Puma-eendrag maak mag

Jul 18 • General News, SuperSport Challenge • 1916 Views • Comments Off on Puma-eendrag maak mag

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die iCOLLEGE Pumas se SuperSport-sukses is ‘n duidelike voorbeeld van eendrag maak mag.

Die Laevelders se welslae in hul onoorwonne seisoen waarin hulle in elf wedstryde agtereenvolgens gewen het, getuig van ‘n grootse spanpoging, sê die Direkteur van Afrigter by die Pumas, Jimmy Stonehouse.

Stonehouse eien nie die welslae aan homself toe nie, maar prys almal van die nuwe president, AG Visser, die hoofbestuurder Pieter Burger, die kaptein van die Pumaskip tot die werknemers aan die onderpunt van die organisasie.

Die Pumas het die welslae onder moeilike omstandighede behaal, in ‘n tyd waarin ‘n nuwe hoofborg aan boord gekom het en ‘n nuwe afrigtingstruktuur gevorm is.

Stonehouse prys die manier hoe hy, die hoofafrigter Brent Janse van Rensburg en die agterspeler-breier MJ Mentz mekaar se hande sterk gemaak het in die veldtog.

“Ek sien Brent se harde werk elke dag raak, terwyl MJ die agterspelers onder sy vleuels neem terwyl ek oorhoofs, asook vir die skrums en dryfmale verantwoordelik is,” sê Stonehouse.

Hy komplimenteer ook die gees in die span en die vergrote Pumafamilie waarin nie net die spelers nie, maak ook vrouens hande vat.

Dit was ook vir Stonehouse belangrik dat elke speler in die gekontrakteerde groep speeltyd moes kry en elkeen het minstens twee wedstryde gespeel.

“Elke speler glo nou dat hy ‘n kans staan om te speel en die mededinging in die groep is gesond.”

Hy is ook vol lof vir die mediese personeel wat hard agter die skerms gewerk het nadat daar in Februarie nog ‘n gros spelers beseer was.

Die nuwe lojale borg het met die naweek se eindstryd uit hul pad gegaan om die groot Pumafamilie in staat te stel om die eindstryd by te woon.

“Ons het orals gevlieg en so min as moontlik bus gery,” vertel Stonehouse uit die binnekringe.

Hy is ook vol lof vir Nelspruit se rugbygemeenskap wat die span baie lojaal ondersteun soos die naweek toe die kuierplekke gepak was om die eindstryd dop te hou.

Die Pumas het in 2013 ‘n rekordgetal 16 wedstryde agtereenvolgens onder Stonehouse gewen en dalk maak hulle dié rekord in die Curriebeker skrik.

Hulle skop dié reeks juis op 8 Augustus in Nelspruit weer teen die Griekwas af.

Daardie wenskop van Justin van Staden na 26 fases nadat speeltyd verby is, is ‘n getuigskrif dat een swaeltjie nie ‘n Puma-somer maak nie.

Related Posts

« »