DIE GROOT BOK-TREK NOORDWAARTS

Sep 11 • General News, Pale Toe • 3149 Views • Comments Off on DIE GROOT BOK-TREK NOORDWAARTS

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert #Pale toe!

Vandag, soos in 1995 en in 2007 was ons weer één op die plein buite Montecasino in Johannesburg, swart en wit het langs mekaar gestaan en Shososloza uit volle bors gesing, PJ Powers het weer haar ‘World in Union’ met passie gesing. Joernaliste het foto’s geneem en onderhoude gevoer, bespiegel en bespreek en veral, verskil.

Een ding is seker van ons nasie, ons kan verskil en saamstaan soos min ander lande. Hierdie afgelope paar weke voordat die Springbokke Engeland toe vertrek het vir hul aanslag om die Wêreldbeker kroon, was rugby weer die katalisator en die groot versoener.

Springbok truie wat in die openbaar verbrand is, ʼn oud-afrigter wat die huidige een in die openbaar aanval en les bes, ʼn aansoek in die Hooggeregshof dat die Bokke by die huis moet bly en hul paspoorte moet indien was maar ʼn paar van die gebeure wat die hoofopskrifte gehaal het.

Vandag by Montecasino in Johannesburg, op pad lughawe toe, kry die Springbokke helde ontvangstes.

In die volgende paar weke sal ons nog steeds hewig debatteer oor die span, hul kanse, die opponente en die beserings. Ons sal wonder oor Jean de Villiers, Fourie du Preez en Duane Vermeulen se fiksheid, en ons sal verskil oor Victor se ouderdom, Bryan se skerpheid en of Jean wel sal speel of nie. Familie, vriende en kenners sal goeie aspekte beredeneer, maar ook emosionele uitlatings maak. Huise en huishoudings sal verdeeld wees oor elke aspek moontlik van die lieflike spel, rugby.

Maar vandag, soos in 1995 en in 2007 was ons weer één op die plein buite Montecasino in Johannesburg.

Swart en wit het langs mekaar gestaan en Shososloza uit volle bors gesing, PJ Powers het weer haar ‘World in Union’ met passie gesing. Joernaliste het foto’s geneem en onderhoude gevoer, bespiegel en bespreek en veral, verskil.

Die Bokke het op ʼn restaurant se balkon gestaan ek kyk. Uitgevat in die Groen-en-Goue blazers.

Maar ons was één. Minister Fikile ‘Razzmatazz’ Mbalula was op sy stukke: “moer hulle, moer hulle dood, maar weet dat ons hele nasie agter julle staan”.

Aan die einde van dit alles tel net die woorde van die kaptein: “dankie dat julle hier is, ek besef eers met geleenthede soos hierdie wat dit is om vir die Springbokke te speel, ek wou dit nog altyd doen en ek vra julle onvoorwaardelike ondersteuning.

“Dit mag dalk nie die spelers wees wat jy sou wou hê na die Wêreldbeker toe moet gaan nie, maar kom ons vergeet ons verskille vir agt weke en staan agter die Groen-en-Goud”.

Intussen kan jy sien hoe die stres van Heyneke Meyer se skouers afval. Hy neem selfies saam met die ondersteuners terwyl hulle bus toe loop.

“Hierdie was een van die moeilikste tye in my as afrigter se lewe ooit. Dankie dat julle in ons glo, want ek glo in ons span. Hulle sal hulle beste lewer, al moet ons hulle van die veld afdra”.

Vir ʼn sekonde of twee lig die coach se gemoed en hy glimlag moeg, maar tevrede.

Hy en sy span se reis het begin.

Nkosi Sikelel’ i-Afrika.

Foto: Anton Geyser

 

Related Posts

« »