Tot welke mate is Springbok rugby hierdie seisoen al getoets, vra Simon Riekert van #paletoe?

Nov 4 • Analysis, General News, Pale Toe, Springboks • 1518 Views • Comments Off on Tot welke mate is Springbok rugby hierdie seisoen al getoets, vra Simon Riekert van #paletoe?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Ja, die All Blacks is die beste rugbyspan op moeder aarde en sal waarskynlik nog vir baie jare dié titel dra, maar net so graag as wat Allister Coetzee die Bokke se ranglys sal wil verbeter, so graag sal veral die noordelike halfrond se spanne hierdie Bokspan wil toets. Die tyd is nou.

Die rugby-indaba het gekom en gegaan en daar is opportunistiese geluide en tekens, maar jy sal ʼn dwaas wees om te glo dat die nasionale span hoegenaamd sy potensiaal bereik het in 2016.

Maar 2016 is nog nie verby nie, en daar is baie wat kan gebeur in November in Europa.

Dit was tradisioneel so dat die einde van die jaar toere as eksperimentele geleenthede gebruik is om kombinasies te toets, nuwe spelers geleentheid te gee om hulleself in te speel en om eerste, tweede en derde keuses in posisies te bepaal.

Daardie luuksheid is nie vir Coetzee beskore nie.

Die Springbokke speel met nuwe afrigters, hul spelpatroon is om die minste te sê verwarrend en Chean Roux het die Boktradisie geen guns bewys met die span se verdedigings statistieke nie.

Die waarde van die Cheetahs se Franco Smith en die Leeus se JP Ferreira as afrigters sal nie bepaal kan word in die kort rukkie voor vandeesmaand se Europese toer nie. Nog minder sal ons hond haar-af maak oor Mzwandile Stick se rol as assistent agterlyn afrigter, maar dat die Bokke onder nog meer druk sal speel, is ʼn feit.

Die Rugbykampioenskap het Coetzee kaal gelaat soos die spreekwoordelike keiser as dit by spelpatroon afrigting kom. Daar was tye waar die Springbokke letterlik van kantlyn na kantlyn gespeel het en gelyk het of die bal hul hande brand. Wat die Europese toer met sy andersheid in speelomstandighede gaan bring, is ʼn oop raaiskoot.

ʼn Mens het amper vir Coetzee jammer gekry soos hy Chean Roux se insluiting in die afrigtingspan probeer verdedig het, maar feit bly staan, hy en Stick is heeltemal uit hul diepte. Roux se plek is deur Ferreira ingeneem en net soos met die agterlynspel sal al die oë op dié plek wees.

Net so vrot as wat die span op verdediging gevaar het, was ons skoppers. Faf de Klerk, Rudy Paige, Piet van Zyl en Elton Jantjies kry die persoonlike aandag van die skopmeester, Louis Koen. Male sonder tal was die Bokke se strategiese skoppe hul ondergang om gebiedsvoordeel te kry en as daar nou een plek vir verbetering is, is dit hier.

Voorlangs speel die span sonder Frans Malherbe, Julian Redelinghuys en Jannie du Plessis. Net Vincent Koch, Lourens Adriaanse en Trevor Nyakane kan die aanslag voorlangs absorbeer. Dit gaan groot skoene wees om vol te staan, glo my.

Baie kritici van Francois Louw se spel sal verlig wees dat die flanke op toer wat geskiedenis kan maak, die Bulle se jong Roelof Smit en die WP se Nizaam Carr is. Carr vervang die beseerde Jaco Kriel terwyl Louw ook op die krukkelys is. Hou hierdie spasie dop, want soos nooit tevore nie sal die gehate ‘fetcher flank’ titel op ʼn jong man se skouers rus.

Die generaal wat volgens Naas Botha die veld dikteer, die losskakel, se pos is vakant nadat Morne Steyn se ‘sell-by date’ aangekondig is. Dit is nou Coetzee se roep om die regte kombinasies op no.9 en 10 te vind. Lambie voer die Bokke aan in die Baa-Baas wedstryd en Coetzee is stellig gedwee om hom in die posisie te hou omdat Adriaan Strauss ruskans kry op 5 November. Lambie se swak vertoning op heelagter sal hom waarskynlik op 10 hou as Strauss terugkeer, met Jantjies en moontlik Johan Goosen as alternatiewe. Coetzee sal ook met Rudy Paige, Faf de Klerk en die Bulle se Piet van Zyl kan eksperimenteer, maar die kombinasie tussen die skakelpaar sal vinnig uitgesorteer moet wees vir die Europese toestande.

In die middelveld het die Bokke afgetjop tydens die Rugbykampioenskap. Damian de Allende, Lionel Mapoe, Jesse Kriel (as hy nie permanent op heelagter gekies word nie), Rohan Janse van Rensburg en die Cheetahs se Francois Venter is op toer. De Allende en Juan de Jongh se spel het heelwat kritiek verduur, maar met de Jongh uit die toer, sal die druk op veral Allende wees om homself en sy Bokbaadjie te regverdig.

Die agterste driehoek maak ook deure oop vir manne soos Sergeal Pietersen, Jamba Ulengo en Ruan Combrinck en met die twee afsonderlike groepe wat Coetzee aangewys het vir die Barbarian wedstryd en die Toetse, sal die kompetisie om plek te behou agterlangs groot wees.

Die Barbarians word afgerig deur Robbie Deans en Will Greenwood met propvol All Blacks en Australiërs in die span wat ʼn goeie Superrugby-toernooi gehad het. Die span wat Coetzee aangewys het, moet die selfvertroue wat met die 57-15 loesing teen die All Blacks opgedoen is, regstel. Dit moet ook ʼn merker neerlê vir die Toetse wat volg na Saterdag se Barbarian wedstryd.

Intussen het Coetzee sy span aangekondig vir die wedstryd teen die Barbarians op die Wembly-stadion:

Span: Jesse Kriel, Sergeal Petersen, Francois Venter, Rohan Janse van Rensburg, Jamba Ulengo, Pat Lambie (kaptein), Rudy Paige, Nizaam Carr, Teboho Mohoje, Roelof Smit, Pieter-Steph du Toit, RG Snyman, Lourens Adriaanse, Malcolm Marx, Tendai Mtawarira.

Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Lizo Gqoboka, Trevor Nyakane, Eben Etzebeth, Jean-luc du Preez, Piet van Zyl, Tian Schoeman, Ruan Combrinck.

Die Boktoer lyk so:

5/11 Barbarians v Suid Afrika Wembley Stadion ,London 17:00
12/11 Engeland v Suid Afrika Twickenham 16:30
19/11 Italië v Suid Afrika Stadio Artemio Franchi 16:00
26/11 Wallis v Suid Afrika Principality Stadion 19:30

 

Related Posts

« »