wedstryd gespeel het. Dit maak die kompetisie wawyd oop en letterlik enige een van die topspanne (met ʼn verassing of twee) kan die uitspeelwedstryde aan die begin van April maak.

Tyd vir ʼn nuwe kampioen?

Intussen het die harde realiteit van internasionale rugby die Superrugby spanne getref.

Die Stormers (Afrika 1) en die Jaguares (Afrika 2) sit stewig op die eerste posisie van die punteleer, terwyl die Lions ook vier punte het, maar ʼn swakker punteverskil het as die Jaguares, en dus die tweede posisie beklee.

Slegs die Sharks en die Cheetahs het bonuspunte verdien na die eerste rondte.

Vandeesweek se Saterdag-speelrooster lyk so:

WEDSTRYD PLEK GMT SA TYD
Cheetahs v Bulls Bloemfontein 17h30 19h30
Stormers v Jaguares Kaapstad 15h15 17h15
Lions v Waratahs Johannesburg 13h05 15h05
Sunwolves v Kings Singapoer 10h55 18h55
Brumbies v Sharks Canberra 08h45 19h45
Highlanders v Crusaders Dunedin 06h45 19h35
Hurricanes v Rebels Wellington 04h15 17h15

Die Suid Afrikaners het drie plaaslike wedstryde, Cheetahs v Bulls in Bloemfontein, Stormers v Jaguares in Kaapstad en die Lions v Waratahs in Johannesburg terwyl die Sharks hul Australiese toer voortsit.

BRUMBIES vs SHARKS

Beide spanne is onder druk na hul eerste ronde verlore teen onderskeidelik die Crusaders en Reds in die eerste rondte.

Beide spanne het geleentheid gehad om hul eerste rondte wedstryde te wen en daar sal toenemende druk op die Sharks wees om te bewys dat hul nuwe afrigter, Robert du Preez wel oorsee kan wen en so hul kanse behou om die Afrika 2 afdeling te domineer.

SUNWOLVES vs KINGS

Die een groot fout wat met die Super 18-toernooi gemaak was, was om die Sunwolves in te sluit. Hulle is eenvoudig net nie op dieselfde standaard as die ander spanne nie.

Gemeet aan nóg ʼn teleurstellende span in die kompetisie, die Kings, lyk die span uit die Oos Kaap soos ʼn klubspan en niks meer nie. Hierdie is seker die grootste aanklag teen Saru en sy blazer-bende om spelers van kleur te kry en te ontwikkel. Dit het helaas doodgeloop en hopelik met die vertrek van Cheeky Watson sal rugby in die Oos Kaap weer herleef.

Die Chiefs het die Sunwolves in Port Elizabeth verlede jaar gewen met 33-28 en dit sal hul motivering wees om dit weer te doen. Hulle sal ook met die hulp van die bestendige skopvoet van Lionel Cronjé, wat verlede week ses-uit-ses behaal het met die skopvoet teen die Jaguares, die naelskraapse verloor wil omskakel in ʼn weg-wen.

LIONS vs WARATAHS

Die Lions het al sukkelend die Cheetahs verlede week gebêre. Vandeesweek is dit ʼn perd van ʼn ander kleur met die Waratahs se goeie voorspelerspel wat vir Johan Ackermann se manne wag.

Op vaskop sukkel Rohan Dreyer net soos sy buurman van die Bulls, Trevor Nyakane. Dreyer het vyf strafskoppe afgestaan teen die Cheetahs en dit gaan leeuemoed kos om die vaste en gebroke spel te oorheers en die Waratahs voorlangs balbesit te ontsê.

Rohan Janse van Rensburg se senterspel was feitlik foutloos en hy sal die Waratahs se verdediging deeglik toets.

Ondersteuners van die Lions sal wonder wat met Faf de Klerk verkeerd was in die wedstryd teen die Cheetahs. Hy word vervang deur Ross Cronjé en die skuif behoort te verseker dat die Lions in beter aanvalsposisies sal kom.

STORMERS vs JAGUARES

Stert-in-die-lug; só kan jy die Stormers se vertoning van verlede naweek teen die Bulls op Nuweland beskryf. Die Kaapse span sit stewig in die eerste posisie op die punteleer na vyf skitter drieë. Robbie Fleck se span sal met selfvertroue uitdraf teen die besoekende Suid Amerikaners en hoop om die posisie op die punteleer met nog ʼn oorwinning te versterk.

Die Jaguares  het van verlede jaar af begin waarsku dat hulle enige aanvalsfoute vinnig omskakel in geleenthede vir punte, en dit sal die Stormers laat dink oor hul spelpatroon.

Die Stormers se voorspelers is in puik kondisie en die stewige fondasie sal weereens geleentheid skep vir drieë.

CHEETAHS vs BULLS

Die noord-suid derby van verlede naweek is deeglik beklink deur ʼn honger Stormers span wat die Bulls met vyf teenoor vier drieë verslaan het.

Dit was duidelik dat beide Rudy Paige en Handré Pollard nie naastenby op standaard was nie en daar is baie bespiegel oor die sukses met die oud-Vrystater, Trevor Nyakane op vaskop. Saterdag meet hy kragte teen ʼn ewe veelsydige Retshegofaditswe (Ox) Nché en Nyakane sal wil bewys dat die skrumlesse wat hy deur die Stormers se Janse van Rensburg geleer is, bly vassteek.

Fred Zeilinga se skopvoet het byna gesorg vir die eerste skokgolf in vanjaar se kompetisie, verlede Saterdag teen die Lions en hy sal die Vrystaters op die voorvoet hou.

“Hulle gaan hardloop rugby speel soos gewoonlik”, het Nollis Marais van die Bulls vandeesweek gesê.

“Ek verwag eintlik dat hulle uit die kleedkamer gehardloop sal kom, so gemotiveerd sal hulle wees.”

Nog ʼn oud-Vrystater wat die wedstryd van die pawiljoen af sal dophou, is Lood de Jager wat ernstige harsingskudding opgedoen het teen die Stormers. Hy word vervang deur die jong Jason Jenkins wat saam met RG Snyman die Bulls se nuwe Matfield en Botha-kombinasie kan word.

Related Posts

« »