DIE BULLS LANSEER DIE NOODFAKKELS

May 14 • General News • 3820 Views • Comments Off on DIE BULLS LANSEER DIE NOODFAKKELS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...
RG SNYMAN SE ROOIKAART KOS DIE BULLS DIE WEDSTRYD TEEN DIE HIGHLANDERS EN DALK DIE 2017-SEISOEN Foto: Gordon Arons

RG SNYMAN SE ROOIKAART KOS DIE BULLS DIE WEDSTRYD TEEN DIE HIGHLANDERS EN DALK DIE 2017-SEISOEN
Foto: Gordon Arons

Loftus Versveld-Simon Riekert

Die noodfakkels het Saterdag-aand gevuur eerder as die tradisionele vreugdefakkels wat gelanseer word as die Bulls drieë druk op Loftus.
Dis toepaslik om op te merk dat die Bulls hierdie SuperRugby-seisoen bitter min geleentheid gekry het om die vreugde fakkels aan te steek, want ʼn roekelose skouerloop van RG Snyman in die gesig van Greg Pleasants-Tate, reserwehaker van die Highlanders het Snyman en sy span duur te staan gekom.
Die telling was steeds gelykop na 47 minute en dit het gelyk asof die Bulls die wedstryd kon deurhaak in die 72ste minuut, nadat die oud-Vrystater, Coenraad van Vuuren, sy stut-lyf oor die doellyn gelanseer het, reg onder die pale.
Snyman se onverantwoordelike poging om Pleasants-Tate terug te duik, het hom ʼn rooikaart besorg, skaars agt minute nadat die skeidsregter die Highlanders-vleuel Waiske Naholo afgestuur het met ʼn rooikaart. Burger Odendaal was sy slagoffer.
By die perskonferensie na die wedstryd was Nollis Marais en nuwe kaptein, Hanro Liebenberg opsigtelik uit die veld geslaan.
“RG is 21, hy sal sulke onverantwoordelike dinge doen”, het Marais verleë gesê.
Hy het weereens verwys daarna dat hy weet sy loopbaan as afrigter in die hande van die Blou Bulle se uitvoerende raad is.
“Ek sal my neerlê by hulle besluite, as hulle dink ek moet die afrigterspos ontruim”, het ʼn byna desperate Marais aan joernaliste gesê.
Intussen het die Bulls-bestuur in ʼn e-pos laat gisteraand bevestig dat hulle ʼn omdraai plan geïmplementeer het, op- en van die veld af.
“Die Bulls bestuur gaan wyd konsulteer, as eerste stap in hierdie rigting”, is gesê.
Dis duidelik dat die leë stadion op Fort Loftus die Bulls se sakke skud, “die geldskaarste in Suid Afrika dra by tot die uitdagings wat die Bulls tans beleef”.
Die e-pos verwys daarna dat die Bulls “swak plekke in hul sisteem het, insluitend dit wat gebeur op die veld”, en dat dit die Bulls se uitslae en prestasie bepaal.
“Ons moet verander, verbeter en belangrik, ʼn proses in plek plaas om ons weer op koers te plaas.”
“As eerste stap, gaan ons advies vra van verskeie leiers in die industrie, vorige spelers, afrigters en verskeie ander forums om te verseker ons implementeer die beste oplossing.
“Ons gaan ook alle rolspelers raadpleeg in die omdraai proses”, het die verklaring gelui.
Heyneke Meyer het Donderdag by ʼn perskonferensie op Loftus erken dat hy en Nollis “praat en raad uitruil”.
Daar was vroeër vanjaar al gerugte dat Meyer weer ingespan sal word en dat oud-spelers soos Victor Matfield en Fourie du Preez ook nadergehaak kan word.
Die Bulls het onder leiding van Meyer die SuperRugby-titel in 2007 gewen.

Related Posts

« »