NIE NET MAAR NET NOG ‘N DERBY NIE: STORMERS V BULLS

Apr 26 • General News • 1121 Views • Comments Off on NIE NET MAAR NET NOG ‘N DERBY NIE: STORMERS V BULLS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die Vodacom Bulls, voorlopers op die Suid-Afrikaanse log, reis die naweek Kaaptoe vir die voortsetting van dit wat die plaaslike SupeRugby-spanne goed doen: speel die plaaslike derbies asof dit ʼn eindstryd is.

Vroeër vanjaar is Pote Human uitgevra oor die geneigdheid van die Vodacom Bulls om hul spelpeil ʼn hele paar meter te lig as hulle teen die plaaslike spanne speel, net om soos pannekoeke plat te val teen oorsese kompetisie.

“Dis iets waaroor ons gepraat het en wat ons beslis sal moet aanspreek, jy kan nie kompeterend in hierdie reeks wees as jy nie teen alle spanne kan wen nie,” was sy antwoord.

Kort voor die Bulls se loslootjie verlede naweek, lyk hul onlangse geskiedenis so: wen op 12 April 32-17 op Loftus Versveld teen die Reds en verloor 20-24 die 6de April tuis, teen die Jaguares.

Die Bulls het hul eerste loslootjie op 16 Maart gehad, net om die week daarna na Loftus terug te keer en ʼn 20-56 loesing teen die Chiefs te kry.
Hierdie keer speel die Bulls egter weg en kan die bygelowige deel van die Bulls se ondersteuners, asemhaal: dis nie ʼn tuiswedstryd na ʼn loslootjie nie.

Daarenteen loop die Stormers se storie so: na hul eerste loslootjie (8/9 Maart) het hulle die Jaguares op Nuweland verwoes met 35-8.

Hul tweede loslootjie kom eers op 11/12 Mei, waarna hulle op 18 Mei vir die Crusaders wag, en indien die Stormers tot dan toe suksesvol is (wen teen die Bulls op 27 April en wen weg teen die Jaguares op 4 Mei), sal hulle stert in die lug wees in afwagting op die Nieu Seelanders.

Maar eers terug na die hede: die Stormers het reeds hul toer na Australasië afgesluit, weliswaar met slegs een uit vier wedstryde gewen; 34-28 verloor teen die Hurricanes, 24-9 verloor teen die Blues, 24-12 verloor teen die Reds en toe die 24-41 wen teen die Rebels.
Met hul terugkeer na Nuweland die daaropvolgende week, wag daar toe ʼn sederende verrassing op die Kapenaars; die besoekende Brumbies klop hulle, teen verwagting in, tuis.

Die Bulls moet nog toer en tradisioneel is hulle dan op hul kwesbaarste.

Saterdag-middag se derby-uitslag raak dus al hoe interessanter vir die plaaslike spanne se log, maar om die te spekuleer oor die uitslag, is gevaarliker as ʼn joernalis se spekulasie op die Johannesburgse aandelebeurs.

Hier’s van die die spanne se geskiedkundige feite: die Bulls kon laas in 2011 op Nuweland wen. Dit was min of meer dieselfde Bulls span wat ʼn jaar tevore (2010) die laaste keer silwerware Loftus-toe kon bring nadat die Bulls die Stormers in Soweto om die 2010-SupeRugby-titel geklop het.

Die Springbokke was ook toe nog onder die top drie posisies in die wêreld van internasionale rugby.

Vergelyk jy die twee spanne, is dit die Bulls wie die meeste teruggesak het en die uitslae bevestig dit: die Stormers het 10 van die laaste 16 noord-suid derbies gewen.

Op Loftus Versveld op 16 Februarie vanjaar was dit egter ʼn deurmekaar Stormers span wat deurgeloop het onder die aanslag van die Bulls: die telling van 40-3 weerspieël die dag se sukses vir die span van die noorde.
Die betrokke dag was die Stormers se span bus laat, nadat hulle in ʼn verkeersknoop op die N1 vasgesit het (waarom slaap jy nie oor in Pretoria nie?)

Pote Human was Woensdag versigtig optimisties toe hy sy span vir die derby aangekondig het: “Ons was op en af wat die uitslae aan betref en ons moet bewys dat ons momentum kan behou vanaf die vorige vertoning. Die Stormers het hul laaste tuiswedstryd verloor, so hulle sal met mening wil vergoed vir die verlies. Hulle het ons laat les opsê die laaste keer toe ons daar was en die manne is reg om die bordjies te verhang. Dis meer belangrik om te bewys dat ons harde werk op sukses neerkom; ons was soms ons eie grootste vyande hierdie seisoen.”

Russel Winter, voorspeler afrigter van die Stormers was vroeër vandeesweek merkbaar opgewonde oor die feit dat Eben Etzebeth en JD Schickerling terug is vir die stryd: “dis goed om senior spelers soos Eben terug te hê, dis jammer ons slotte loop deur onder beserings, maar ons glo dat die twee hierdie naweek sal deurkom vir die span, ek glo albei gaan skerp wees na die aftyd weens beserings.”

Ons het ʼn harde les geleer toe ons (in Februarie) op Loftus deur die Bulls geklop is, ons sal die geleenthede om punte aan te teken geduldig moet afwag en beter balretensie moet hê om die voordeellyn oor te steek.”

Bulls: Warrick Gelant, Johnny Kotze, Jesse Kriel, Burger Odendaal, Jade Stighling, Handre Pollard (kaptein), Ivan van Zyl, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Marco van Staden, RG Snyman, Jannes Kirsten, Trevor Nyakane, Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. Reserwes: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Wiehahn Herbst, Thembelani Bholi, Paul Schoeman, Embrose Papier, Manie Libbok, Divan Rossouw.

DHL Stormers: Damian Willemse, Sergeal Petersen, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Kobus van Dyk, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (kaptein), JD Schickerling, Cobus Wiese, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. Reserwes: Bongi Mbonambi, Corne Fourie, Wilco Louw, Eben Etzebeth, Ernst van Rhyn, Justin Phillips, Joshua Stander, Seabelo Senatla.

 

Afskoptyd is 15:05

 

-Simon Riekert

@Nader_pale_toe

Related Posts

« »