SUPERRUGBY: SUID-AFRIKAANSE KONFERENSIE IS BY OMRAAI VERBY

May 24 • General News • 228 Views • No Comments on SUPERRUGBY: SUID-AFRIKAANSE KONFERENSIE IS BY OMRAAI VERBY

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dis maak of breek vir die Vodacom Bulls en die Cell C Sharks hierdie naweek en as hulle hoegenaamd nog dink aan die SuperRugby-konferensietitel, of selfs net konferensiewenners, sal hulle moet uithaal en wys.

Die wispelturigheid van die plaaslike konferensie se spanne die afgelope twee-drie maande maak dit nie juis makliker om ʼn patroon te volg nie, allermins om ʼn voorspelling vir die plaaslike konferensiewenner te waag.


As jy die Jaguares se kanse opweeg, gebaseer op hul vorige vertonings en hul mede-stryders in die Suid-Afrikaanse konferensie, het hulle die binnebaan vir die louere.


Hulle speel teen die Waratahs en Reds binne die volgende twee weke en gedagtig aan hoe goed hulle teen die Hurricanes in Wellington gevaar het, moet hulle die gunstelinge wees vir die laaste paar uitspeelwedstryde.
ʼn Ander voordeel in hul guns is dat hulle tuis speel, daarna teen die Sharks en die Sunwolves.


Die volgende vier weke gaan deurslaggewend vir ons woer-woer konferensie se tuisgebak wees, en bonuspunte gaan die verskil maak.


Ja ek weet, dis ʼn ou cliché, maar as die Bulls “die geloof het” soos hulle afrigters gereeld daarvan praat, sou die volgende drie weg-wedstryde oorwinnings moet beteken met verkieslik, bonuspunte.
Die druk is volledig op Pote se span met ʼn afwesige Pollard en statistiek wat wys dat hulle in laas in 2007 op toer behoorlik suksesvol was.


Maar Pote reken dat die Brumbies tans speel soos ʼn plaaslike span; hard voorlangs en twee of drie spelers wat bresse kan slaan, en drieë kan druk.


“Ons verdedig baie goed onder druk en die Brumbies gaan baie druk op ons plaas, maar ons kan nie laat slaplê nie,” het hy vroeër vandeesweek gesê.


Duane Vermeulen wie die span Vrydag aanvoer, moet volgens Rassie se Bok-ruskode, rus vir twee wedstryde, dus is hy uit vir die Nieu Seelandse been van die toer.
Leierskap, benewens sy kritiese posisionele spel sal als tel en dit is inderdaad wat Pote Human meen as hy sê: “daar is genoeg leierskap in die span, Hanro Liebenberg en Burger Odendaal was al die span se kapteins en ek kan op hulle knoppies druk.”
Realisties gesproke, mits hulle die Brumbies wedstryd  soos ʼn derby hanteer-en wen- kan hulle uitsien na ʼn goeie kans teen die lam Blues in die daaropvolgende week.
En ʼn oorwinning teen die Highlanders die week daarna? Ek is nie so seker daaroor nie, maar ʼn 60% gunstige toerrekord oorsee is goud werd vir enige Suid-Afrikaanse span, sal enige een van die vier franchises se afrigters vir jou sê.


Die wenner in Durban in die derby tussen die Sharks en die Lions sal die laaste kans op die uitspeelgeleenthede hê vanjaar.


Dis die geen omdraaipunt en vir die verloorder is dit neusie verby.


Die Sharks moet nog steeds na hierdie naweek teen die Hurricanes tuis speel en daarna die Jaguares weg aandurf terwyl die Stormers wag op hul terugkeer, die week daarna.


Intussen sit die Lions en wag vir die Stormers en Hurricanes volgende naweek-tuis- en reis dan oor die magtige Jukskei vir ʼn eindronde-geveg met die Bulls op Loftus.
Die Hoëvelders speel, mits hulle kliek, rêrig goeie hardlooprugby en as hulle dit volgende drie weke kan voortsit, mag hulle met hierdie jong span, verras en die uitspeelrondes haal. As hulle tussen vyf of tien bonuspunte kan insamel, kan hulle met groot selfvertroue Pretoria-toe reis.


Op Nuweland wag die Stormers op ʼn desperate Highlanders-span, en in verlede naweek se gelykop speel teen die Crusaders (en die vuurspoeg op Twitter oor Marius Jonker se Groot Blaps), mag daar dalk ʼn verrassing of twee kom.


Hulle speel die volgende drie van hul finale vier wedstryde op Nuweland en mag bonuspunte opstapel teen die Sunwolves.
Die permutasies oor wie waar kan eindig, is vol aan die gang en daar is als om voor te speel in die volgende vier weke.
Is dit die Crusaders en Hurricanes en dalk die Highlanders met ʼn spoegseltjie Australië en Suid-Afrika tussenin hier aan die einde van 2019 se seisoen?


Als begin môre met die Bulls se tweede aanslag in Australië.


Is jou SuperBru voorspellings reg?

 

-Simon Riekert

@Nader_pale_toe

Het die Lions die wil en die span om weer vanjaar in die Superrugby-eindtsryd te speel?
Foto: Frans Lombard #ActionpixSA

Related Posts