Super Rugby 2015 laat Smiley glimlag en frons

Feb 7 • General News, Pale Toe • 3913 Views • Comments Off on Super Rugby 2015 laat Smiley glimlag en frons

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dit gebeur soms dat ek iemand onverwags raakloop om dan met die groetslag met  ʼn  bek vol tande te staan en wonder, waar ken ek jou vandaan? Soms onthou ek, soms nie. Dit maak nie saak nie, want kort voor lank is ek en my “gas” besig om oor alles wat saak maak, te gesels. So asof tyd gaan stilstaan het.

Dis dieselfde met hierdie rubriek. Jy sou Pale Toe! elders op die internet onder ‘n ander baadjie raakgeloop het, net om hom weer hier op Rugby15 te kom kry. Hier is hy tuis, en soos al die ander stories hierlangs, gaan dit nét oor rugby.

Tyd het gaan stilstaan … of nie?

Ek tel sewe dae af voor die Super rugbytoernooi van 2015 afskop. Sewe dae kan dêm kort wees as jou huis nog nie in orde is nie. Dit kan net so lank raak as jy wel reg is. Ek het al soveel keer in die verlede gewonder wat werklik in ‘n afrigter se kop aangaan, so ‘n week voor een van die rugbywêreld se strafste toernooie afskop.

Ons weet mos nou al teen die tyd hoe hulle en kapteins klink kort voor die seisoen afskop: “ ja, die manne is reg, ons het hier en daar ‘n speler met ‘n niggle of twee maar die res van die span sien uit na die seisoen… ons hoop maar die beserings bly weg… dis te vroeg om voorspellings te waag en ons speel die toernooi maar wedstryd vir wedstryd…”

Intussen is hulle -ook maar mens- meer senuweeagtig as wat ons dink. Daarom vra ons gereeld in hierdie rubriek die menings van kenners. Ouens wat self die trui oor die kop getrek het en die vlinders in die maag gevoel het om, volgens hul mening ‘n bietjie meer lig te werp op wat aan die binnekant van die spankamer aangaan. Ons het vandeesweek die hulp van Werner Swanepoel ingeroep vir ‘n voorskou oor die Super rugby-toernooi.

Werner was Joost van der Westhuizen se spanmaat, het ook skrumskakel gespeel en 20 keer vir die Springbokke uitgedraf tussen 1997 en 2000. Hy het ondermeer vir die Cats, Bulls en Worcester (Engeslse Kampioenskapsklub) gespeel tot in 2004.

Werner is aan die woord: “ die spanne sal nou die tyd aftel na volgende naweek se openingswedstryde, en sal graag die teleurstelling van  verlede jaar toe geen span om die trofee kon uitspeel nie, wil vergeet en fokus op 2015.”

“Die Bulls het nie sleg gevaar in hul voorwedstryde nie, maar hul skrumwerk is kommerwekkend. Trevor Nyakane, ‘n invoerproduk van die Cheetahs af, is nie ‘n goeie skrummer nie. Ander nuwelinge in die Bulls-stal wat waarde sal toevoeg, is manne soos Adriaan Strauss (wat onder Heyneke Meyer by die Blou Bulle gespeel het) en Lappies Labuschagne. Die Bulls moes verlede seisoen sonder die dienste van Arno Botha (flank) en kaptein Pierre Spies (agtsteman) klaarkom. Daar is baie druk op die unie hierdie jaar en die toeskouers het gepraat; hulle wil weer wenrugby sien. Ek dink die spelers weet dat die Fourie du Preez-era finaal verby is en dat daar positiewe resultate van Frans Ludeke en sy span verwag word. As dit nie goedgaan met die span teen die eerste twee rondes nie, sal Ludeke se diepte beslis getoets word.”

“Ek dink Frans en sy adjudante het baie gepraat oor die Bulls se wedstrydplan. Bly hulle by die eendimensionele styl wat trots Bloubul-rugby is, of speel hulle soos die Pollards, van Zyls, Hougaards en Potgieters kan skop, en ek bedoel takties skop. Speel jy nou ‘n wedstrydplan wat jy weet vir jou werk met voorspelers wat domineer, of bring jy nommers 9 en 10 in die taktiese deel van die spel in? “

Die Bulls sal volgens Werner, graag eerder twee-drie taai plaaslike spanne wil speel voordat wedstrydplan en taktiek, om nie eens van beserings te praat nie, ‘n rol begin speel.

“Wie wil nie graag eerder die Crusaders in die eerste twee weke van Super rugby speel nie as dat hulle vir jou wag teen die einde van die toernooi.”

Oor die Stormers sê Werner dat vir hulle dieselfde genade geld. “Vir die publiek is dit altyd die noord-suid derby en die ondersteuners eis ‘n wen. Die Stormers met Gert Smal en Henning Gericke wat met die manne se koppe werk, het reeds bewys dat hulle planne het met die Super seisoen van 2015.”

“Die een ding wat my bekommer is hoe die manne na iemand soos Allister Coetzee gaan luister as hulle weet hy staan met een voet op die vliegtuig op pad Japan toe. Robbie Fleck en Matthew Proudfoot-hulle sal van Gert Smal se leiding afhanklik wees om te verstaan hoe die span vanjaar hul spel en planne bymekaar gaan hou.”

Werner sê: “Bongi Mbonambi en Wilco Louw uit die Bulls se stal, sal hul spel versterk en hulle mag dit dalk meer nodig hê vanjaar as wat hulle tans besef.”

Die Sharks maak vir Werner opgewonde. “ ‘n Man soos Brendan Venter gaan beslis ‘n verskil maak by hulle. Ek het saam met hom gespeel en alhoewel hy ‘n moeilike mens is, is hy takties briljant. Hy en Gary Gold sal onder die leiding van John Smith baie sukses hê, as dinge vir hulle reg loop. Die Sharks het onlangs in hul opwarmingswedstryd teen Toulon gewys dat hulle ‘n goed gebalanseerde span is en met ‘n planmatige Gold uit die Springbok stal, sal hulle een van die spanne wees wat die Suid-Afrikaanse vlag gaan dra.”

“Die Cheetahs se diepte, veral voorlangs gaan teen hulle tel. Goosen is weg en dit gaan bars gaan met Joe Petersen op hierdie vlak. Naka en Os sal vir Willie le Roux en Lood de Jager slim moet gebruik, nie net om posisionele spel af te forseer nie, maar ook om leierskap uit te oefen,” sê Werner.

Hy meen dat Willie le Roux die Super toernooi sal moet gebruik om sy hand op te steek vir die Springbokke wat later vanjaar om die wêreldkroon meeding. “Willie se spel het die laaste jaar ingesink en alhoewel ek ‘n aanhanger is, sal hy moet bewys sy oog is nog in en hy het nie grootkop gekry nie.”

“Johan Ackermann van die Lions het die regte bouresep vir sy span. Julian Redelinghuys, Warren Whiteley en Marnitz Boshoff het nuut gekontrakteer en daar wag goeie jare op hulle en die span onder die leiding van Ackers. Hulle mag dalk nie vanjaar uitstyg nie, maar hulle is ‘n span vir die toekoms.”

Werner meen dat die topspanne se spelers onder groot druk sal wees om goeie rugby te speel, nie  net vir die Supertoernooi nie, maar omdat Heyneke Meyer waarskynlik slegs ‘n paar spelers se name met ‘n potloot op sy Wêreldbeker-spanlys ingevul het.

“Volgende naweek hierdie tyd is rugby-tyd. Die manne moet maar hierdie naweek bou aan die Brownie-points want as die seisoen afskop, gaan daar min tyd wees vir tuistakies en Mamma se gemoed…!”

Artikel deur Simon Riekert

Related Posts

« »