IS JAKE WHITE NABY DAARAAN OM DIE PERFEKTE BULLS SPAN TE KIES?

Sep 4 • General News • 952 Views • Comments Off on IS JAKE WHITE NABY DAARAAN OM DIE PERFEKTE BULLS SPAN TE KIES?

1 Star2 Stars3 Stars4 Stars5 Stars (No Ratings Yet)
Loading...

“Dit maak nie saak teen wie ons speel volgende week nie, die harde werk is reeds gedoen.”

Dit was die woorde van die huidige Curriebeker-kampioenspan se hoofafrigter, Jake White, Vrydagaand na die span gekwalifiseer het vir die eindwedstryd in vanjaar se kompetisie.

Die Bulls was onkeerbaar, veral in die eerste helfte toe hulle reeds die skrif aan die Uniegebou se mure kon skryf: 38-12.

Die eindtelling van 48-31 is ’n ware weergawe van die span se potensiaal om nog beter te doen, beter te word en elke beskikbare trofee in die kas in Kirknesstraat te vertoon.

“Dis ’n jong span, hulle moet leer om te verloor en wen en aanpas by die speelstyl wat hulle kompeterend maak,” was White se opmerking vroeër in die week.

White hamer ook gereeld daarop dat sy beplanning dit insluit dat die Bulls in die United Rugby Championship wat binnekort begin, kompeterend moet wees.

Vrae oor die Bulls se kultuur om “sukses te koop” is ook vandeesweek gevra, te midde daarvan dat die Suid-Afrikaanse spanne binnekort hul staal sal moet toon teen die beste klubspanne in die Noorde en ’n span soos die WP droëbek staan, die Lions blitsvinnig sal moet hergroepeer en die Sharks saam met die Bulls die Suide se vaandel sal moet dra.

“Elke span het die geleentheid om sestig miljoen (rand) te spandeer om ’n groep bymekaar te sit, hoe jy die sestig miljoen spandeer is jou eie keuse, ek is bevoorreg dat die spelers deel wil wees van die kultuur hier by die Bulls, as dit beteken ons gaan nog meer suksesvol wees is ek nog blyer, ek wil al die beste spelers in die wêreld kry om vir die Bulle te speel en elke jaar probeer om alles te wen.”

En dan sluit hy af met die volgende, “is dit nie eintlik wat die doelwitte van elke span in die wêreld is nie?”

So, wat die sosiale media, die leunstoelondersteuners en die “kenners” ook al besluit oor die Bulls, die kultuur, Jake White en Loftus: dit pla nie die grootkoppe van die huidige mees suksesvolste rugbyspan in Suid-Afrika se spelers, afrigters en die administrateurs nie.

Vir Jake White is net die beste goed genoeg en hy is vinnig op pad om daardie groep spelers bymekaar te maak, kom wat wil.

 

-Simon Riekert 

JAKE WHITE, SUKSESVOLLE HOOFAFRIGTER VAN DIE VODACOM BULLS. FOTO: GALLO IMAGES

Related Posts

« »