OPWINDING LOOP, STATISTIEKE PRAAT: VODACOM BULLS TEEN DIE CRUSADERS

May 10 • General News • 1065 Views • Comments Off on OPWINDING LOOP, STATISTIEKE PRAAT: VODACOM BULLS TEEN DIE CRUSADERS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Loftus Versveld

Daar’s ʼn mooi stuk geskiedenis agter die Bulls en die Crusaders se rugby, 24 keer teen mekaar gespeel waarvan die Bulls 10 keer aan die wenkant was.

Die twee spanne het mekaar reeds in 1996 ontmoet toe die Superreeks begin het en op 3 April van daardie jaar, en het die Crusaders met die louere weggestap, 18-34.
Bykans ʼn jaar later, speel die Crusaders op Loftus Versveld en wen die tuisspan die besoekers met een punt: 23-22.
Die langste wat die Bulls die Nieu Seelanders agtermekaar kon wen, was drie keer in die tyd tussen 23 Mei 2009 en 22 Mei 2010.
Aan die verloorkant? Wel dit het vyf jaar geduur, tussen April 1998 en April 2002.

Die gemiddelde punte vir die Bulls teen die Crusaders in ‘n wedstryd is bykans 24 en andersom is dit 32 punte vir die Crusaders, só vandat hulle kragte meet.
Die Bulls het die grootste drag slae teen die span van Nieu Seeland (75-27) in 2000 gehad en dit was ʼn weg-wedstryd.

Op 7 Mei 2010, tuis het die Ligbloues die hoogste telling ooit teen die besoekers aangeteken, al was die punte verskil klein: 40-35.

As hulle teen mekaar speel, is die kans goed dat daar slegs 8.08 punte verskil in die eindtellings sal wees.

Vrydagaand pak die Vodacom Bulls die Crusaders op Loftus Versveld en soos op ander stadions, het Loftus die laaste ruk leeggeloop.

Met die hulp van die enigmatiese senior losvoorspeler van die tuisspan, Duane Vermeulen, hoop die BlouBulle Maatskappy (BBM) dat daar ten minste 20-duisend mense by die stadion sal opdaag.

Vermeulen het vroeër die week die BBM uitgedaag om kaartjies vir gesinne teen R20 per persoon aan te bied en na wat verneem word, is daar reeds twee van die drie dele op die pawiljoen, uitverkoop.

Toe Pote Human sy span aankondig, was daar reeds ʼn sigbare verligting op die breier se gesig oor die terugkoms van sy veteraan-haker, Schalk Brits.
Brits was vir vier weke geskors na ʼn insident in Maart met Akker van der Merwe in die wedstryd wat die Bulls teen die Cell C Sharks. gewen het met 19-16. 
Human se twee veranderings in die pak voorspelers, Brits en Jason Jenkins kom ten koste van Jaco Visagie (bank) en Jannes Kirsten wie die beseerde Hanro Liebenberg vervang.
Agterlangs vervang Andre Warner vir Ivan van Zyl (rotasie) met Embrose Papier op die bank en Burger Odendaal, wie verlede week moes onttrek weens ʼn oogbesering, is terug in die plek van Dylan Sage.

Odendaal se sentermaat is Johnny Kotze.

Intussen kla die Nieu Seelanders steen en been oor die skrums, na verlede naweek se groot skrik teen die Sharks; hulle is die span wat die tweede meeste strafskoppe afstaan in die toernooi en die Natallers het gewys dat die vaste fasette van die spel, die Nieu Seelanders dwing om onkant te speel.

“Ons wil skrum en die bal versprei, maar as jy teen ʼn span speel wie speletjies met jou speel en wisselvallig is by elke skrum, gaan jy die skrums laat val,” het Kieran Reid, agsteman gesê aan www.stuff.co.nz .

“As een skrum die momentum wil volhou en ons word nie daarvoor vergoed nie, is dit frustrerend en dis belangrik dat skeidsregters dit in ag neem en daarby leer. Dis belangrik dat dit nie oorloop na die res van die spel nie, ons werk daaraan.”

Verlede naweek het die Vodacom Bulls gewys dat hulle weer sterk staan in hierdie afdeling. Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane was die ene Springbok en saam met die vlugvoetige Simphiwe Matanzima, is dit geen wonder dat skrumafrigter Daan Human uitsien na die Vrydagaand-konfrontasie nie.

“Skrum is soos ʼn wetenskap op sy eie en as die spelers inkoop in die skrumproses en as ʼn eenheid ingaan, sal jy sukses hê,” het hy tydens Pretoria FM se Donderdagaand program, Rugby Radio aan Wynie Strydom gesê.

Die Crusaders is propvol All Blacks: Kieran Read, Matt Todd, Scott Barrett, Codie Taylor en Joe Moody, met ʼn versterkte agterlyn in senter Ryan Crotty, losskakel Richie Mounga en heelagter David Havili.

“Ons sal ons kanse van die begin af moet benut, want opvang -rugby teen hulle is baie moeilik,” het Handre Pollard, kaptein van die Bulls gesê.

Weereens geld die ou cliché: dinge begin voorlangs, maar as die Bulls Vrydagaand wél die Crusaders voorlangs kan vasvat en daarmee saam die oorhand oor spel kan kry, in die besoekers se gesigte boer op verdediging en baie belangrik, kalm bly, kan die telbord gunstig lyk vir die Pretorianers.

Rasta Rashivenge is die fluitjieblaser en sy vertolking van die vaste fasette se reëls laat min kansvatters toe, ditto as die spel los begin raak.

Dit kan dalk ʼn goeie Vrydag vir die manne in blou word.

Afskoptyd is 19:10.

Spanne:

Vodacom Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Cornal Hendricks, 13 Johnny Kotze, 12 Burger Odendaal, 11 Rosko Specman, 10 Handre Pollard (kaptein), 9 Andre Warner, 8 Duane Vermeulen, 7 Jannes Kirsten, 6 Marco van Staden, 5 RG Snyman, 4 Jason Jenkins, 3 Trevor Nyakane, 2 Schalk Brits, 1 Lizo Gqoboka
Plaasvervangersbank: 16 Jaco Visagie, 17 Simphiwe Matanzima, 18 Wiehahn Herbst, 19 Thembelani Bholi, 20 Paul Schoeman, 21 Embrose Papier, 22 Manie Libbok, 23 Divan Rossouw

Crusaders
15 David Havili, 14 Sevu Reece, 13 Jack Goodhue, 12 Ryan Crotty (captain), 11 George Bridge, 10 Richie Mo’unga, 9 Bryn Hall, 8 Kieran Read, 7 Matt Todd (kaptein), 6 Jordan Taufua, 5 Scott Barrett, 4 Mitchell Dunshea, 3 Michael Alaalatoa, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody
Plaasvervangersbank: 16 Andrew Makalio, 17 Harry Allan, 18 Oliver Jager, 19 Luke Romano, 20 Whetukamokamo Douglas, 21 Mitchell Drummond, 22 Mitchell Hunt, 23 Braydon Ennor

-Simon Riekert

@Nader_pale_toe

Duane Vermeulen en sy spanmaats is gereed vir die Crusaders op Loftus Versveld.
Foto: 15.co.za/Vodacom Bulls

Related Posts

« »