GAAN DIE FLUITJIE DIE BOKKE VROEG HUISTOE STUUR? #PaleToe

Sep 18 • General News, International, Pale Toe, Rugby World Cup, RWC 2015, World Rugby • 2723 Views • Comments Off on GAAN DIE FLUITJIE DIE BOKKE VROEG HUISTOE STUUR? #PaleToe

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

Artikel deur Simon Riekert # Pale Toe!

Foto: Anton Geyser

 

Daar is egter een faktor waaraan die spelers niks kan doen nie; die manne in die middel en hoe hulle die spel en die reëls in die Bokke se vier poel wedstryde gaan interpreteer.

 

Oor ʼn bietjie meer as 24 uur speel die Springbokke in hul eerste 2015-Wêreldbeker wedstryd teen Japan in Brighton aan die Engelse suid-oos kus.

Die hoop van ʼn nasie is weereens gevestig op hierdie groep manne wat alles in hul vermoë sal doen om die gesogte trofee huistoe te bring.

Daar is egter een faktor waaraan die spelers niks kan doen nie; die manne in die middel en hoe hulle die spel en die reëls in die Bokke se vier poel wedstryde gaan interpreteer.

ʼn Paar internasionale skeidsregters het die afgelope paar jaar vyande gemaak van Springbok ondersteuners, niemand meer as die Nieu Seelander Bryce Lawrence nie. Lawrence was grootliks verantwoordelik vir die Springbokke se 9-11 verloor teen die Wallabies in die Wêreldbeker-kwarteind wedstryd in 2011. Ondersteuners was veral vies oor sy gebrek aan die dissiplinering van die afbreekpunte en die Wallaby flank, David Pocock se spel.

Wat nog meer kommerwekkend is as sy erkenning dat hy droog gemaak het, is die feit dat hy bevestig het dat daar inmenging van “buite” was voor die wedstryd.

“I went into the game knowing it was a massive match and I didn’t want to overly influence the outcome and that was in the back of my mind. The way that transpired was I didn’t make decisions and if I had my time again I would just go out there and do what I normally do, which is just referee and back myself.

“I had four really good games at the World Cup and then I had that. I had outside pressure from pretty senior people from rugby countries behind the scenes that really created my mindset of lacking confidence to deliver what I normally do”, het hy aan die plaaslike koerant, The Bay of Plenty Times gesê.

ʼn Tweede skeidsregter wat draaie om Springboktoeskouers sal loop is die Fransman Romain Poite. Hy het in plaaslike onguns verval na die rooi kaart teen Bismarck du Plessis in die Toets teen die All Blacks in 2013. Die Fransman was weer daaraan toe in die Toets teen die Argentyne toe die Poemas met ʼn vinnige tikskoppie gaan druk het terwyl daar nog mediese personeel op die veld was.

Om beide die skeidsregters die skuld te gee vir die verloor, is naïef aangesien die Springbokke in die 2011 wedstryd teen die Wallabies gesukkel het om ʼn uitklophou te plant en teen die Poemas was ʼn tuis verloor doodgewoon skokkend.

Aanstellings om by die Wêreldbeker te blaas, word deur die Wêreldbeker se amptelike keuringskomitee gedoen. Die komitee se voorsitter is John Jeffrey, voormalige Skotse blaser, Lyndon Bray (SANZAR), Andrew Cole (SANZAR), Donal Courtney (Europese Professionele Klubrugby), Clayton Thomas (Ses Nasies) en Wêreld rugby se hoëprestasie skeidsregter bestuurder, Joel Jutge.

Die eerste wedstryd, op 19 September is teen Japan en word deur Jerome Garces geblaas. Die 41-jarige Fransman is blykbaar een van die fiksste skeidsregters op die paneel. In November 2014 het hy onder kwaai kritiek deurgeloop na sy vertoning in die wedstryd tussen die Springbokke en Italië. Die probleem was die veelbesproke afbreekpunte. Met die verwagte oormag van die Springbokke se lostrio teen die Japan, sal dit die Bokke loon om vroeg in sy goeie boekies te kom.

Die tweede wedstryd, op 26 September is een wat potensieel krapperig kan raak weens die fisiese aard van die Samoane se spel. Die wedstryd is in die hande van die Engelsman Wayne Barnes. Die 35-jarige advokaat was een van die jongste internasionale skeidsregters ooit, toe hy in 2001 aangestel is. Hy het sy eerste Toets in 2006 geblaas, maar sy reputasie het ʼn knou gekry met die uitskakel van die Franse in die 2007 Wêreldbeker. Luke McAlister het ʼn geelkaart gekry en ʼn flater met ʼn vorentoe-aangee het gesorg dat die All Blacks uitgeskakel is in die kwarteindstryd. Vir duidelike redes is Wayne Barnes die Bryce Lawrence van Kiwiland.

Marius Jonker meen dat Barnes ʼn liggewig is, derhalwe word hy vroeg ingespan. Die Bokke hou van hom, veral Pat Lambie wie die Nieu Seelanders in die laaste Drienasies-wedstryd kon bêre met ʼn strafskop.

Die derde wedstryd, op 3 Oktober is teen die Skotte en Nigel Owens hanteer die wedstryd.

Hy is die enigste Walliese skeidsregter in vanjaar se kompetisie en Jonathan Kaplan meen dat hy die regte skeidsregter vir hierdie allerbelangrike wedstryd is. Alhoewel hy nie baie gewild is onder Suid Afrikaanse ondersteuners is nie, sal die Springbokke hom veel eerder verwelkom as iemand soos Romaine Poite, die kontroversiële Fransman. Hy is geneig om aan spelers voor te skryf hoe om te speel, wat irriterend kan wees op en van die veld af.

Die laaste poel wedstryd is tussen die Bokke en die VSA op 7 Oktober. Pascal Gauzere is die skeidsregter daar.

Hy is die tweede Franse skeidsregter in vanjaar se toernooi en blaas internasionale wedstryde vir die afgelope 10 jaar. Hy het nie ʼn goeie reputasie na die 2014-Viernasies Toets tussen Nieu Seeland en Argentinië nie en hy sal wil verbeter by hierdie Wêreldbeker. Die Bokke se kapteinskap en senior spelers sal by hierdie wedstryd hul stempel moet afdruk, veral omdat die Amerikaners fisies en geniepsig kan raak.

Daar wag dus ‘n reuse taak op Jean de Villiers, Victor Matfield en ander senior spelers om nie net hul posisionele ervaring nie, maar ook sterk leierskap vinnig en deeglik in elke wedstryd af te dwing.

Die Bok ondersteuners het eenkeer die hartseer van 2011 se teleurstelling verwerk. Nóg ‘n Bryce Lawrence-soort teleurstelling mag dalk net een te veel wees vir ‘n land wat smag na Springbok sukses.

Related Posts

« »