SKEIDSREGTERS: DIS TYD VIR VERANTWOORDING

Feb 25 • General News • 1851 Views • Comments Off on SKEIDSREGTERS: DIS TYD VIR VERANTWOORDING

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Simon Riekert: Johannesburg

Hierdie was beslissings wat nie eens op klubvlak toegelaat behoort te word nie, tewens dit behoort nêrens só op ’n rugbyveld toegepas te word nie.
Dis doodeenvoudig onnosele besluite deur professionele mense. Dit doen die beeld van skeidsregters glad nie goed nie.

Die afgelope naweek sit ek in die media losie op Loftus. Dis ’n nat, koue Saterdagaand en vir Pote Human en sy span is hierdie een van die belangrikste wedstryde in die die vroeë fase van die SuperRugby-reeks van 2020: hulle móét hierdie tuiswedstryd teen die Blues wen.

Die Bulls se vasbyt-ondersteuners het die eendeweer trotseer, net om later druipstert huiswaarts te keer nadat hulle span vir die soveelste keer nie die uitklophou kon plant nie.

Blues 23 Bulls 21.

By die nabetragtings-mediakonferensie/nuuskonferensie was Pote Human stilweg befoeterd.

Op ’n vraag of die skeidsregter die blaam moet dra vir die uitslag, was Pote sigbaar ontsteld, maar het diplomaties laat weet dat hulle die oppergesag op die veld is. Hulle pas die reëls toe. Finish en klaar.

Vroeër die aand het ’n kollega, na die hoeveelste aanhoudende gemors wat Marius van der Westhuizen, Cwengile Jadezweni, Divan Uys en Joey Klaaste-Salmans van die wedstryd maak, spontaan kommentaar gelewer.

Die media losie was, om die minste te sê, witwarm, vol opinies en dit was nie net beperk tot die duikslag van Burger Odendaal op Emoni Narawa nie. Daar was genoeg ander bedenklike besluite om oor kommentaar te lewer.

“Hoekom laat ons toe dat skeidsregters nie ook na afloop van ’n wedstryd die media se vrae beantwoord nie, wat maak hulle so besonders? Enige professionele sportmens beantwoord die media se vrae oor hulle vertoning, waarom laat SARU nie die skeidsregters dieselfde behandeling kry nie, hulle wil tog as professioneel bekendstaan?”

Vroeër Saterdag het die Stormers se vaskopstut Frans Malherbe onder ewe veel kontroversie deurgeloop.
Malherbe het in sy aanloop om ’n laagvat te maak sy ewewig verloor, gegly in die proses en met sy skouer met die opponent se kop kontak gemaak. Hy het ook ‘n geel kaart gekry.

Dis hoe SuperXV Rugby dit beskryf het: “16.00: YELLOW CARD! FRANS MALHERBE IS SIN-BINNED FOR A NO-ARMS TACKLE, DEEMED TO BE DANGEROUS FROM REFEREE RASTA RASIVHENGE AND TMO WILLIE VOS. BIZARRE CALL! 3-0”

Sosiale media is propvol gedebatteer oor die twee insidente; die een geval ’n onopsetlike glips en ‘n vorentoe val en die ander ’n geval van ’n verdedigings laagvat wat as teksboek-voorbeeld gebruik kan word.

Nie een van die twee laagvatte was opsetlik en doelbewus uitgevoer om die reël te oortree en ’n besering te veroorsaak nie. Video’s van die twee gevalle wys dat die aanvaller bydra tot die kontak deurdat hulle hul liggaamsposisies doelbewus laer maak voor die laagvat uitgevoer word. Die Jagaures speler is eintlik die een wat met sy kop in die kontak in lei.

In beide gevalle het van der Westhuizen en Rasivhenge reuse blapse aangevang deur te bepaal dat die duikslae geelkaarte werd is.

Hierdie was beslissings wat nie eens op klubvlak toegelaat behoort te word nie, tewens dit behoort nêrens só op ’n rugbyveld toegepas te word nie.
Dis doodeenvoudig onnosele besluite deur professionele mense. Dit doen die beeld van skeidsregters glad nie goed nie.

Ek het reeds genoem dat Pote byna Saterdag oorgekook het, maar die ironie van die skeidsregter se beslissing was toe Pote om sy mening daaroor gevra is, “dit het verseker ’n invloed op die verloop van die wedstryd gehad, maar die protokol vereis dat ek daaroor moet stilbly.”

Van van der Westhuizen en Rasivhenge hoor jy niks.

Skeidsregters word deur ‘n paneel van hul eie geassesseer, maar niemand behalwe hulself het toegang tot die proses nie. Niemand mag uitpraat nie, niemand mag vooraf of daarna ‘n woord rep nie.

Sogenaamde “protokol” weerhou hulle van kommentaar, vrae en antwoorde.

Ons, die publiek en die joernaliste wie rugby slaafs navolg, is gemuilband, op die smoel geklap danksy die stilswye wat deur die sogenaamde grootbase van rugby opgelê is.

Die einste spul dinosourusse wat wêreldrugby beheer het alle rugbyunies die leviete voorgelees oor hierdie sogenaamde hoogvat-reël: enige kontak met die opponent se kop is ’n kaart, finish en klaar. Jy kan gelukkig geag word as dit ‘n geel kaart is want daar is bitter min wat oorgelaat word vir interpretasie en die verloop van die spel.

“Ek het eers gehoor dis ‘n rooi kaart, en toe verminder hulle dit na ‘n geel kaart, ek moet seker dankbaar daaroor wees,” het die kaptein van die Bulls, Burger Odendaal moedeloos na die wedstryd gesê.

Dieselfde kollega het sy stem by ander kollegas se menings gevoeg; laat spelers dan skrumpette dra as daar dan soveel klem op kopbeserings gelê word en pas die kop-kontak reëls dan ook aan by die afbreekpunte en skrums waar die soort kontak onvermydelik is.

Jy kan seker wees dat hierdie belaglike en robotagtige beheer van wedstryde mense goed moerig gaan maak.

Ek verwelkom dit.

Só ontwikkel die spel en sy reëls, maar so sal skeidsregters uiteindelik gedwing word om diskresie toe te pas en hul eie gesonde verstand te gebruik.

Ons as joernaliste, wie die spel namens ons lesers dophou, dring egter daarop aan dat skeidsregters ’n paar minute na die wedstryd by ons kom sit, met of sonder ’n limonadetjie.

Ons het altyd ’n hele paar vrae om te vra en ons verwag eerlike antwoorde, nie wat uit die raadsale van rugby se paleise voorgesê word nie, maar die waarheid uit die perd se bek.

Ons dink ons almal en bowenal rugby verdien dit.

BURGER ODENDAAL SE TEKSBOEK-DUIKSLAG OP EMONI NARAWA VERLEDE SATERDAG OP LOFTUS VERSVELD.
©ANTON DE VILLIERS

Related Posts

« »