VYF DINGE WAT ONS UIT #SUPERHEROSUNDAY GELEER HET

Feb 8 • General News • 1555 Views • Comments Off on VYF DINGE WAT ONS UIT #SUPERHEROSUNDAY GELEER HET

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die eksperiment met die #SuperHeroSunday-rugbyspektakel, verlede Sondag het blykbaar gewerk, te oordeel aan die bywoning en terugvoer.

Vir die eerste keer in die Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis het die betaalkanaal DStv, hande gevat met Marvel Worldwide Inc., die strokiesprent vervaardigers, om karakters soos Captain America, Thor, Black Panther en Spiderman na die rugbyveld te lok.
Duisende rugbyliefhebbers het ingekoop en die vooruitsig vir die plaaslike derbies, wanneer die spanne weer hul strokiesprent-truie aantrek, lyk belowend.
Maar watter gevolgtrekkings kan ons uit die naweek maak en hoe lyk die gewone rugby-ou en sy vrou se verwagtings vir die seisoen?

1. Rugbyliefhebbers wil vermaak word

Op die veld en van die veld af, wil rugbykykers vermaak word. Rugby het ʼn wêreldwye skouspel geword en soos enige ander show, bly die druk op die spelers en unies om aanskoulikheid na die rugbystadions terug te bring. Die vermaaklikheid strek verder as die vermoë van die twee spanne op die veld om drieë te druk; mense wil entertain word, rugby het so saai soos ou bakhuis-brood geword, mense soek weer opwinding.

2. Niks het verander vir die spelers nie

Die rugbypuriste en ouer garde mak dalk grom of selfs neus optrek vir die skouspel-idee, maar wees gerus, vir die spanne, afrigters en spelers het die spel nog steeds prioriteit. Selfs ʼn opwarmingswedstryd tussen die Bulls, Lions, Sharks en Stormers laat afrigters en kapteins na afloop, soek na antwoorde. Vir sommige kapteins en spelers sal ʼn wedstryd soos byvoorbeeld die noord-suid derbies nooit in die kategorie van feesrugby val nie, en is ʼn verloor net so ongemaklik as gedurende die top seisoen.

3. Rugbystadions kan weer vol raak

Kom ons wees eerlik; rugbyunies het die afgelope paar jaar benoud toegekyk hoe stadions al hoe leër begin raak, borge het begin brom en ondersteuners het al hoe meer tuis gebly. SuperRugby se kykerstal het merkbaar gedaal in die suidelike halfrond en administrateurs het kopgekrap. As die tipe vermaaklikheid opgedis kan word met aanskoulike rugby en bekostigbaarheid (ʼn kaartjie vir vier mense het R150 gekos by #SuperHeroSunday), sal die mense terugkeer stadion toe.

4. Verwagtings bly, vermaak gly

Afrigters mag dalk stilweg grom oor die showmanship wat onder die dekmantel van feesrugby aangebied word, maar in hul binnekamers het niks verander nie; “ek slaap sleg,” het Pote Human van die Bulls ʼn week of twee gelede gesê oor sy span se beseerdes. Robert du Preez het geweet dat die Sharks se verrassende oorwinning in die Curriebekerfinaal verlede jaar, die druk stewig op sy span sit om momentum te hou vir die SuperRugby-seisoen. Daarmee saam dreig die administrateurs van die WP om die trotse franchise te laat inkonk met diaboliese politieke speletjies en Swys de Bruin bou aan ‘n nuwe span met ‘n gevestigde kultuur. Op die ou einde, soos Naas Botha sou sê, wil die toeskouers resultate sien, en niks meer nie. Anders bly hul weg.

5. Dis ʼn Wêreldbekerjaar

Hoeveel keer die feit en stelling herhaal word, maak nie saak nie; dis ʼn Wêreldbekerjaar en elke speler sal die Groen-en-Goud oor hul koppe wil trek. Rassie Erasmus, Springbokafrigter, het die laaste paar maande gereeld by die verskeie unies opgedaag met sy bloudruk vir vanjaar se aanslag op Wêreldbeker sukses onder die arm. Die boodskap vanaf die franchises se afrigters is eenparig: ons het ingekoop. Hulle en die spelers vertel gereeld tydens onderhoude dat die fokus nou net op SuperRugby is, maar almal weet, suksesvolle SuperRugby-spanne se spelers speel in die Boktrui en daardie prentjie is stewig in die agterkop geliasseer.

Daar bly ʼn naweek van laastes oor; laaste eksperimente met spelers, posisies, kombinasies en wedstrydplanne.
Knap na Valentynsdag begin die SuperRugby-toernooi in die suidelike halfrond.
Maanskyn en rose gaan dit nie wees nie.
Net klipharde, effektiewe wenrugby vir die land se spanne is goed genoeg vir sukses met vanjaar se SuperRugby-toernooi.

-Simon Riekert

@Nader_pale_toe

#SuperHeroSunday het gewerk om die skares te lok, maar wat van die res van die SuperRugby-toernooi?

Related Posts

« »