2013 PWC Speler Toekennings

Oct 15 • General News, National, South Africa • 2949 Views • Comments Off on 2013 PWC Speler Toekennings

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Tydens die Jaareindfunksie op Maandag, 14 Oktober by die Aasvoël klub buite Bloemfontein het Vrystaat Rugby sy spelers vereer.

Die volgende toekennings is gemaak:

PWC Speler van die Jaar

Dié toekenning word gemaak aan ‘n speler wat in die 2013-seisoen vir die Toyota Cheetahs en/of die Toyota Vrystaat Cheetahs gespeel het, deurlopend uitstekende vorm, vaardigheid, ywer en sportmanskap aan die dag gelê het.

Só ‘n speler moes ook in die seisoen ‘n ambassadeur vir die Cheetahs wees, vir ons hoofborg, Toyota, vir rugby in Suid-Afrika in die algemeen, én vir die Vrystaat in die besonder, ongeag tot op watter vlak – ‘n speler wat te alle tye met puik spel en onberispelike gedrag, lojaliteit, toewyding en deursettingsvermoë die beeld van homself, sy span én die spel in geheel bevorder het.

Adriaan Strauss – Springbok-haker, vanjaar onderkaptein van die Springbokke in ses toetse, én die Toyota Vrystaat Cheetahs se kaptein – is die afgelope paar seisoene die Toyota Vrystaat Cheetahs se vernaamste uitvoer-produk. Hierdie oud-leerder van Grey-kollege het sedert hy in 2007 sy debuut vir die Vrystaat gemaak het, reeds 55 wedstryde vir die Vrystaat Cheetahs gespeel, waarvan hy 34 keer die kaptein was.

Adriaan het reeds 9 drieë vir die Vrystaat gedruk. Hy’t vanjaar reeds in 17 Super-wedstryde en 9 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy’t reeds 89 Super-wedstryde (8 drieë) en 30 toetse (5 drieë) in sy totaal van 207 eersterangse wedstryde (27 drieë). Met Adriaan, wat Suid-Afrika ook op Onder21-vlak verteenwoordig het, as kaptein, het die Toyota Cheetahs vanjaar die eerste keer die uitspeelrondes van die Super Rugby-kompetisie gehaal. Die kwarteindstryd teen die Brumbies op 17 Augustus in Canberra, wat die Brumbies naelskraap met 15-13 gewen het, was toevallig Adriaan se 200ste eersterangse wedstryd.

Adriaan was vanjaar in 6 toetse onderkaptein van die Springbokke. Adriaan, wat in 2008 Suid-Afrika se 800ste Springbok-rugbyspeler geword het, word wêreldwyd vir sy kragtige skrumwerk, woelwater-spel in die vastelos, én as ‘n skitterende, besielende aanvoerder beskou. Hy was die afgelope Saterdag terug as Toyota Vrystaat-kaptein vir die deurslaggewende Absa Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle. Adriaan het met skitterspel gelei en een van die Vrystaters se drie drieë in die sege van 22-7 gedruk.

PWC Beste Vordering

Lodewyk de Jager, knap, jong slot, is die PWC Speler wat die Beste Vordering getoon het. Dié toekenning word gemaak aan die speler wat die Toyota Vrystaat Cheetahs in die 2013-seisoen verteenwoordig het en in dié seisoen vordering getoon het in terme van opgang en ontwikkeling as speler, ongeag tot op watter vlak hy gespeel het.

PWC Spelers se Speler van die Jaar

Robert Ebersohn, skitterende senter van die Toyota Cheetahs en die Toyota Vrystaat Cheetahs, is deur sy spanmaats aangewys as die PWC se Spelers se Speler van die Jaar.

Robert het vanjaar skitterspel in 17 Super- en 10 Absa Curriebeker-wedstryde gelewer en hy;’t strykdeur die beste van sy tweestryde met die land se beste senters afgekom.

Vrystaat Kleure verwerf

Om vir Toyota Vrystaat Cheetah-kleure in aanmerking te kom, moet ‘n speler in ses (6) Absa Curriebeker-wedstryde opeenvolgend, óf in 10 Absa Curriebeker-wedstryde in totaal vir die span gespeel het.

Altesaam 14 van die 35 spelers, wat dié seisoen vir die Toyota Vrystaat Cheetahs gekies is, was nuwelinge, van wie ses spelers aan hierdie kleurevereistes voldoen het en hull is:

Johann Sadie (senter) – Die 24-jarige Johann, ‘n gewese SA Skole- en SA Onder21-speler, het, nadat hy in 2011 Super- en Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie en in 2012 Super- en Curriebeker-rugby vir die Blou Bulle gespeel het, hom aan die begin van die 2013-seisoen by die Toyota Vrystaat Cheetahs aangesluit. Johann en Robert Ebersohn het vanjaar in ‘n uiters gedugte senterpaar ontwikkel. Húlle was vanjaar in ál die Cheetahs se Super- (17) en Curriebeker-wedstryde (10) die senterpaar. Johann het vanjaar 5 Super- en een Curriebeker-drie gedruk.

Elgar Graeme Watts (losskakel) – Dié 28-jarige oud-Bolander is sedert die begin van 2013 ‘n Cheetah nadat hy in die Boland (2008-2009 en 2011-2012) en vir die Pumas (2010) gespeel het. Elgar het vanjaar in al 10 die Toyota Vrystaat Cheetahs se Curriebeker-wedstryde in die beginspan uitgedraf. Hy het in dié wedstryde 63 punte aangeteken – onder andere 12 punte wat ‘n skitter-drie die afgelope Saterdag teen die Blou Bulle ingesluit het. Hy was ook in twee van sy ses Super-wedstryde vanjaar in die Toyota Cheetahs se beginspan, waar hy 38 punte behaal het.

Lodewyk (Lood) de Jager (slot) – Hierdie 20-jarige reus van 2.05m (118kg) – hy word eers op 17 Desember 21 jaar oud – het in 2012 as 19-jarige sy toetrede tot senior eersterangse rugby gemaak toe hy vir die Luiperds Curriebeker-rugby gespeel het. Lood, wat hom vanjaar as een van die jong top-slotte in die land met sy lewendige spel en uitmuntende lynstaanspel gevestig het, het net een van die 27 Super- en Curriebeker-wedstryde vanjaar vir die Cheetahs weens harsingskudding misgeloop.

Teboho (Oupa) Mohoje (slot/flank) – Dié 23-jarige gewilde Oupa Mohoje het sedert sy Cravenweek-dae in 2008 algaande sy Vrystaat-pad met volgehoue goeie spel boontoe oopgeveg. Hy het in 2010 die Vrystaatse Onder21-span verteenwoordig, vir die Shimlas in 2011 tot 2013 – vanjaar as kaptein – in die Varsitybeker-kompetisie gespeel voor hy vir die Griffons (2012-2013) uitgedraf het. Oupa het sedert die aanvang van vanjaar se Curriebeker-kompetisie die Toyota Vrystaat Cheetahs in al 10 die Premier-wedstryde as ‘n veelsydige voorspeler gehaal – slot en flank.

Willie du Plessis (losskakel/heelagter/senter) – Willie is ná sy hoërskooldae aan Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria KZN toe waar hy tussen 2008 en 2011 vir die Onder19’s en die Onder21’s gespeel het. Terug in Pretoria het Willie Vodacombeker-rugby in 2012 en 2013 vir die Blou Bulle gespeel, voor hy hom aan die begin van vanjaar se Curriebeker-seisoen in Bloemfontein by die Toyota Vrystaat Cheetahs aangesluit het. Willie het reeds 8 Curriebeker-wedstryde vir die span gespeel.

Rossouw de Klerk (stut) – Hierdie 24-jarige oud-Gimmie van die Paarl het tussen 2009 en 2012 in Blou Bul-land vertoef waar hy Vodacom-, Curriebeker- (33 wedstryde) en Super Rugby-rugby (14 wedstryde) gespeel het. Rossouw het ná die 2012-seisoen sy skrede na Cheetahland gewend, waar hy in al 7 die Vrystaat XV se Vodacombeker-wedstryde gespeel het, asook in 7 opeenvolgende Absa Curriebeker-wedstryde vir die Toyota Vrystaat Cheetahs.

50 Wedstryde

Hercú Liebenberg het in sy 50e wedstryd op 17 Augustus 2013 teen die WP op Nuweland in Kaapstad kans gekry om teen sy ouer broer, die Springbok Tiaan, op haker in die voorry te sak. Hercú se naam sal nou bygevoeg op die ererol van spelers wat sedert 1895 in 50 of meer wedstryde vir die Vrystaat gespeel het.

Ander spelers

Wian du Preez, Springbok-stut wat bykans vier jaar vir Munster in Ierland gespeel het, het op 10 Augustus 2013 ná ‘n afwesigheid van 3 jaar 283 dae weer vir die Toyota Vrystaat Cheetahs in die Absa Curriebeker-kompetisie uitgedraf. Wian het sy getal Vrystaat-wedstryde tot 110 opgeskuif.

Ander spelers wat hul getal wedstryde opgeskuif het is: Robert Ebersohn (71 – 10 as kaptein), Hennie Daniller (70) en Francois Uys (57).

Toyota Media Toekenning

As trotse borg van die Toyota Cheetahs en Toyota Vrystaat Cheetahs het Toyota hierdie jaar weer besluit om topvlak joernalistiek en fotografie wat die beste die kern en liefde vir die Toyota Vrystaat Cheetahs en ook die provinsiale trots en passie uitbeeld, te ondersteun.

Lede van die media wat werk in die gedrukte media, internet, uitsaaiwese en fotografie is aangemoedig om hul beste werk in te handig. Die beste werk is beoordeel en die finaliste was: Johann Thormählen; fotografie Charl Devenish en uitgesaai Christo Olivier.

Al drie finaliste se gehalte van die werk was buitengewoon hierdie jaar, maar daar kan net een wenner wees en die Joernalis van die Jaar is ‘n man wat ons leer ken het as “Die Stem”, ‘n ware legendariese kommentator – Christo Olivier. Christo wen ook R10 000.00 kontant van Toyota.

Related Posts

« »