Maak maar liewer die Springbokke se trofeekas toe

Aug 26 • General News, Pale Toe • 1645 Views • Comments Off on Maak maar liewer die Springbokke se trofeekas toe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Simon Riekert van #Pale toe skryf vandeesweek oor die Springbokke, ʼn wenspan van nie te lank gelede nie.

Haal my maar uit, maar ek reken dis gevaarliker om opgewonde te raak oor middelmatigheid as om teleurgesteld te wees oor ʼn kompeterende verloor. Dis beter om onderprestasie te erken as om ʼn valse hoop te broei.

Ek wens werklik hierdie keer is ek verkeerd, maar ek twyfel. Soos miljoene aanhangers van die Bokke, kry my hart swaar onder my verstand.

Die eerste skote van vanjaar se Rugbykampioenskap is skaars gevuur, en ons sien reeds ʼn patroon ontwikkel: die Aussies sukkel en is verneder, die Poemas speel soos die Franse (jy weet nie watter span draf op nie), die Kiwi’s is op ʼn ander planeet en die Bokke?

Ja swaer.

So graag as wat ons die Bokke wil besing, word hulle andermaal soos die kind waarvoor jy by elke toets moet gaan punte soek, net om te slaag. Soos met onnies, raak die geduld op. Laasweek twiet iemand, ‘ek wens ek kan na die wedstryd gaan feesvier, maar ek is moerse gefrustreerd’. Ek sê daarop amen, swaer.

Haal my maar uit, maar ek reken dis gevaarliker om opgewonde te raak oor middelmatigheid as om teleurgesteld te wees oor ʼn kompeterende verloor. Dis beter om onderprestasie te erken as om ʼn valse hoop te broei.

Helaas, hierdie valse propaganda loop al vanaf laat 2009; dis hoe lank laas daar ʼn kompeterende Springbokspan was toe die All Blacks moes werk vir ʼn oorwinning.

Ritchie McCaw het by sy uittrede vroeër vanjaar gemeld dat die 2009 Bokgroep van John Smit, wêreld wenners was.

Dit was die tyd van Frans Steyn, Jaque Fourie, Jean de Villiers, Fourie du Preez, Schalk Burger, Victor Matfield, Bakkies Botha, Bryan Habana, Bismarck en Jannie du Plessis,‘n energieke Beast Mtwarira, ʼn Heinrich Brussow wat onder die einste McCaw se vel kon inkom, en dan Smit.

Sedertdien het ons van twee afrigters verwissel en niks het verbeter nie. Ons hou nog steeds asem op as ons teen die Suid-Amerikaners speel en die Bokke het hierdie Rugbykampioenskap binnegegaan met ʼn hoop om tweede beste ter wêreld te word. Ons is nog nie naastenby daar nie.

Luister jy na gesoute manne soos Wynie Strydom en Toks van der Linde, word  jou swartgalligheid ongelukkig bevestig; ons land en mense verwag die Bokke moet wen, maar ons is myle agter met vaardighede en spoed.

“Allister sê een ding by ʼn perskonferensie en doen iets anders die week later, hy sê Francois Louw is nie op vorm nie maar Jaco Kriel is wel, kom Saterdag dan kies hy vir Francois Louw.

“Sy kombinasies werk glad nie, daar’s nie spoed na die breekpunte toe nie, ek dink Allister is bly dat Oupa Mohoje ʼn goeie Toets gehad het, want dit laat die losspel darem ʼn bietjie beter lyk.

“Ons gaan nie die fisiese kompetisie wen met ʼn kombinasie soos wat hy tans het nie, nie teen Australië en Nieu Seeland nie”, sê van der Linde.

Teen die All Blacks sal ons dit nie maak nie, reken Toks; “ Kieran Reid Jerome Keino en Caine sal ons verwoes.”

Jean de Villiers, die nuwe spesialisaanbieder in die Supersport ateljee vertel vir ons hoe goed die Bokke is teen die Superrugby-span van Argentinië, maar moet ons nie onsself eerder meet aan Australië en Nieu Seeland nie?

Toks vra met reg of Allister weet wie is die tweede beste om oor te neem op losskakel, skrumskakel, heelagter en op die vaste vyf? Is hy braaf genoeg om die in-vorm lostrio te kies, eerder as om op ervaring te gaan, waar spelers uit vorm is?

Wat het verbeter sedert die Iere hier was ʼn paar maande gelede? Hoeveel kan ons glo van Allister se opmerking dat ons “baie beter sal speel Saterdag?”

Miskien het dit tyd geword om, ter wille van ons sentiment die kasdeure van die 2009’s toe te maak en die goeie herinnerings te bêre.

Dalk moet ons hoop dat, al kies hy die hele Lions-agterlyn, Coetzee by sy eie halstarrigheid sal verbykom ter wille van die hoop dat daar weer ʼn span soos die 2009-Springbokke sal wees.

Manne met name wat van die tong afgly en hoendervleis-oomblikke terugbring, soos Victor en Bakkies, Fourie en Smit.

Springbokke wat die All Blacks weer bangmaak.

Related Posts

« »