MEYER SE BOKKE KAN GESKIEDENIS MAAK #PaleToe

Jul 24 • General News, International, Pale Toe, Springboks, The Rugby Championship • 2419 Views • Comments Off on MEYER SE BOKKE KAN GESKIEDENIS MAAK #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #PaleToe

Foto: Anton Geyser / Rugby 15

“Man dis ʼn moerse gevoel, daar is niks soos ʼn All Black wedstryd nie, vat nou maar die keer toe ons teen hulle gespeel het en Chris Laidlaw my hand gebyt het, Albie Bates het hom getackle en ek moes hom foeter.”-Frik du Preez
Die Springbokke en die All Blacks pak mekaar Saterdag vir die 90ste keer as hulle kragte meet in die Castle Lager Rugbykampioenskap op Emirates Airline Park in Johannesburg. Die All Blacks en Bokke speel al van 1921 in Toetsrugby teen mekaar en die eerste wedstryd is in Dunedin gespeel. Die Nieu Seelanders het daardie wedstryd met 13-5 gewen.
Die eerste Toetswedstryd op Ellispark tussen die twee lande, was in 1928. Die All Blacks het met 7-6 gewen. Nieu Seeland moes egter 64 jaar en 24 dae wag voordat hulle weer daar kon wen. In totaal is daar 13 Toetse tussen die twee aartsvyande op die veld gespeel. Die Springbokke het 9 gewen teenoor die All Blacks se 4. Die Bokke se wenpersentasie op die veld is 69% teenoor die All Blacks se 31%. Gemiddeld 4.5 drieë en 35 punte per wedstryd word op hierdie veld aangeteken.
Ellispark is dodelik vir die Bokke as hulle die Kiwis aanvat.
Vandeesweek was daar soos gewoonlik veel te sê oor Heyneke Meyer se spankeuses. Dit het begin by Victor Matfield se weglating weens ʼn besering en die insluiting van Lood de Jager. ‘Goeie, nuwe bloed’, is daar wyd en syd verkondig terwyl die eksperiment van drie weke gelede met Jesse Kriel, Damien de Allende en Handré Pollard geslaagd bewys is, ten spyte daarvan dat hulle toe maar 11 Toetse gesamentlik agter die blad gehad het.
Steve Hansen, afrigter van die All Blacks het gedurende die spanaankondiging maar bra lugtig geklink het vir Meyer se 10-12-13 kombinasie: “ Handré kan regtig in iemand spesiaal ontwikkel. Al drie die manne is baie goeie atlete. De Allende is ʼn groot sterk seun op No 12 en Kriel het laasweek gewys teen die Australiërs het hy spoed.
“Ek hoop om ter wille van die Springbokke vir Jean de Villiers gou weer terug te sien, maar as daar ʼn permanente verandering kom, gaan die drie die weg aandui vir die Bokke. Dan het die Bokke nog ʼn speler soos Pat Lambie wat ʼn ander dimensie na die spel toe bring. Daar is ʼn bietjie diepte daar”, het hy gesê.
Daar is, om maar ʼn paar potensiële knelplekke te noem, ʼn handvol spelers wat hul bes sal doen om Meyer te beïndruk.
So sal Lima Sopoaga, wat sy eerste Toets vir die All Blacks speel, noodwendig opgemeet word in die No10- trui. Hansen rus sy staatmaker losskakel, Daniël Carter en Sopoaga kry geleentheid om die diepte van All Black rugby te versterk, so ʼn vyftig of meer dae voor die Wêreldbeker in Engeland.
Handré Pollard sal die jong Kiwi fyn dophou. Die Nieu Seelandse pers meen dat Sopoaga se groot kans Saterdag aanbreek. Pollard is volgens hulle in ʼn opbou fase

Sy spel vir die Highlanders in die Superrugby-toernooi was foutloos met ʼn giftige skopskoen en sy vermoë om die bal in oop spasies in te dra, het hom ʼn staatmaker gemaak. Hy het veral goed gekombineer met die briljante Aaron Smith, Ma’a Nonu en Conrad Smith.
Gedagtig daaraan dat Pollard verlede jaar twee drieë teen die einste All Blacks op Ellispark gedruk het, sal maak dat die viermanskap die jong losskakel uit Bloubul land goed sal oppas.
Heinrich Brussow en Ritchie Mc Caw sal mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet, Brussow met die No 6 op sy rug. Meyer sal alles en nog meer wat ʼn oopkantflank moet doen van Brussow verwag, wat insluit om in Mc Caw se gesig te speel en die All Blacks se kaptein gereeld uit te lok om die onkantlyn oor te steek.
Dan Coles en Bismarck du Plessis gaan voorlangs die pap dik aanmaak en geniepsigheid sal aan die orde van die dag wees. Beide Bismarck en Coles het kort lonte en ʼn mens onthou hoe Coles geswig het voor die Engelse in London verlede jaar. Een ding is seker: du Plessis se waarde as ekstra losvoorspeler gaan beduidend wees veral in die eerste 60 minute van die wedstryd.
Heyneke Meyer draai geen doekies om as hy praat oor die Toets nie: “ dit gaan ʼn massiewe Toets wees-elke een teen die All Blacks is massief.”
ʼn Mens hoef nie te diep in die annale te gaan grawe om te besef watter reuse gebeurtenis ʼn Springbok Toets teen die All Blacks is nie.
Ons het die voorreg gehad om vroeër met die legendariese Frik du Preez oor ʼn All Black toets te praat: “ man dis ʼn moerse gevoel, daar is niks soos ʼn All Black wedstryd nie, vat nou maar die keer toe ons teen hulle gespeel het en Chris Laidlaw my hand gebyt het, ek moes hom foeter.”
Tony Johnson, joernalis en uitsaaier by die Nieu Seelandse Sky-TV het ook al ʼn keer teenoor ons erken dat ʼn wedstryd teen hierdie twee spanne, die hoogtepunt in menige ondersteuner en soeler se lewe is: “it doesn’t get any better than this mate, it’s the most important game an All Black player can play, and that’s against the Springboks.”
Die skeidsregter vir die wedstryd is Mnr. Jerome Garces van Frankryk. Dis sy vyfde toets waarby die Springbokke betrokke is. Die Bokke was vierkeer aan die wenkant en het eenkeer verloor. Hy het laas in November 2014 geblaas toe die Bokke teen Italië gespeel en 22-6 gewen het.
Afskop tyd is 17:05

Related Posts

« »