STORMERS V LIONS: KAN DIE TUISSPAN OPSTAAN?

Feb 21 • General News • 1220 Views • Comments Off on STORMERS V LIONS: KAN DIE TUISSPAN OPSTAAN?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

-Simon Riekert: Johannesburg

 

Verlede Saterdag het die Emirates Lions vriend en vyand verras en die vloek van verloor teen die Suid-Amerikaanse Jaguares in hul agterplaas gaan breek.
Vir die Johannesburgers, wie ʼn groot gros van hul staatmakers aan die einde van verlede seisoen verloor het, was hierdie oorwinning net die regte moetie.
Marnus Schoeman, belowende jong flank wat sy rugby by Tuks begin speel het en ook deel was van die nasionale O-20 span van 2009, het gewys dat daar geen plaasvervanger vir durf en talent is nie.
Hy was in 2015 ʼn lid van die seevierende Steval Pumas-span wie die Vodacombeker vir die eerste keer gewen het. Schoeman was ook die Pumas se voorste driedrukker (sewe in die seisoen).
Verlede Saterdag het hy weer so gemaak; driekeer agter die doellyn gaan kuier.
“Marnus is net een van daardie spelers met spesiale talent, een van die manne wat uitgaan en die job doen, ons is so gebless om hom en sulke manne by ons te hê,” het Swys de Bruin, hoofafrigter van die Emirates Lions vroeër vandeesweek gesê.
“Ons moes noodgedwonge in verdedigingsmode ingaan omdat die kondisies net te moeilik was vir hardlooprugby. Dit was soos om in Durban te speel.”

Vandeesweek durf die Lions die DHL Stormers in Kaapstad aan.
Teen hierdie tyd het die Facebook- en Twitter sêgoed oor die Stormers se epiese verloor teen die Vodacom Bulls verlede naweek, reeds begin taan.
Die realiteit van die verloor het ingeskop; “dit is amper of alles kon verkeerd loop, dit was nie net een ding nie, ons het die foute herhaal en dit het ons onder druk geplaas, ons het nie ʼn goeie vertoning gehad nie,” het Dawie Snyman, agterlyn afrigter van die Stormers Woensdag gesê.

“Almal het introspeksie gehad, nie net die spelers nie, maar die afrigters ook. Ons was teleurgesteld met die reaksie toe ons onder druk was, maar dit was een van daardie dinge wat maak dat ʼn reeks goed verkeerd gaan en ons verhinder het om aan die gang te kom.”

Aanvalsafrigter van die Lions, Neil de Bruin verwag dat die Stormers met mag en mening hul reputasie op Nuweland sal verdedig; “hulle is ʼn trotse span en ons verwag ʼn terugveg van hulle. Om in Kaapstad teen hulle te speel, is altyd moeilik en hierdie naweek gaan hulle nog dieper delf.”
“Daar is altyd ʼn groot gros trots in rugby en hulle sal wil uitkom om te bewys verlede naweek was ʼn misvat. Ons sal op ons beste moet konsentreer. Ek dink ook ons moet besef dat die Bulls ʼn blitzkrieg gelewer het op Loftus, ons moet dit ook raaksien.”

Swys De Bruin meen dat die Buenos Aires-wen die regte begin was vir sy span se selfvertroue vanjaar; “ die wen het ons baie selfvertroue gegee en ook bygedra tot ons momentum wat die sleutel sal wees vir die reaksie van die Stormers. Dit was lekker om ’n goeie begin te kon hê en om ’n eerste weg-wen teen die Jaguares aan te teken.”

De Bruin weet maar al te goed dat dit die begin van die seisoen is; “dit was vêr van volmaak af, maar ons vat dit. Daar was manne met groot harte en om so te verdedig soos hulle gedoen het, wys vir my ons het manne met karakter.”

DIE EMIRATES LIONS SAL WIL VOORTBOU OP HUL EERSTE RONDE SE SUKSES AS HULLE DIE DHL-STORMERS OP NUWELAND AANVAT.

Related Posts

« »