WÊRELDBEKER 2015: DIE OOMBLIK VAN WAARHEID VIR DIE SPRINGBOKKE #PaleToe

Sep 16 • General News, International, Pale Toe, Rugby World Cup, RWC 2015, Springboks • 2993 Views • Comments Off on WÊRELDBEKER 2015: DIE OOMBLIK VAN WAARHEID VIR DIE SPRINGBOKKE #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #PaleToe!

Foto: Anton Geyser

 

“Mense moet verwag dat ons by die omstandighede sal aanpas en nie dat ons noodwendig dieselfde styl sal speel as wat hulle gewoond aan is in die Superrugby-kompetisie nie: Heyneke Meyer, Springbok Hoofafrigter.

 

Die twee kusdorpe Brighton en Eastbourne, aan die suid-oostelike kus van Brittanje huisves die afgelope week ʼn baie belangrike groep uit Suid Afrika. Die twee stede, 38 kilometer van mekaar af is die tuiste van die Springbokke voordat hulle kus langs afreis na die nuwe Brighton stadion, ʼn luukse sokkerstadion wat gasheer speel vir die Bokke, Saterdag en Sondag vir die Samoane se wedstryd teen die VSA.

Ricardo Loubscher, die Springbokke se agterlyn afrigter sê gister dat die weer goed lyk vir die naweek, “maar dat die Springbokke gewys het dat hulle onder alle omstandighede kan speel en dat hierdie nie ʼn uitsondering is nie.”

Loubscher sê die Bokke het groot respek vir Japan, veral omdat hulle deur Eddie Jones afgerig word: “hy is ʼn wêreld klas afrigter en was saam met Jake White ʼn groot faktor in die Bokke se afrigting, ons moet reg voorberei en reg wees vir enigiets op die dag, ons moet die kanse wat opkom benut en goed afrond.”

“Die noordelike halfrond dwing selfs die groot sterre van die rugby wêreld om konserwatief te speel. Die velde is swaar en meestal nouer as die rugbyvelde waarop ons speel met kleiner in-doel areas omdat dit eerder vir sokker gebou is.

Die Bokke speel drie van hul vier poel wedstryde op sokkervelde.

“Die spel is stadiger, dis ʼn meule en dit is ʼn groot aanpassing vir die suidelike halfrond se toeskouers om hieraan gewoond te raak. Die spel vloei stadig en selfs by die afbreekpunte is daar min vloeiende spel.” So meen Werner “Smiley” Swanepoel wat deel was van die 1999-Wereldbeker en self sy rugby op skrumskakel in Engeland gespeel het.”

Die Springbokke is onder geen illusie as dit by hierdie speelomstandighede kom nie.

“Ons het reeds maande voor die tyd die toestande in Engeland vir vanjaar se Wêreldbeker bespreek en nagevors, dit help dat van die spanlede aan die noordelike halfrond se toestande gewoond is omdat hulle daar klubrugby speel, selfs Japan se omstandighede kan goed met Europa vergelyk”, het Heyneke Meyer in ʼn onderhoud aan Pale Toe! gesê.

“Mense moet verwag dat ons by die omstandighede sal aanpas en nie dat ons noodwendig dieselfde styl sal speel as wat hulle gewoond aan is in die Superrugby-kompetisie nie.

“Ek sal ook kyk om spelers in te sluit wat in meer as een posisie kan inpas omdat die omstandighede daar soveel anders is as hier. Dit mag die een oomblik helder oopgetrek wees en ʼn paar minute later val die reën en wind pla jou skoppers”, het Meyer kort voor die Bokke se vertrek gesê.

Dit gaan beslis nie aanskoulike rugby wees nie, in elk geval nie vir die suidelike halfrond spelers nie. Wen is al wat tel en soos Meyer dit duidelik gestel het, “skoppe wen Wêreldbekers en hierdie een is nie uitgesluit daarvan nie.”

Naas Botha het dit beaam nadat hy oor die rol van skopwerk gepols is, “almal se speelveld is dieselfde, dit reën en skyn son oor almal, maar ʼn skopper wat sy sout werd is gaan die verskil maak in strategie en in punte.

“Skopwerk daar is ʼn ander soort dissipline, jy kry nie baie kans om strafskoppe pale toe te mik nie en as jy dit kry moet jy die punte vat.”

Heyneke Meyer het dit kategories gestel dat die Springbokke nie konserwatief sal speel nie.

“Ons sal nie konserwatief speel nie, al meen sommige kommentators so”, het hy tydens ʼn onderhoud gesê.

“Mense moet verstaan dat die situasie soms verg dat jy anders moet speel. As jy binne jou 22m area is en die opposisie skuif spelers agtertoe, dan hardloop jy, maar as dieselfde opponent sy verdedigingslyn op jou 22m area het, kan jy nie hardloop nie, dan skop jy.

“As ons spelers beskikbaar het in jou eie 22m area sal ons altyd hardloop. Dis glad nie dat ons die bal elke keer wegskop nie. Jy moet skop om óf jou posisie te verbeter op die veld óf om aan te val en seker te maak jy kry die bal terug.

“Ons speel nie net skop en hardloop nie en ook nie die tipe stampkar rugby waarvan ander kommentators praat nie. Die afbreekpunte is baie belangrik en as jy balbesit op die voorvoet so kan kry, maak dit net sin om met jou voorspelers te domineer.

“Ek het dit al gesê, maar Wêreldbekers word gewen deur goeie skopwerk. Jy moet ook sorg dat jy goed afrond want ons kan drieë druk.

“Jy moet ook sorg dat jy dieselfde spelpeil handhaaf in al sewe wedstryde, anders gaan jy dit nie maak nie. Jy moet die druk kan verwerk en daarvoor het jy ervaring nodig.”

Engeland en Europa is ʼn goeie jagveld vir die Springbokke. Hulle laaste twee Toetse op Twickenham was in 2012 (SA 31-28 Eng) en 2014 (SA 16-15 Eng) en teen Skotland (wie ook in dieselfde poel as die Bokke is) lyk hul rekord so: 18 keer in Skotland gespeel (SA wen 13 Skotte 5) en die mees onlangse telling was op 17 November 2013 toe die Springbokke die Skotte met 28-0 op Murrayfield verslaan het.

Teen Frankryk lyk dit só: 18 gespeel, die Bokke wen 12 en Frankryk 5 met een gelykopstryd. Die mees onlangse Toets is op Stade Francaise gespeel waar die Bokke in 2013 met 19-10 gewen het.

Teen Ierland lyk dit bietjie anders, 15 wedstryde is in Dublin gespeel waarvan die Bokke 9 gewen het, die Iere 5 en een gelykop stryd. Die mees onlangse wedstryd tussen hulle was op 8 November 2014 toe die Iere die Bokke met 29-15 geklop het. Die Springbokke kon laas in 2012 met 16-12 teen die Iere seëvier.

Wallis het ook onlangs met die Bokke afgereken, in 2014 het hulle 12-6 gewen in die Millennium Stadion. Van die 18 Toetse daar het die Springbokke 15 gewen, Wallis 2 en een wedstryd was gelykop.

Die Springbokke open hul Wêreldbeker rekening teen Japan Saterdag middag. Dit is die eerste keer dat die twee lande op Toetsvlak kragte meet.

Meyer het sy sterkste moontlike span gekies wat só daar uitsien:

Span: Zane Kirchner, Lwazi Mvovo, Jesse Kriel, Jean de Villiers (k), Bryan Habana, Pat Lambie, Ruan Pienaar, Schalk Burger, Willem Alberts, Francois Louw, Victor Matfield, Lood de Jager, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Tendai Mtawarira

Plaasvervangers: Adriaan Strauss, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Fourie du Preez, Handré Pollard, JP Pietersen.

Related Posts

« »