Schoeman in begin span vir Pumas

Aug 15 • General News • 3563 Views • Comments Off on Schoeman in begin span vir Pumas

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die witkopflank Marnus Schoeman speel Vrydagmiddag in Nelspruit die eerste keer in meer as 20 maande in die Pumatrui wanneer die Laevelders hul Curriebeker-veldtog teen die Griekwas afskop.

Schoeman speel die 30e keer vir die Pumas wat baie meer kon wees indien hy homself nie verlede jaar in die rugbywoestyn bevind het nie.

Die spesialis sesflank het vanjaar as deel van die Leeus se SuperRugby-groep nuwe lewe in sy loopbaan geblaas.

Jimmy Stonehouse is nog altyd ‘n Schoeman voorstander en het nie gehuiwer om op sy knoppie te druk vir die Curriebekerreeks nie.

Schoeman se flankmaat is Stefan Willemse wat die Pumas drie lynstaanspesialiste gee.

Willie Engelbrecht, een van die span se staatmakers, begin weer op agtsteman.

Simon Westraadt se insluiting as haker is ‘n klein verrassing met Marko Janse van Rensburg wie nie in die groep ingesluit is nie.

Andrew Beerwinkel is bo die rekordhouer vir die meeste wedstryde, De-Jay Terblanche, op die bank ingesluit.

Die spil waarom dié span se taktiese besluitneming draai is die skakelpaar Stefan Ungerer en Christopher Smith, wie albei diep spore in die Curriebeker kan trap.

Neil Maritz is ook terug in die tuig nadat hy verlede jaar in ‘n enkele wedstryd vir die Pumas gespeel het terwyl Ryan Nell op buitesenter ingesluit is.

Die laaste vesting word aan die veelsydige Gerrit Smith toevertrou.

 

Pumas teen Griekwas:

Gerrit Smith; JP Lewis, Ryan Nell, Hennie Skorbinski ©, Neil Maritz; Christopher Smith, Stefan Ungerer; Willie Engelbrecht, Stefan Willemse, Marnus Schoeman, Cameron Lindsay, Le Roux Roets, Marné Coetzee, Simon Westraadt, Kwezi Mona. Reserwes: Frankie Herne, Andrew Beerwinkel, Hugo Kloppers, Jeandré Rudolph, Reynier van Rooyen, Justin van Staden, Trompie Pretorius.

Related Posts

« »