Hoeveel redes is daar vir die Bokke om te wen teen die Wallabies?

Sep 9 • Analysis, General News, Springbok News, Springboks • 2043 Views • Comments Off on Hoeveel redes is daar vir die Bokke om te wen teen die Wallabies?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Daar is maklik vyf, ses redes om na die Bokke se opkomende Toets teen die wallabies te kyk, en ek meen krities te kyk, sê Simon Riekert van #Pale Toe.

Kom ons bly by vyf.

Die Springbok-brand:

As jy probeer kommentaar kry uit oud-spelers, en veral ʼn generasie of wat gelede se spelers, bly die deur vir jou toe. So ook kry jy geen reaksie van oud-afrigters nie. Dis asof daar ʼn gordyn hang oor die Springbokke van weleer en dit wat tans opgedis word in die naam van die Groen-en-Goud. Adriaan Strauss se aankondiging dat hy nie meer internasionale rugby gaan speel nie, was die spreekwoordelike kat in die duiwehok. Intussen wil Allister Coetzee geen koerant lees nie; “ek lees nie koerante nie, gelukkig het ons geen koerante in ons spankamers nie, ek sal dalk koerant lees as dit krieketseisoen is.” Dit was na aanleiding daarvan dat ʼn koerant hom gevra het na die Bokke se aura van onoorwinlikheid, wat hy goedsmoeds afgemaak het.

Feit is, daar buite dink oud-spelers nie meer dat die Bokke ʼn internasionale reputasie het vir wen nie. So was Graham Henry ʼn ruk gelede in die nuus oor die Bokke se spel, “dit was oorlog ten spyte van hul gebrek aan talent of vaardigheid, daardie vuur en trots is besig om te vervaag en ek verstaan nie hoekom nie, hulle (die Bokke) was ʼn gevreesde teenstander en nou sukkel hulle om teen topspanne te wen…” Net Toetie, en miskien Adriaan weet regtig wat skort in ʼn onderpresterende Springbokspan, maar die gemiddelde ou en vrou is moeg vir verskonings. Hulle is moeg vir stroopsoet kommentaar uit Supersport se ateljees deur sommiges se helde, en dat joernaliste daarna die fout by die ondersteuners soek.

Die span:

Ja, in die openbaar is die span agter Adriaan, want watter nasionale span sal so sotlik wees om te sê dat hulle nie agter hul kaptein is nie? Die blote feit dat hierdie stelling oorweeg word, wys tot watter vlak van mamparra-redenasie ons gedaal het. Coetzee is soos sy voorgangers so konserwatief soos ʼn two-tone Cheetah hemp. Hy het sedert hy die kroon dra geen werklike waagmoed aan die dag gelê om die beste spelers in die posisies te kies nie, en om die onervarenes juis die broodnodige ervaring te gee sodat hulle weer die ervarenes word…maklike som nê?  Hy hakkel voort soos sy voorgangers met spelers wie se sell-by date al verdamp het.

Adriaan is nie meer die haker wat hy was in Bloemfontein nie en allermins is Beast nog die ondier wat sy opposisie bangmaak en ʼn benoude kat maak benoude spronge. Hougaard is tot sy redding nadat die eens X-faktor speler in homself verword het, deur nie óf op skrumskakel óf op vleuel te bly nie. Een ding is seker en dit is dat ons gelukkig is die Aussies skrum teen hul knieë vas, anders was Saterdag se vaste spel soos kuikenmoord. Dankie, dis nie die Kiwi’s nie.

Die teenstanders:

Australië was nog nooit ʼn land wat van unie-rugby ʼn groot gewag gemaak het nie, en na die laaste Wêreldbeker rugbykompetisie lê hulle 0,02 punte agter die Springbokke op die IRB (Wêreld rugby) se punteleer. Al wys Toetie nog nie dat hy die staal het om ander, beter afrigters uit te oorle nie, is Michael Cheika se kop voor hom op die blok. Maar vir ʼn ander rede; Toetie is die volgende kandidaat (willens en wetens) vir die gifbeker van SARU.

Cheika het ander sondes; sy span het laasjaar in die rugbykampioenskap die wedstryd op die einste Lang Stadion in Brisbane uit die bok se kake gegryp. Sedertdien het sy span ses agtereenvolgende verliese gehad en as die Bokke Saterdag wen, ewenaar hulle die sewe verliese wat hulle gehad het voordat Eddie Jones in 2005 sy tasse gepak het. Sy spankeuses vir Saterdag is ewe konserwatief, maar hy het nie die politieke druk wat Coetzee het nie. Volgens hom sal die Bokke baie spesiaal moet wees om in Australië te wen.”

Verwag duisende ex-pats in Groen-en-Goud en duisende meer in Goud, want volgens die openbare mening is die Bok onder beleg.

Die skeidsregter:

Nigel Owens is ʼn baie spesiale mens, wat onomwonde sy seksuele oriëntasie bekendgemaak het as ʼn gay mens. Maak dit saak? Glad nie. Dis sy kennis van die reëls en die hantering van die spel wat saak maak. Soos hy al aan “The Telegraph” gesê het; “ dit help nie jy ken die reëls en blaas die spel dood nie, jy moet toegee ook.  Cheika was sy uitgesproke self oor skeidsregters in die verlede, maar hy is tjoepstil oor Owens. Owens, ʼn oud-onderwyser is bekend daarvoor dat hy hard en duidelik kommunikeer, en Saterdag sal sy teenwoordigheid en regverdigheid ʼn groot rol speel by die 50-50 roepe. Hy word bygestaan deur Wayne Barnes (Engeland) en Pascal Gauzère (Frankryk). Die TMO is Ben Skeen (Nieu Seeland).

 

Die wedstryd:

Die Springbokke het als om te wen of te verloor. Verloor hulle wel, sal dit die fondament stel vir die res van hul Australasië toer; insluitend volgende week se Toets teen die wêreldkampioene, die All Blacks. Wen hulle, sal Coetzee en sy afrigters hopelik moed skep met ʼn weg-wen en die negatiewe emosie van kapteinskap en spelers wat gekies word. Ons hoop en bid dat Coetzee dan met die media sal begin praat oor sy planne met spelers. Ons hoop en bid dat hy sal aankondig wie sy tweede en derde bestes in die sleutelposisies is.

Intussen weet ons dat Toetie nie hierdie berig sal lees nie, want “hy lees nie koerante nie, en daar is nie koerante in die Springbokke se kleedkamers nie.”

Hoe dit ookal sy, hy en sy span het regtig ʼn eenmalige kans om ʼn span wat vrotter vertoon as syne, in hul agterplaas te klop.

Ek hoop so.

Related Posts

« »