BOKKE VERLOOR TOE VOORDAT ONS OPDRAF, EN DIT TEEN ONS SELF #PaleToe

Apr 26 • General News, International, Springboks • 2266 Views • Comments Off on BOKKE VERLOOR TOE VOORDAT ONS OPDRAF, EN DIT TEEN ONS SELF #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Daar is ‘n nuwe asempie in #Pale toe! se kraal.
Dwarslat Duvenhage skryf van vandeesweek vir ons op ‘n gereelde basis. Hy sal op sy eie manier verduidelik wat hy van ons rugby dink.
Dwarslat sê hy het provinsiale rugby gespeel, maar ons vat dit met ‘n knippie sout.
“Dit was voordat Fikile Mblalula als oorgeneem het, selfs alle aandag. Ek het Pierre Spies op ‘n slag uit Affies se eerste span gehou, en nou kyk en skryf ek als neer wat ek sien en hoor oor rugby want dis ‘n voltydse werk”, het hy gesê.
So, hiermee oor na Dwarslat.
“Mense moet weet ek raadpleeg al my bronne voordat ek iets skryf. So byvoorbeeld het ek ‘n goeie skakel na SARU, iemand wat oorgebly het van die Heyneke Meyer bewind. Ek dink eerder dat daar met die halsoorkop aanwys van Allister Coetzee as nuwe Bokafrigter, vergeet is van haar. So, om haar identiteit te beskerm, noem ek haar hierlangs Martie.
Martie sê dit was laasweek maar tranerig by SARU. Dit het gekom met Rassie Erasmus se besluit om eerder in Munster te gaan afrig. Dis nou Munster in Engeland, nie die een aan die Natalse Suidkus nie, want Rassie het juis probeer wegkom van Gary Gold en als wat Snorre de Villiers voor gestaan het. Snorre en die einste Oregan Hoskins (wie langer aan sy Presidentskap vasklou as ‘n Afrika diktator) sit vanmelewe nie langs dieselfde vuur nie. Dis die dat Rassie se tassie reeds lank in die Springbokke se gang staan. Betroubare gerugte meen dat Jacques Nienaber en Louis Koen, rugbybreine van SARU se mobi-eenheid, ook reeds reg staan om na waters waar rugby-rus is te gaan.
Intussen het Twitterland, Facebook en als wat sosiaal is op loop gegaan oor Fiekie se verbanning van al wat ‘n Bok ding is tot en met 2023. Volgens die ministertjie wat sy portefeulje eerder “sports” as sport gemaak het, en wat openbare vloek ‘n afskeidsgroet vir die einste beleërde krieket en rugbyspanne gemaak het, transformeer rugby te stadig.
Neef Gerhard sê dis goed die ministertjie het so besluit want dan hoef ons nie die Statebond spele aan te bied nie, want ons kan dit in elk geval nie bekostig nie. Die Engelsman is heel wys: hy sê ons is die enigste sport kode ter wêreld wat teen onsself verloor, en dit nog voor ons opgedraf het.
Martie laat weet dat sy vir Jurie Roux gaan dophou hierdie volgende paar dae, want skaars ‘n paar weke gelede is Allister Coetzee gesalf as die Bok koning. Daardie dag was Fiekie, Jurie en Baas President blykbaar die ene tande oor die geleentheid. Baas President se hulp kom toe uit alle oorde, insluitend van bo af.
En dit om te antwoord op ‘n maklike joernalis-vragie, naamlik of hy al die unies wat nie getransformeer het nie, tromp op geloop het.
Daardie dag was vir Martie blykbaar ‘n openbaring, want sy het met haar eie oë gesien hoe ‘n slim onderwyser en welgeluksalige voormalige afrigter van die Stormwindjies, met einste oop oë die leeukuil inloop.
Sommige mense soos Heyneke Meyer en die wat hom voorafgegaan het, noem dit blykbaar op Engels, die poisoned chalice.
Wat Toetie dit gaan noem na Fiekie se transformasie tirade, weet nimmer. Al wat ons weet is dat Jurie Roux, nog voordat die ministertjie ‘amen’ gesê het, vure begin doodslaan het want iemand se agterstewe moet blykbaar brand, en syne smeul nog.
Martie sê sy het gesien hoe die manne in die Groen-en-Goud se trane loop oor die biertjies wat nou straks daarmee heen is, veral nadat SAB laasweek ‘n kontrak met Baas President se SARU geteken het tot 2020.
Neef Gerhard sê sy pa het altyd die Jood wie almal geld geskuld het, oom Benjamin aangehaal: ‘not to worry’.
Dis blykbaar wat Jake White se boodskap aan die einste SARU was toe hy hulle gelukwens met Toetie se koms; ‘not to worry about the Springboks, I am coaching them in any case here at Montpellier’.
Daar mag dalk meer Montpellier-tassies in die gange by SARU staan na dese.
Maar vandeesweek is dit gegroet van agter die doodlyn,
Dwarsie.”

Foto: ANTON Geyser / Rugby 15

Related Posts

« »