DIE SPRINGBOKKE MOET GEDULDIG EN SMART WEES #PaleToe

Jun 17 • General News, International, Pale Toe, Springboks • 2835 Views • Comments Off on DIE SPRINGBOKKE MOET GEDULDIG EN SMART WEES #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Dwarslat Duvenhage skryf vir #paletoe en hy het vandeesweek die waarde van geduld geleer.

 

Dwarslat is ʼn geduldige mens. So sê sy vrou en kinders, want Dwarslat is nog vêr van slim en ryk af en hy hoop om eendag daar te kom. So het die uwe die afgelope ruk agtergekom daar is mense wat oor onse Bokke se aura bekommerd is. Met reg, want die donker dieptes het vir die manne van die Groen-en-Goud gewag laas naweek.

So sien Dwarslat dat die voormalige All Black afrigter, Graham Henry skryf in ʼn Nieu Seelandse koerant oor die Bokke se aura, en die man kou nie sy woorde fyn nie: “ die eens magtige Springbok se karakter is weg, daardie vuur en trots is besig om stadig dood te gaan en ek sukkel om te verstaan waarom, ʼn eens magtige opponent en nou sukkel hulle teen top10 lande…”

Henry sê die Springbokke se mongrel-maniere is weg in hierdie sogenaamde “nuwe era”.

“Rugby in Suid Afrika het vanaf 2009 verswak onder Peter de Villiers wat nooit met die internasionale tendense van ontwikkeling bygehou het nie.

“Kyk na die uitslae, in 2009 het die Kiwi’s die grondslag gelê deur die Springbokke te verwoes in die Drienasies-toernooi en het só die weg gebaan om vandag die bykans perfekte rugbyspan te wees.

“Die Bokke sit met ʼn identiteitskrisis , want daar is ʼn gedurige oproep om selfvernuwing en diesulkes wat glo dat Heyneke Meyer nie wou vernuwe nie, is verkeerd. In 2013 het die Bokke ʼn meer aanvallende patroon gespeel en daarmee geslaag, maar daar was nie genoeg navorsing gedoen om die plan wat eintlik om een man gedraai het, Willie le Roux, te vervolmaak nie.

“Suid Afrikaners verstaan nie hoe werk ʼn aanvalsplan nie; dit gaan nie net om te ‘probeer’ of ‘gooi die bal wyd’ nie, dit gaan oor die beplanning wat die span en spelers moet doen om die aanvalsplan suksesvol uit te voer.

Henry het baie ooghare vir Johan Ackermann; “ die enigste afrigter wat aanvallende spel kan afrig, is Ackermann wat moes leer by John Mitchell wie die meesterbrein agter die All Blacks se aanvalsplanne is.”

“Saterdag het dit gelyk of die Springbokke ʼn identiteitskrisis ontwikkel het en teen hulself speel. Daar was Lions spelers in sleutelposisies toe Lambie af is, maar hulle het nie volgens Coetzee se plan gespeel nie. Dit het gelyk soos ʼn Bokspan wat aanvallend wil speel, maar nie weet hoe nie.

Dwarslat verneem dat die einste Coetzee Donderdag by die spanaankondiging erken het dat dit takties naïef was dat ʼn Ierse span met 14 spelers gewen kan word deur die bal wyd te versprei en die oorslaan bewegings te skep.

Ackers het al soveel keer gesê dat die Lions se spelpatroon op aanval, aangeleer moes word en dat dit nie oornag gebeur nie.

Dwarslat se ander buurman, oom Danie het net mooi hierdie woorde na laas Sondag se nagmaal herhaal: “kyk maar, Ackermann se Leeutjies moes op ʼn stadium teen die Konings van Kaapland baklei om nie uit Curriebeker uitgeskop te word nie, en waar is die span jonges vandag?

“As jy dit nie kan onthou nie, het jy ʼn swak rugbygeheue of jy’t bloot net nie opgelet nie.”

Oom Danie, ʼn vurige Leeu-man sê hy het ook die wysheid van die All Blacks se Sir gelees.

“Coetzee het mos Donderdag gesê rugby is soos krieket; jy moet ʼn goeie innings opsit en dan daarop bou.

“En dan moet ons nie vergeet dat daar geen speler was wat hom tevrede gestel het nie, nie eens die Leeus se skakelpaar nie. Die Sir sê mos Jantjes moet die Generaal bly en sê ‘laat loop’ as die kanse daar is en speel vir gebiedsvoordeel en die kans vir die Bokke skep om op die regte plekke op die veld aan te val.

Die Dwarslat familie is nog steeds skaam oor die Bokke se verloor teen Japan, Argentinië en die Walliesers, en ons praat nie daaroor nie.

Dat die Sir reg is, is nou maar wors; ons Bokspan kort ʼn overhaul, soos neef Gert se 1400 Datsun-bakkie, maar die Bokke sukkel om te wees wat Toetie wil hê hulle moet wees: smart.

Die Iere was Saterdag smarter en Toetie het gesê sy span moet die beste rugby speel in 2018 op pad na 2019 se Wêreldbeker toe.

“Ons maak foute en moet dit regmaak, maar daar is geen ekskuse vir basiese foute nie.

“Ons is op pad om die planne in plek te kry, ek verwag my spelers moet dit doen.

“Ek is nie gefokus op die Iere se moontlike reeks sukses nie, ek wil hê my spelers moet dinge omdraai.

En toe laat loop Toetie met diè een vir oom Danie wat wou weet waar is sy Jaco Kriel in Saterdag se span: “Jaco Kriel is ʼn Springbok en hy het ingekoop in die filosofie en kultuur van die span en as hy moet wag om sy Toets in 2019 te kry, dan is dit so. Ons doen wat die beste is vir die Springbokke.”

Soos die uwe gesê het, daar’s soveel stemme wat opgaan oor geduld in Dwarslat se lewe, hy voel skoon tuis.

Related Posts

« »