DIE BOKAFRIGTER IS BEKOMMERD #Paletoe

May 7 • General News, International, Rugby World Cup, Springboks, World Rugby • 2634 Views • Comments Off on DIE BOKAFRIGTER IS BEKOMMERD #Paletoe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (1 votes, average: 5.00 out of 5)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert  #Pale toe!

FOTO: Anton Geyser

“Ek is bekommerd oor die beserings in ons SupeRugby-spanne, veral by die slotte. Dit lyk asof ons diep sal moet delf op die posisie. Die Wêreldbeker-toernooi is nie stop-start nie en daar is geen tyd om te wonder oor jou span-en spelers keues nie”, het hy aan Pale Toe! gesê tydens Wynie Strydom se boekvrystelling in Centurion.

 

Heyneke Meyer is ʼn bekommerde man, en dis nie aldag dat hy dit persoonlik sal sê nie.

Vyf maande voor die Wêreldbeker in Engeland aanbreek sit die Bokbreier met ʼn hele paar hoofpyne.

Hierdie is die kortste periode wat hy as afrigter nog gehad het om ʼn span te kies en te slyp voor so ʼn belangrike toernooi. Daar is geen inkomende of uitgaande toere waar hy spelers kan toets en met posisies kan eksperimenteer nie en sy voorbereiding moet deeglik en vinnig gedoen word.

“Ek is bekommerd oor die beserings in ons SupeRugby-spanne, veral by die slotte. Dit lyk asof ons diep sal moet delf op die posisie. Die Wêreldbeker-toernooi is nie stop-start nie en daar is geen tyd om te wonder oor jou span-en spelers keues nie”, het hy aan Pale Toe! gesê tydens Wynie Strydom se boekvrystelling “Hou by die Blou” in Centurion.

Meyer is gepols oor sy moontlike spankeuse en hy het nie geskroom om te verduidelik dat ʼn Wêreldbeker-toernooi gewen word deur ervaring nie.

“Ek kyk na ouer en jonger spelers om in te sluit in my groep, maar ʼn afrigter het net 31 spelers om saam te vat. Dit beteken ek moet seker maak dat ek van die begin af die regte spelers kies en dat hulle in staat sal wees om die hele toernooi te doen waarvoor hulle gekies is.

“Dit is voor die hand liggend dat ek na spelers soos Matfield sal kyk om ʼn spelers-en leiersrol te vervul, maar dis geen geheim nie dat ek na ʼn mengsel van oud en jonk sal kyk om die span optimaal te versterk.”

Meyer het verwys na gerugte dat Fourie du Preez moontlik ingesluit kan word in sy 31-tal.

“Ek is in gereelde kontak met Fourie en ek weet hy het min rugby gespeel die laaste tyd, maar hy is die klas speler wat baie vinnig aanpas om weer op internasionale vlak te kan speel en hy is beseringsvry.

“Ons weet ons het belangrike keuses om te maak op skrumskakel, maar ek is oortuig dat ons die beste spelers in elke posisie sal kan identifiseer, alhoewel dit nou nog te vroeg is om oor finale spankeuses te spekuleer.”

Meyer het gesê dat dit baie belangrik is om te beplan vir die omstandighede in Engeland, “dis sokkervelde waarop ons moet rugby speel, die bal wip nie en die manne te toks sak weg, die weer is triestig en koud al is dit in hulle lente, dit bly ʼn groot aanpassing en jy moet als in ag neem.”

Dis veral ons spelers se dissipline wat hom onrustig maak.

“Daar is nie plek in die span vir ʼn ongedissiplineerde speler nie en dit bekommer my dat daar soveel rooi kaarte in die SupeRugby-toernooi is. Senior spelers weet van beter en hulle weet ook dat dit hul posisie in die span sal kos.”

Meyer is veral berug daarvoor dat hy geen ooghare vir ongedissiplineerde spelers, op en van die veld af het nie en dat spandissipline eerste kom. Benewens die Frans Steyn en Bismarck du Plessis onlangse duur skorsings, was Trevor Nyakane in 2013 aan die ontvangkant van die Bokafrigter.

Nyakane is weens twee dissiplinêre oortredings uitgelaat uit die 2013-Springbokgroep wat vir ʼn Viernasies-wedstryd Buenos Aires toe is, nadat hy sy vlug verpas het.

Meyer het terstond besluit Nyakane, wat tans kookwater rugby vir die Bulls speel, toer nie saam Argentinië toe nie.

Nog ʼn aspek wat Meyer laat kopkrap is ons spanne se doellose skoppe.

“Super Rugby wedstryde is nie Wêreldbeker toets wedstryde nie, jy kan hulle nie vergelyk nie. As jy doelloos skop, soos wat die tendens tans hier is, beteken dit dat jy die opposisie die geleentheid gee om met die balbesit wat jy gehad het, aan te val. Rugby het so ontwikkel dat jy dit nie kan waag om doelloos te skop nie. Elke skop moet beplan word en soveel te meer in die toestande van die Noordelike halfrond. Daar is dit selfmoord.

Meyer reken ook dat die noordelike halfrond se spanne ʼn beduidende voordeel bo ons het aangesien hul internasionale seisoen nou tot ʼn einde gekom het.

“Dit gee hulle geleentheid om van beserings te herstel en om spankeuses te maak sonder ʼn gejaag, maar gelukkig is ons, die Aussies en die All Blacks in dieselfde bootjie.”

Meyer gaan ook die vyf toetse waarin die Springbokke in die Viernasies toernooi gaan speel gebruik om te eksperimenteer met spelers en verskillende kombinasies.

“Ek praat met ʼn man soos Heinrich Brussow en hy sal vir ons speel in die toetse. Ek sal hom graag beseringsvry wil terughê. So ook wil ek het Pat Lambie, wat losskakel en heelagter kan speel moet reg wees. Ek sal net een heelagter kan saamneem want ek moet spelers kies wat in meer as een posisie kan speel.”

Dit maak die deur vir Francois Hougaard oop wat reeds teen die begin van die SupeRugby-toernooi te kenne gegee het dat hy in aanmerking wil bly vir die skrumskakel posisie in die Bokspan.

“Mense moet verstaan dat dit vir my swaar is om ouens in die oë te kyk en te sê jy gaan nie saam nie, maar my spankeuses is altyd ʼn onemosionele besluit. Ek moet byvoorbeeld seker maak dat ek die regte hakers saamvat, want die skrums bly ʼn gemors en daar sal nie reëlwysigings wees voor die Wêreldbeker nie. Hakers haak nie meer nie, maar hy moet sy springers kan vind in ʼn lynstaan want die Springbokke het verlede jaar ʼn gemiddeld van 2,9 drieë vanaf lynstane gedruk.”

“Ek haat ʼn doellose geskop in ʼn wedstryd maar die statistieke wys dat in die halfeid-en eindstryd van die Wêreldbeker, daar tot 70% van balbesit geskop word. Dis hoe belangrik taktiese skoppe en skoppe na die pale geword het.”

Wie sal die Wêreldbeker Stransky-skop van 1995 vergeet net om vier jaar later, hartverskeurend te moes toekyk hoe Stephen Larkham, losskakel van die Wallabies die Bokke uitskakel in die halfeindstryd met ʼn onverwagte skepskop?

Soos Wynie dit dalk reg opgesom het aan die einde van die aand, “Heyneke moet sleg slaap want andersins werk sy kop en sy planne nie.”

Al wat ons weet is dat Heyneke Meyer só in sy element is: onder druk, dinamies aan die beplan en totaal on-emosioneel oor sy spankeuese.

Met hierdie resep kan dit dalk net voorspoedig gaan in Engeland, later vanjaar.

 

Related Posts

« »