SPRINGBOKRUGBY SE KRUISPAD 2.0

Nov 23 • General News, International, National, New Zealand, Pale Toe, South Africa, South Africa, Springboks • 3517 Views • Comments Off on SPRINGBOKRUGBY SE KRUISPAD 2.0

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
Allister Coetzee Springbok Coach

ALLISTER COETZEE, AFRIGTER VAN DIE SPRINGBOKKE

Simon Riekert-Pretoria

Allister Coetzee gaan (weer) afgedank word, tesame met sy hulpafrigters en die hele boksemdais (sôrrie vir die toevallige verwysing na “bok”) by die rugbypaleis van die nasionale span in Kaapstad.
Dis altans só as jy die interwebs glo en verdermeer is Deon Davids van die Kings die volgende hoofafrigter van die Springbokke.
Ja swaer.
Coetzee en sy span is vandeesweek baie suutjies Italië toe vir die voorlaaste wedstryd in die Suid Afrikaners se jaareinde-toer. ʼn Toer wat rampspoedig begin het met ʼn rekord loesing van 38-8 teen die Iere en wat Coetzee en Kie baie graag eerder op ʼn positiewe noot sal wil afsluit.
Dit is verbysterend dat ons, na die rampspoed van 2016 en die Azzuri se eerste (weer ʼn rekord) oorwinning teen die Bokke (20-18) in Florence, nie ʼn sentimeter aanbeweeg het nie. Ons vrees weereens vir ʼn verloor, teen Italië.
Coetzee-hulle het verlede naweek ʼn net-net oorwinning oor Frankryk gehad (18-17) en selfs na hierdie sukkel wedstryd, vrees sy spelers vir ʼn verloor teen die Italianers.

As daar nog nooit ʼn geleentheid was om die realiteit van Springbok-rugby se verval oor die laaste paar jaar te beklemtoon nie, is die tyd nou ryp.

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber (nee, ek weet ook nie hoekom hulle saam-saam loop nie), is terug op ons bodem. Nienaber is ʼn voormalige assistent-Bokafrigter en SARU-hoëprestasie bestuurder.
Erasmus moet omsien na die agt nasionale unies en speler-, afrigter- en skeidsregters se ontwikkeling.

Verder as dit is ons nog in die duister oor Rassie se direkte rol by die nasionale span.

My oog vang vroeër vandeesweek die onderhoud met Avan Lee, HUB van die Hurricanes. Hy praat oor Nieu Seeland se konstante sukses op die rugbyveld.

Als maak sin as jy die videosnit klaar gekyk het. Kyk hier: https://www.youtube.com/watch?time_continue=53&v=hYQ9p3Qo1ZE

Kortliks sê hy eintlik dit wat ons reeds weet (maar nie doen nie) om suksesvol te wees, soos dat die SuperRugby-afrigters weet dat die groot sterre oral in Nieu Seeland, selfs die wêreld kan gaan speel, maar dat hulle verkies om tuis te bly en die All Black-brand net nog beter wil maak.

Hier is van Lee se opmerkings wat tussen die oë tref:
• ʼn trotse Nieu Seelandse rugbykultuur wat nasionaal uitgebrei word
• ʼn trotse rugby omgewing waarin die spelers beweeg
• ʼn familie-gevoel tussen die spelers (die Barretts bly ʼn paar kilo’s van die stadion af en sal nie trek nie)
• ʼn besef dat hulle supersterre is maar dat hulle ʼn trotse nasionaliteit het
• ʼn nederige waardering vir die klubs (Hurricanes, Crusaders, Chiefs, Blues, Highlanders) deur die publiek en spelers
• ʼn gunstige omgewing waarin daar afgerig word (hy rig self nou nog ʼn skolespan af)
• ʼn broederlikheid van afkoms soos die Savea’s wat lojaal bly teenoor die Hurricanes
• ʼn gesonde interaksie tussen die klubs oor die kommersiële en besigheidsbesluite wat geneem word vir spelers en die spel
• die onaantasbare sukses van sentrale kontraktering van spelers
• die gemeenskaplike doel dat streekspanne en –klubs saamwerk om die All Blacks ʼn sukses te maak
• ʼn werklike nederigheid by die spelers, beamptes en afrigters
• ʼn duidelike aanduiding van welke administrateurs en afrigters beskikbaar is aan die einde van die seisoen

Die video maak my skaam om ʼn Springbokondersteuner te wees.

Gaan kyk dit gerus en maak dan jou stem baie dik vir radikale verandering in ons geliefde nasionale spel.

Ons is dit aan onsself en ons nasate verskuldig.

Intussen, bid maar saggies vir die Springbokke se wedstryd teen die magtige Italië, Saterdag.

Related Posts

« »