BLOU BULLE WIL REGMAAK #PaleToe

Aug 7 • General News, Pale Toe • 3135 Views • Comments Off on BLOU BULLE WIL REGMAAK #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Paletoe

Tussen Vier Lyne: ʼn Weeklikse fokus op die belangrikste Curriebeker wedstryd van die naweek. Ons konsentreer op een van die spanne se voorbereiding.

Die Curriebeker het vandag afgeskop, letterlik met ʼn goeie oorwinning vir die Westelike Provinsie oor die krapperige Griekwas (19-43 met ʼn rustyd telling van 7-24).

WP was maar skrikkerig voor hierdie wedstryd en hul nuwe afrigter John Dobson het dit as ʼn “potensiële piesnagskil-wedstyd beskou. Desnieteenstaande het die WP met sy gevaarlike agterlyn en goeie voorspelerspel ses drieë teen drie ingeryg. ʼn Goeie begin vir die verdedigende kampioene.

Vandeesweek kuier ons by die Blou Bulle met hulle nuwe afrigtingspan en nuwe span.

Ses van de agt spanne wie om die goue beker meeding het nuwe afrigters, met net Johan Ackermann (Leeus) en Hawies Fourie (ORC Griekwas) wat die oes van laasjaar oorleef het.

Die nuwe afrigters van die Premier afdeling van die Curriebeker is Nollis Marais (Vodacom Blou Bulle), Gary Gold (Cell C Sharks), John Dobson (DHL Westelike Provinsie), Franco Smith (Toyota Vrystaat Cheetahs), MJ Mentz (Steval Pumas) en Brent Janse van Rensburg (Oostelike Provinsie Kings).

Nollis Marais is een van die nuwe generasie afrigters wat glo daarin om jong spelers die geleentheid te gee om provinsiale rugby te speel.

“Ek dink ons het ʼn goeie mengsel van jong en ervare spelers en ʼn agterlyn wat goeie goed kan doen. As jy ʼn jong man is wat vir die Bulle wil speel, is hierdie jou jaar. ʼn Jong man wat gemotiveer en honger is, is baie gevaarlik”, het Marais aan Pale Toe! vandeesweek gesê.

Marais het aan joernaliste gesê dat hy met die laaste Superrugby wedstryd op Loftus Versveld, toevallig tussen die Bulls en die Cheetahs, op die pawiljoen tussen die mense gaan sit het.

“Ek het gesinne saam sien sit en ek kon die teleurstelling in hulle gesigte sien, maar hulle bly stoere ondersteuners. Dit het my laat besef dat ek met hierdie jong manne moet praat en hulle bewus maak van die verantwoordelikheid om vir die unie en die trui te speel. Ek wil nie weer teleurgestelde ondersteuners sien nie.

“Ons wil van ou gewoontes ontslae raak en in vyf weke het dit nog nie gebeur nie, dis ʼn aaneenlopende proses waaraan die span sal werk.

“Ek kan opgewondenheid en afwagting by die spelers sien. Daar sal een of twee nuwe veranderings wees en ons sal ʼn paar dinge anders doen hierdie seisoen.

Oor Saterdag se wedstryd het hy dit te sê gehad: “Vir die Cheetahs se wedstryd het ek 15 veranderings aangebring. Daar sal foute wees maar hulle verstaan dat jy alles sal moet insit om die unie weer te bring waar hy hoort. Ek het genoeg energie en wilskrag by hulle gesien.

“Dis ʼn jong groep spelers, net Dean en Werner is ouer as 27 en daar is 9 debutante in die span. Dries Swanepoel kom weer terug en hy is die tipe speler wat jou verras met wat hy kan doen. Hy gaan ʼn onthulling in hierdie jaar se span wees. Hy is soos ʼn resiesperd, jy moet hom in beheer hou.

Die Blou Bulle het ʼn paar jaar gelede ʼn jong span soos hierdie onder afrigterskap van Pine Pienaar gehad, maar hierdie span het ʼn paar spelers in wat goeie Superrugby wedstryde agter die blad het. Marais wil hê dat hierdie senior spelers moet bewys dat hulle die insluiting in die Curriebeker span verdien en dat hulle die jonger spelers moet help lei.

“Ek het vyf O/21’s in die span en van hulle is reeds senior spelers. Die spelers ken my goed want ek het hulle verlede jaar afgerig.

“Ek wil hê dat hulle die jongeres moet mentor, help met die senuwees of met insidente waaraan hulle nie gewoond is nie. Jy moet iets na hierdie span toe bring, anders is jy nie deel hiervan nie.

Jaco Visagie begin in die plek van Bandise Maku op haker. Maku, ʼn Springbok is besig om homself in te speel na ʼn lang besering.

“Die Cheetahs is altyd ʼn moeilike span. Dit het hulle gehelp om in die laaste twee Superrugby wedstryde teen die Waratahs en die Bulls iets te begin bou vir die Curriebeker. Hulle het ʼn baie bestendige agterlyn en slegs Shawn Venter en Raymond Rhule het nie teen die Bulls gespeel nie. Franco Smit hulle afrigter het die regte selfvertroue aan die span oorgedra.

Marais is ook gepols oor sy twee stutte in die beginspan wat nie op standaard was in die Superrugby-reeks nie.

“Die twee stutte in my beginspan het baie kritiek verdra. Ons het drie stutte wat beseer is, Pierre Schoeman, Justin Forward en Neethling Fouche maar ek glo ons kan weer die skrumkrag word van ouds. Dit was die eerste keer dat ek hulle hoor kla het aan die einde van die week dat hulle moeg geskrum is en beide Werner en Dean weet dat hulle binne die volgende twee weke hard uitgedaag sal word in daardie twee posisies.”

Marais het ook aangekondig dat hy Lappies Labuschagne as kaptein van die Curriebeker span aangestel het.

“Dis ʼn man wat nie te veel praat nie en hy lei van voor af. Hy is my kaptein vir die seisoen”, het Marais gesê.

Labuschagne was vol vertroue vir sy rol as kaptein: “dit is ʼn groot voorreg en verantwoordelikheid om as kaptein van die Blou Bulle gekies te wees. Dit gaan nie om my nie, maar oor die span.”

“Ons weet die Cheetahs se sterte is op en hulle sal die tuisvoordeel benut. Ons moet net fokus op wat ons kan doen, konsentreer op ons spel en die wedstryd geniet.”

Marais som die Bulle se kanse vir die seisoen só op: “ons is ʼn onbekende faktor en dit tel in ons guns, nie net teen die Cheetahs hierdie naweek nie, maar vir die seisoen. Ons gaan met ʼn paar dinge eksperimenteer en dit gaan ʼn goeie wedstryd wees om te kyk Saterdag.

“Ek dink ons het ʼn goeie mengsel van jong en ervare spelers en ʼn agterlyn wat goeie goed kan doen. As jy ʼn jong man is wat vir die Bulle wil speel, is hierdie jou jaar. ʼn Jong man wat gemotiveer en honger is, is baie gevaarlik.

“Ons wil ʼn tipe rugby speel wat die ondersteuners en die oud-spelers weer sal trots maak as Bulle. Ons wil van ou gewoontes ontslae raak en as jy moeg word, is dit maklik om weer terug te val in slegte gewoontes. Ons wil so inoefen dat nuwe gewoontes tweede natuur word.

Die Blou Bulle se span vir Saterdag se kragmeting om 14:15 is:

15 Warric Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 William Small-Smith, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Francois Hougaard, 8 Hanro Liebenberg, 7 Lappies Labuschagne (k), 6 Deon Stegmann, 5 Marvin Orie, 4 Jaques du Plessis, 3 Werner Kruger, 2 Jaco Visagie, 1 Dean Greyling

Plaasvervangersbank: Bandise Maku, Nqoba Mxoli, RG Snyman, Roelof Smit, Ivan van Zyl, Louis Fouché, Dries Swanepoel.

Vrystaat Cheetahs:

15 Coenie van Wyk, 14 Clayton Blommetjies, 13 Francois Venter, 12 Rayno Benjamin, 11 Raymond Rhule, 10 Niel Marais, 9 Shaun Venter, 8 Gerhard Olivier, 7 Henco Venter, 6 Boom Prinsloo, 5 Francois Uys (k), 4 Willem Serfontein, 3 Luan de Bruin, 2 Neil Rautenbach, 1 Caylib Oosthuizen

Plaasvervangers: 16 Jacques du Toit, 17 Maks van Dyk, 18 BG Uys, 19 Reniel Hugo, 20 Tienie Burger, 21 Zee Mkhabela, 22 Fred Zeilinga

Related Posts

« »