DIEPER DIE LOOPGRAWE IN VIR DIE SPRINGBOKKE #PaleToe

Sep 23 • General News, International, Pale Toe, Rugby World Cup, RWC 2015 • 2215 Views • Comments Off on DIEPER DIE LOOPGRAWE IN VIR DIE SPRINGBOKKE #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Daar is ʼn laaste, desperate kans wat oorbly vir Heyneke Meyer en sy Springbokke om nasie trots te herstel hierdie naweek teen die oorgehaalde Samoane in vanjaar se rugby wêreldbeker kompetisie, skryf Simon Riekert in sy weeklikse rubriek #Pale Toe.

 

Jy moet hom dit ter ere nagee, hy is ʼn ander soort mens. Nie die deursnee wag-dat-dit –gebeur tipe nie. Iemand wat glo in sy eie vermoëns: verwag die onverwagse. Verwag vir Heyneke Meyer.

Die stof het nog lank nie gaan lê oor die Springbokke se vernedering teen Japan in vanjaar se Wêreldbeker nie. Dit gaan jare vat voordat die grootste rugbyles in Suid Afrikaanse rugbygeskiedenis ingesink het. Klein Bokkies gaan nog hieroor huil.

Ons het sonder skroom vooraf die seëviering teen Japan verkondig. Dit sou nie net ʼn gewone wen wees nie, dit sou “seëvier”, neé triomfeer wees, het die grootste Afrikaanse dagblad dit uitgebasuin. Nick Mallet, voormalige Bokafrigter het ewe selfvoldaan aangekondig dat Eddie Jones kort voor die wedstryd se afskop, sekerlik nou sit en bid. Die berugte kommentaar-tweemanskap, Toks van der Linde en Kobus Wiese het na Adriaan Strauss se drie dit uitgebasuin dat “’n goeie grote beter is as ʼn goeie kleintjie”.

Vyf merkers is uitgewys waarom die Bokke nie kan verloor nie: “Bokke lyk skerp, Japan is geen onbekende faktor, Suid Afrika fokus net op rugby by die toernooi, Bokke het te veel sterre, die eerste tien minute tel.”

En toe sak die son oor die Springbokke vanuit die einste land van die opkomende son, Japan. 34-32 toe die eindfluitjie blaas en Heyneke Meyer en sy Bokspan verdwyn in die tonnel. Die volk was verslae en het in ʼn poging om hul pyn te verwerk, begin spot-met ons self en die span. Die internet is amper gebreek.

“Ons weet nie waarom ons die Toets verloor het nie”, was sy geskokte antwoord.

Die tweemalige Wêreldkampioen is deur die 13de beste land letterlik op sy knieë gedwing.

ʼn Stotterende Jean de Villiers het probeer sin uitmaak in die onderhoud na die wedstryd: “dit was een van daardie wedstryde, jy kan nie jou vinger daarop plaas nie, ons neem verantwoordelikheid vir wat gebeur het, dit was onaanvaarbaar”, het hy herhalend gesê.

“Ons het die land en sy mense teleurgestel, ons het nie dissipline gehad nie, ons het hulle te veel gerespekteer, ons het in ʼn skop-oorlog betrokke geraak maar ons kan nog steeds die Wêreldbeker wen”, het ʼn verslae, bleek Meyer na die wedstryd gesê.

Teen Maandag reken die agterlyn afrigter Ricardo Loubscher dat die span “op die regte spoor is.

“Die span se vertoning was teleurstellend, maar ons almal verdedig die plan. Dis net ‘n geval van klein veranderings vir die wedstryd teen die Samoane. Dit sal kontra-produktief wees om nou groot veranderings te maak”.

“Ons wil meer drieë druk, ons rond net nie af op die oomblik nie.” Hy en Pat Lambie lyk glad nie oortuigend op die perskonferensie nie.

Die aanvals-en voorspeler afrigter Johann van Graan reken teen Dinsdag dat die statistiek op die aanval positief lyk, “maar ons druk nie drieë nie.”

“Ons weet nie hoekom ons nie die geleenthede wat daar was gebruik het nie, want dis nie ʼn wilskrag-ding nie, meer ʼn uitvoering-ding.”

So word daar verder bespiegel en daar word verneem dat die Bokke hard met mekaar gepraat het. Daar was selfs gehuil, maar daar word soos met die wedstrydplan, nie uitgepraat nie.

Oud-Bok Joel Stransky gaan aanlyn en sê openlik dat ons moeg is vir verskonings. Daar moet veranderings in die span kom en so hard as wat dit mag klink, Jean de Villiers en Victor Matfield se tyd is verby.

Die Bokke was lanklaas so diep in die loopgrawe ingetrek en hulpkrete om nie die Bok-aanslag te boikot nie, klink oraloor op.

Die span is vandag aangekondig en die verassings is nou ou nuus. Uit: Zane Kirchner, Lwazi Mvovo, Jesse Kriel, Pat Lambie, Ruan Pienaar, Piere-Steph du Toit en Lood de Jager. In: Willie le Roux, Damien de Allende, Duane Vermeulen, Fourie du Preez, JP Pietersen, Rudy Paige, Frans Malherbe.

Ingesluit, met my spesiale vermelding is Victor Matfield en Jean de Villiers.

Ek vra vroeër aan Naas Botha oor die Jean de Villiers/ Jesse Kriel-keuse.

“Hy (Heyneke) moet op meriete kies, die spelers wat in vorm is kry die posisie en as jy gelukkig is, is daar ʼn goeie kaptein”.

“Die span is gekwes en gevaarlik”, troos die briljante Eddie Jones. “Hulle gaan moles maak teen Samoa”.

Alle oë is vandag op Birmingham, want die skande van ʼn pak slae teen Japan mag dalk die voorganger wees van die onnoemlike: groettyd vir die Springbokke na hul laaste poel wedstryd teen die VSA op 7 Oktober 2015.

Meyer het ʼn laaste, desperate kans om reg te maak.

Foto: Anton Geyser

 

Related Posts

« »