Die Bulls se rugby blues #PaleToe

Feb 24 • General News, Pale Toe, Super Rugby • 2835 Views • Comments Off on Die Bulls se rugby blues #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Die Blou Bulle is een van die land se bekendste sportfranchises, daar is geen twyfel daaraan nie. Bulls en Blou Bulle-rugby is geliefd.
Die trofeekas in Kirkness straat was nog altyd vol en die einste Bulls span is die enigste Suid-Afrikaanse span wat die Super kompetisie driemaal kon wen.
Borge soos Vodacom en Puma, sou ‘n mens verwag, sal hul produknaam graag by ‘n wenspan inspan. Dis tewens wat Barend van Graan en sy Raad propageer vanuit Fort Loftus se binnekring en daarom is die franchise se ondersteuners landswyd en wêreldwyd versprei.
Maar die einste suksesvolle Blou Bul span het die laaste paar jaar gesteier onder ‘n uittog van die beste spelers wat die land nog opgelewer het. Sedert die vertrek van die ouer garde soos Fourie du Preez, Bakkies Botha en Danie Rossouw het die volgende sarsie gevolg. Manne soos Dewald Potgieter, Morne Steyn, Chiliboy Ralepelle en Juandre Kruger het ook groener weivelde gaan soek.
Ten spyte van die konstante versekering deur Barend van Graan, HUB van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) dat daar genoeg spelersdiepte is,steier die Bulls voort in die Curriebeker-kompetisie en die Superreeks. Dieselfde boodskap word weekliks oorgedra tydens mediakonferensies- die Bulls sukkel, maar (ons) hou moed, dis tydelik. Na die afgelope Saterdag se verloor teen die Hurricanes, lyk dinge nie goed vir die Bulls nie.
Eerskomende Saterdag speel hulle teen ‘n Shark span wat teen die Lions in vloedwater vier drieë kon druk. In die voorseisoen is die Bulls en Sharks genoem as twee spanne wat die ding vir ons kan doen in die laaste seisoen van Super15 rugby. Daardie droom is besig om in ‘n nagmerrie te verander want tuiswedstryde is veronderstel om pasella punte te wees en die Bulls mis die geleentheid reeds twee keer.
Daarenteen meen senior spelers soos Pierre Spies dat verloor hulle eerder sterk maak.
“Ons twee verlore laat nie die span se selfvertroue in die steek nie. Dit maak ons sterker.”
Dit was na afloop van die Hurricanes wedstryd, Saterdag toe Spies na die 2007 seisoen verwys het as “ ons het in 2007 ook sleg begin en uiteindelik daardie jaar die reeks gewen.”
Voorspelbaarheid en ‘n gebrek aan speldiepte wanneer die pap dik raak, word nie raakgesien nie. Net soos die Proteas Sondag in die Indiërs se wêreldbeker-strik getrap het met swak wedstrydbeplanning en ‘n gebrek aan diepte, loop dié prestige rugbyspan dieselfde paadjie.
2007 was een van die gloriejare van die Bulls onder die meesterlike leiding van Heyneke Meyer met spelers soos Bakkies Botha, Bryan Habana, JP Nel, Wynand Olivier, Wikus van Heerden en ‘n jonger Matfield.
Vergelyk appel met appels: die Bulls het eenkeer in daardie seisoen teen die Western Force op hul tuisveld verloor. Dit was in die derde rondte nadat hulle in die eerste rondte teen die Sharks in die Haaitenk vasgeval het. Die Bulls het voortgegaan om in Canberra (Brumbies), Dunedin (Highlanders) en in Sydney (Waratahs) te wen benewens hulle seges oor die Cheetahs, Force, Stormers, Blues, Reds en Crusaders tuis. Dit was ook die jaar waarin die hoogste Superrugby telling aangeteken is (92-3) teen die Reds op Loftus Versveld.
Agt jaar later het min verander; Matfield en Spies speel nog steeds vir die Bulls en hul spelpatroon het weinig gevorder.
Meyer het in 2008 ‘n wenspan aan Ludeke oorhandig en die onmiddellike sukses wat die span toe behaal het, was bemoedigend (kampioene in 2009 en 2010). Die eerste tekens dat die span se kern begin wankel was duidelik in 2009 toe die Blou Bulle die laaste keer die gesogte Curriebeker kon wen. Kort daarna is Pine Pienaar die trekpas gegee en Frans Ludeke het die Superrugby en Curriebeker span se breier geword. Dis ses jaar later en die Bulle sukkel nog meer as ooit.
Wat kommerwekkend is, is dat die spelers en afrigters klaarblyklik vasgevang is in greep van ontkenning.
Dit help sweet blow bokkerôl dat nuwe spelers met groot potensiaal gewerf word, net om hulle te laat verval in ‘n spelpatroon wat dringendheid, diepte, afronding en variasie kortkom.
Gesoute afrigters, oud spelers en kenners van die spel is dit eens dat die Bulls ‘n varsheid kortkom en of die fout by die afrigters lê of by die spelers, iemand sal verantwoordelikheid moet neem vir verbetering.
Loftus se oos pawiljoen is gewoonlik ‘n barometer van die gemiddelde Bul-ondersteuner se mening en tydens die laaste twee wedstryde was daar baie min komplimente vir die span en afrigters. Hierdie ondersteuners stem met hulle voete en as kommentaar op die sosiale media ‘n aanduiding gee van hul gemoedstoestand, voorspel dit donker dae.
Ondersteuners is moeg vir verskonings. Stories soos kaptein Spies s’n dat verloor die spelers sterk maak, is vir hulle pure twak. Hulle wil ook nie meer hoor dat Frans Ludeke praat oor selfondersoek nie en dat die Bulls ongelukkig was om te verloor weens ‘n skeidsregter se beslissing. Die Bulls se spel kort afronding.
Moderne Superrugby vereis toewyding en innovasie en al is die Super seisoen lank, doen ‘n potensiële gunsteling soos die Bulls hulself geen sin om swak te begin nie. Blou Bul rugby sal altyd konserwatief wees, al stry afrigters oor skoppe, bal-in-hand aanvalle, losgemale en skrums. Dit beteken egter nie dat dié soort rugby moet stagneer nie.

Die Bulls se spelpatroon is reeds ‘n seisoen of wat gelede ontbloot en uitgedien. Dit is nie meer relevant en suksesvol nie, altans nie vir ‘n kampioenskapstitel nie. Hulle gaan daarmee al die belangrike wedstryde, soos die tuiswedstryde net-net wen of soos nou, verloor. Drie-vier weke later is dit klaar met Kees.
Dat Matfield te oud is vir Superrugby is dalk moontlik. Hy, Spies en Ndungane is van die oudstes in die groep en van hulle mag dalk hoop om vir oulaas die Springbok wêreldbeker-span te haal en sodoende nie hul lywe op die spel te plaas vir Superrugby nie. As dit so is, moes Ludeke reeds planne gemaak het met die jonges. Dit is hiervoor reeds te laat.
Vir Spies om te sê dat verloor ‘n span sterk maak is soos om te sê dat honger jou slim maak. Dit maak nie sin nie, ook nie vir die ondersteuners waarna die BBM so vry nie en les bes, die borge.
Die Bybel praat van ‘n tagtigjarige as ‘n baie sterk mens (Ps 90:10), “en dié is vol swaarkry en leed”.
Mag die Blou Bul rugby asseblief gespaar word van soveel jaar se verloor, swaarkry en leed.
Só sterk wil hulle nie word nie.

Artikle: Simon Riekert
Foto: Marcell van Aswegen

Related Posts

« »