As ‘n slot jou nommer het… #PaleToe

Mar 5 • General News, Pale Toe • 3711 Views • Comments Off on As ‘n slot jou nommer het… #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dit is die nommer 2 van haker Bismarck du Plessis.

Hierdie 30 jarige speler van die Sharks en die Springbokke het die afgelope naweek weereens bewys dat hy mense se moermeter in die rooi druk sonder om hard te probeer.

Die insident tussen hom en Victor Matfield op Loftus Versveld in die Superrugby wedstryd tussen die Bulls en die Sharks, het tonge los gehad. Inteendeel, dit gons nog steeds hieroor.

Maar wie is die prikkelbeer van die voorry en waarom is hy gereeld in die moeilikheid?

Bismarck is ‘n boerseun, soos sy dokter-broer Jannie. Hulle is harde manne wat die houe van die lewe kan uitdeel, maar ook manne wat die houe op die rugbyveld kan vat.

Bismarck Wilhelm du Plessis is ‘n produk van Grey Kollege in Bloemfontein wat reeds 32 Springbokke opgelewer het in 2008, dieselfde jaar toe hy en John Smit in Peter de Villiers se Bokspan was. ‘n Jaar vantevore was hy en boet Jannie op die bank in die Wêreldbeker-finaal. Maar meer hieroor ‘n bietjie later.

Du Plessis se pa Francois moes ophou boer weens Parkinsons se siekte. Hy en Jannie het die beesboerdery oorgeneem en ma Jo-Helene het die familie se matriarg geword. Sy is die een wat haar seuns laat verstaan het studeer is beter as rugby speel. Soveel so dat sy Jannie laat somme maak het halfpad deur sy mediese studies toe hy ‘n aanbod van die Pumas kry. Sy het hom help besluit om sy studies te voltooi en dan rugby te speel.

Daar word vertel dat die kompetisie tussen die twee broers (hulle het nog ‘n jonger broer en ‘n suster) van kleins af hard en meedoënloos was. Pa Francois het ‘n sementbaan gebou teen ‘n koppie waar hulle mekaar uitgedaag en moeg gehardloop het. Daar het die broederband begin wat vandag nog hou.

Bismarck is al beskou en beskryf as gevoelloos, onaangenaam en grof. Tog sê sy broer Jannie hy het ‘n sagte hart en hy bel of sms sy ma elke aand om 20:10.

Die afgelope naweek se onderonsie met Matfield is nie die eerste en die enigste tussen die twee nie.

Dit word gesaghebbend vertel dat die einste Matfield hom reeds getreiter het tydens sy debuut vir die Sharks in 2005.

Die Bulls en Sharks het ‘n Superrugby opwarmingswedstryd in die Bakwena-stadion naby Sun City gespeel en volgens die Bulls se tradisie, moet enige nuweling wat teen hulle sy debuut maak in die voorry, eers “getoets” word.

Dit was Matfield se beurt om die jong knaap in te lyf en tydens die eerste skrum was die vuishou blykbaar so hard soos ‘n geweerskoot.

Bismarck het sy beurt afgewag en Victor bygedam: “ ek word nie geïntimideer nie, ek is ‘n bietjie rof, ‘n bietjie vuil en soms speel ek so.”

Dis Bismarck.

Nou terug na die 2008 storie.

Vir die eerste keer in sy rugbyloopbaan het hy voor ‘n tugkomitee verskyn nadat hy die All Black, Adam Thompson met die hand in die gesig bygedam het en die oortreding as “baie ernstig” beskou is. Hy is toe vir drie weke geskors.

In 2011 maak hy weer so.

Hy  en John Smit was deel van Peter de Villiers se Drienasies-span. Smit was op die bank.

De Villiers het hom ‘n uur laat speel teen die All Blacks in Port Elizabeth en Smit laat opkom. Dit was nie wat die jonge du Plessis wou hê nie en hy het hoorbaar reageer met ‘n “fuck that” en kopskuddend die veld verlaat.

Nodeloos om te meld, was die reaksie van die media en toeskouers een van skok en afkeer. Daar was ernstige bespiegelings oor die verdeeldheid in die Bokkamp. ‘n “Mamma’s boy” het een berig hom genoem.

Hier was ‘n begaafde jong Springbok besig om vir hom ‘n internasionale naam te maak (hy het ‘n vaskop teen die gevreesde All Black skrum gehaak), net om deur roekeloosheid sy eie en die beeld van die span, insluitende die van kaptein John Smit met ‘n plank te slaan.

Alhoewel die 2013 insident met Dan Carter nog vars in almal se geheue lê, het sy kort humeur (‘n elmboog op Liam Messam se keel), veroorsaak dat die Springbokke vir 39 minute in die tweede helfte met 14 man moes speel.

Du Plessis is ‘n man met ‘n kort lont wat hom gelyktydig geliefd en gehaat maak. Sy humeur kos sy span punte en dit skaad sy beeld as leier.

Dit was die afgelope naweek de ja vu  toe Matfield weereens onder sy vel inkruip.

Toegegee, Matfield was verkeerd om hom sonder die bal te speel, maar Bismarck het vergeet dat die internasionale rugby reëls bepaal: “Retaliation. A player must not retaliate. Even if an opponent is infringing the Laws, a player must not do anything that is dangerous to the opponent. Sanction: Penalty kick “ (Reel 10 (l))”.

Toe Pollard vir die drie punte aanlê en die TV kameras op du Plessis fokus, doen hy sy bekende temperament gestand. Die duidelike “fok jou, fok jou” was nie gemik op die skeidsregter nie.

Soos in 2005, was hierdie reaksie weer gemik op die groot Bloubul-slot en Springbok spanmaat.

Victor Matfield het beslis “Bissie” se nommer.

 

Artikle: Simon Riekert

Foto: @HowzitJax

Related Posts

« »