SA RUGBY: JY IS WIE JY SÊ JY IS

May 16 • General News • 1062 Views • Comments Off on SA RUGBY: JY IS WIE JY SÊ JY IS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Ek en die kopdokter, Dr. Jannie Putter is Facebook vriende. Hy is ʼn raadgewer van formaat, wat met groot sukses al individue en sportspanne se koppe geswaai het oor die dinge van die lewe.

Een van die dinge van die lewe, is die lewenswáárheid “jy word soos wat jy praat”. Op Engels sê dit so mooi: “you become what you say you are.”

Nog ʼn kubervriend en mede-joernalis, JW Coetzee skryf vandeesweek in sy SuperWrap-rubriek oor hierdie lastigheid en hy trek dit deur na die huidige stand van sake in ons rugby, “(A)s a rugby nation we are what these bosses settled for, and what they settled for on our behalf is very little. It is about time this whole deal they have with the rugby-loving public gets renegotiated.”
Sonder om sy artikel oor te skryf of om te probeer plagiaat pleeg, gaan ek ook die onderwerp kop-aan-kop loop.
Soos hy sê, ons as ʼn rugbynasie het blykbaar boedel oorgegee, want die rugbybase het gesettle vir bitter min.

Johan gebruik verder die voorbeeld van Bulls afrigter Pote Human wat by die wedstryd verlede naweek teen die Crusaders op Fort Loftus, tydens die nabetragtings onderhoud die volgende te sê gehad het: “óns het verkeerde besluite met tye gemaak , maar dis maar een van daardie dinge. Hulle is ʼn goeie span en jy kan dit nie van hulle af wegneem nie, ons weet ons beter as die vertoning wat ons gelewer het, as jou gesindheid reg is kan jy enigiets doen en hierdie was eenvoudig nie goed genoeg nie.”

Klink dit vir jou ook of Pote erken willens en wetens dat sy span nie omgee oor die uitslag nie, of lees ons hom verkeerd?

Terug na die Sharks se besoek aan Loftus, ʼn maand of twee terug. Hoofafrigter en voormalige BlouBul Robert du Preez word uitgevra na die Sharks se vertoning nadat hulle 37-14 deur die Bulls geklop is, “ ja, dis maar so, die plaaslike derbies is moeilik, ʼn mens kan maar nie daarvandaan wegkom nie.”
Intussen het die Sharks een van die beste SuperRugby-toere ooit na die Nieu Seelanders en Australiërs gehad en selfs die gevreesde, briljante Crusaders gelykop aangedurf. Daar is speels op sosiale media gekorswel dat die Sharks oraloor moet speel behalwe tuis, en so die punteleer domineer, altans ten minste hier plaaslik.
Waarom Sharks?

Johan haal huidige statistiek aan in sy berig: Suid-Afrikaanse spanne het tot dusver slegs twee van agt wedstryde teen die Nieu Seelander in die toernooi gewen. In 2016 was dit 9 oorwinnings van 37 wedstryde gespeel.

Ja, daar is ʼn leegloop van talentvolle spelers en senior spelers na die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar, maar dis nie ʼn nuutjie vir ons nie.
SARU is reeds lankal daarvan bewus, en het saam met Rassie ‘n paar omkeerplanne in plek probeer kry, wat uiteindelik ʼn volstruisskop teruggegee het weens die uitvoering van die reëls oor buitelandse en plaaslike spelers wie vir die Springbokspan sou kon kwalifiseer.

Oud-speler en gevierde Supersport-kommentator, Naas Botha het by verskeie geleenthede al gepleit dat die finansiële model van Suid-Afrikaanse rugby hersien moet word.

Tradisioneel toer die Bulls nie goed nie, maar Pote reken dat hulle nou op ʼn goeie plek is, doer onder, al is hulle ver van die huis af.

“Die manne besef die belangrikheid van die wedstryd, ons wil nie net deelneem nie ons wil graag in die uitspeelwedstryde speel, vir ons is dit ʼn moet wen.”
Op ʼn vraag of dit ʼn sielkundige blokkasie is vir die spelers om nie “op te daag” by krities belangrike wedstryde nie, was sy antwoord dat dit ʼn tameletjie is om uit te sorteer, hy weet die spelers kan beter, en uiteindelik kom die antwoord: hy dink dis ʼn sielkundige ding wat reggestel moet word hierdie naweek.
Soos elke naweek, Pote.

Ek het op my Twitter-rekening die laaste ruk mense gehad wat allerlei lelike dinge oor Pollard sê, soos dat hy nie meer committed is tot die BlouBul-brand nie, hy nie die tradisie van BlouBul-rugby eer nie en dat hy sommer net slapgat is.
Soos Stormers, Sharks en Lions ondersteuners, is die Bulls-ondersteuners passievol oor hul span en maak die huidige stand van sake van hul unies se vertonings, hulle kwaad.

“Pollie het deur ‘n moeilike tyd gegaan oor sy keuse om Frankryk toe te gaan, maar hy het my verseker dat hy nog committed is tot sy kontrak eindig.”-Pote.

Dit is te verstane as jy na die beloftes luister wat los en vas deur afrigters gemaak word in die voorseisoene, dat ondersteuners nou gatvol is vir ons spanne se vertonings.

Alan Zondagh, direkteur van rugby by die Bulls het vroeër vanjaar met ʼn groep van ons gepraat en sy hart oopgemaak oor Bulls rugby en rugby oor die algemeen in die land.

Nommer een vir hom is die Bulls het geld probleme-soos baie ander franchises- en moet van spelers ontslae raak. Dis hoofsaaklik junior spelers wat oor-gekontrakteer was deur vermoedelik die besluit van die beleërde Xander Janse van Rensburg, voormalige hoëprestasie bestuurder wie nou ondersoek word vir ongemagtigde uitgawes by die unie.

Tweedens moet ons nie vergeet nie, Zondagh se salaris word deur Anton Rupert-hulle betaal wie ʼn aandeel in die besigheidsbeen van die BlouBulle Maatskappy (BBM) het. Dit lyk onafwendbaar dat Rupert-hulle een of ander tyd gaan sê genoeg is genoeg en die hele franchise kommersialiseer eerder as om ʼn bodemlose put van spelers te koop, kweek en dan te laat gaan vir die geldgod.
Dis hoe ek Zondagh gelees het tussen sy gevoel en Naas s’n; “the buck stops here.”
Tewens hy het laat blyk dat hy ‘n paar kaarte in sy mou het met die Bulls en die leegloop van die spelerskorps.
Wanneer dit gaan gebeur, weet ons nie.

Soos Johan hierbo sê, dis tyd dat die rugbypubliek iets baie beters onderhandel as die huidige status quo.

Die beste onderhandelingstaktiek is met ondersteuners se bywoning van wedstryde: stem met die voete.

Die kopdokter het gesê jy word wie jy sê jy is.
Ek hoop ek beleef die dag wanneer ons afrigters sê ons is die beste rugbynasie in die wêreld en dat die Crusaders in die SuperRugby-reeks gelukkig is om punte teen ons aan te teken.

Ons kan weer die beste in die wêreld word.

Want ons is.

Johan Coetzee se Twitterblad is hier: @jwcoetzee
Myne: @Nader_pale_toe
-Simon Riekert

As spenne weer wen, sal die stadions weer vol raak. ©R15/PaleToe

Related Posts

« »